Op die voetspore van die meesters saam met Uber

Dis al donker toe ons die aand in Wenen aankom, ‘n wens wat ek al as sestienjarige uitgespreek het dat ek graag een dag hierdie musiekstad sal wil besoek. Dis winter en dis koud.

My dogter gee die lys van plekke wat ons nog voor slaaptyd moet besoek: Die begraafplaas, waar Beethoven, Johan Strauss en nog ander komponiste lê, want mamma sal nooit weer so naby aan hulle wees soos juis daar nie. Daar is ‘n musiekhuis wat beslis ‘n besoek waardig is en dan natuurlik, die operahuis, wat my versoek is. Hoe kan ek Wenen besoek en nie by die operahuis gaan draai nie?

Met min tyd tot ons beskikking, is Uber die aangewese vervoermiddel. Die Uberman dink nie dis snaaks dat ons daardie tyd van die aand na die begraafplaas toe wil gaan nie. ‘Wat makeer hierdie mense? Wat wil hulle in die donker by die begraafplaas gaan maak?’

Natuurlik is die begraafplaas toe toe ons daar kom, hoe dan anders? Ons probeer vir die Uberoompie verduidelik dat hy ons na die volgende bestemming moet neem, maar die taal ontbreek. Hy probeer die nuwe bestemming by hom inpons, maar dit wil nie werk nie. Elke keer wat ons weer vir Uber bestel, druk hy dit dood, want hy besef nie dis ons wat hom roep nie.

Uiteindelik kry my dogter ‘n slim plan: Toe sy foon piep met ons versoek, tik sy hom op die skouer en met lyftaal en opgewonde gesigsuitdrukking oortuig sy hom dat dit ons versoek is. Uiteindelik verstaan hy! Hy is sommer bly en begin tog te vrolik met ons in sy eie taal gesels.

Ons het die meesters nie in die begraafplaas gekry nie. Waar sou ons hulle in elk geval daardie tyd van die nag opspoor? Hulle was wel in die musiekhuis, want dáár word hulle lewe gevier. Wát ‘n belewenis wat dit nie! Miskien, net miskien kry ek eendag weer die geleentheid om Wenen te besoek. Wie weet?

Groetnis

Toortsie

DEEL
Vorige artikelOm tweede te wees
Volgende artikelO stryd tog!
Blogger - Toortsie
Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man woon in die Overberg en het 'n gemengde boerdery. Madelé is lief vir mense en leef die lewe voluit. Sy reis graag en geniet dit baie om in die natuur te wees. Sy is 'n uitgewer van Banting Resepteboeke en is 'n Transformasie Gebedsbediening Fasiliteerder. Sy skryf op haar blog oor alledaagse dinge, kinders, die lewe en haar verhouding met God. Besoek haar blog by toortsie.com