Op jou pos as Jesus inkom vir ’n haarsny

’n Vriendin van my vra vir my om haar nuwe haarsalon in te seën. Dit is wonderlik om deel te hê aan so ’n seremonie, want ek weet dat sy besef wat haar opdrag op die aarde is.

Ja, om besigheidsvrou te wees, maar meer nog, dat haar besigheid God se lig in die donker wêreld moet wees. Daar by haar kom mans en vroue vanuit die donker wêreld ingestap. Moeg, platgetrap, snikkend van die seer. Pimpel en pers van in goeters van die wêreld vasloop, want hulle kan nie in die donker sien nie.

Dis hier in haar salon waar sy ’n oase is, waar die mense weer kan sien, waar hulle petrol kan kry vir hulle lampies en met vrede weer die donker wêreld kan in.

Ja, Jesus kan enige oomblik kom en ons moet seker maak ons is gereed. Ek wonder wat is die kans dat Jesus kom as ons in die kerk sit? Die kans is seker groter dat Hy sal kom terwyl ons daar by die werk is of daar waar ons gewoonweg eenvoudig net die lewe leef.

As Jesus daar by my vriendin se haarsalon instap vir ’n haarsny, sal Hy die lig sien skyn en sal Hy weet: Dit is my kinders dié. Hulle lig skyn in die donker wêreld. Ek kan hulle saam met my neem, want hulle is gereed.

Ons moet ons lig in die donker skyn. Ons moet soos my vriendin erns maak met haar besigheid en ook ons lewe in God se Naam bedryf. Soos sy, moet ons seker maak dat ons liggies se batterye gelaai is, en daar waar ons gaan, vir die mense wat uit die donker aangestrompel kom, lig gee. En as dit dan Jesus is wat vir ’n haarsny kom, sal Hy vir ons daar op ons pos kry. Hy sal so gelukkig wees en dit sal vir Hom lekker wees om ons elkeen se present te gee.

Mag dit tog vir ons elkeen so wees.