Op die duiwel se voorstoep

0
18
police.png
Faith Mazibuko, die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het gister gesê dat mense nie die polisie en die verkeerspolisie in die versoeking moet lei nie. Sy sê dit is algemene kennis dat beamptes omgekoop word. Hulle word soms selfs net ‘n koeldrank of iets te ete aangebied.
 
‘n Mens kan nou hier uit die hoogte sê dat die beamptes sterker as dit moet wees, en dat hulle nie omkoopgeskenke sal aanvaar as hul enigsins integriteit het nie. Tog is daar ook waarheid in dit wat Mazibuko sê. Selfs diegene wat dink dat hulle sterk etiese reëls aan hulleself stel, kan swig wanneer daar druk is. ‘n Mens moet jouself nooit oorskat nie. Daar is mos ‘n spreukwoord wat sê dat ‘n mens nie op die duiwel se voorstoep moet speel nie. Daar is ook ‘n ander spreuk wat sê dat ‘n mens nie onnodig in die duiwel se winkel moet rondloop nie, want ‘n mens kan so maklik iets in sy winkel koop. Dit beteken maar net dat jy jouself nooit onnodig in die versoeking moet stel nie.
 
Daarom flankeer jy nie met iemand anders as jy reeds getroud is nie. Daarom sorg jy dat jy behoorlik boekhou van geld as jy byvoorbeeld die mense in jou kantoor se teegeld moet kollekteer. Daarom kuier jy nie laatnag alleen in jou studeerkamer op die internet rond as jy sukkel met pornografie nie. Daarom stuur jy nie suggestiewe eposse aan iemand anders nie. Daarom maak jy nooit telefoonoproepe waarvan jou lewensmaat nie mag weet nie. Kortom: Wees altyd versigtig en moenie jouself oormatig vertrou nie.
Of jy nou glo in die bestaan aan die duiwel of nie, Efes. 4:27 sê:  Moenie die duiwel vatkans gee nie!