Op julle merke, gereed, bak!

Liewe Persoon,

Krismis is om die draai, en Ma is reeds besig om lysies op te trek. Daar is ‘n lysie vir die gebak. ‘n Lysie vir die vleis. ‘n Lysie vir die slaai. En dan natuurlik lysies om dié lysies te onthou.

Die lysie waarin almal in die Willemse-huishouding belangstel is die een met die soetgebak op.  Bo-aan die lysie is Ma se (swaarhand) Brandewyn Kerskoek. Dié koek neem twee dae om te bak en Ma vat nie kanse nie.

Jy sien, een van drie dinge kan paniek veroorsaak: (1) daar word te veel geproe aan die vrugte wat in die brandewyn kook, (2) iemand kan aan die oond stamp, en (3) iemand kan die oonddeur in ‘n onbesonne oomblik oopmaak om te loer. Ek noem liewer nie name nie… maar “iemand” weet wie sy is.

Na die vrugtekoek gebak en afgekoel het dan word dit ast’ware in ‘n foelie-kokon toegemaak en eenmaal ‘n week met ‘n doppie skop gedokter. Ek sê vir julle, die reuk van daardie koek laat jou in ‘n tipe beswyming… (dié soort wat wêreldvrede moontlik maak, vrede tussen ‘n Bloubul- en ‘n Cheetah ondersteuner bewerk en jou waarlik vir Camilla Parker Bowles na ‘n oil painting laat lyk). Trues bob!

Die Kerskoek word opgevolg deur oorle’ Ouma Siel se soetkoekies, Hertzoggies met appelkooskonfyt en Lepelsteeltjies.  Pa se groot swakheid was altyd die soetkoekies, en hy het van hulle gehou soos sy ma dit gemaak het: sonder fieterjasies. So moet my ma byvoorbeeld ‘n glas gebruik om die deeg mee uit te druk, want soetkoekies is nie bedoel om soos sterretjies; blommetjies of hartjies te lyk nie. Needless to say  maak dié soetkoekies sommer gou ‘n blik vol (synde elke koekie omtrent so groot soos ‘n handpalm is), en Pa het altos daarop aangedring dat hy minstens tot na Nuwe Jaar moet smul.  Die Hertzoggies en die Lepelsteeltjies het ook aftrek, maar was – volgens Pa, net nie op dieselfde vlak van waardering nie.

Ek en die Juffrou het een jaar die soetkoekies met hundreds and thousands  versier en het tot omtrent middel Oktober van die volgende jaar self daaraan geëet. Pa het net geweier om sy mond daaraan te sit. Soetkoekies is ernstige besigheid.

Toe my Ouma Jannie nog geleef het, het ons altyd vla-en koffiekoekies met die handmeuletjie gemaak. Ek en die Juffrou het beurte gemaak om die deeg in die meule te voer en om die handvatsel te draai. En boeta, laat jy net té vinnig of té stadig draai…

Dié bakkery met Kersfees is so deel van my bestaan soos asemhaal, en daarom kan ek nooit verstaan hoe mense – veral oor Kersfees, met winkelkoek kan saamleef nie. Die geur van die koekies wat bak in die oond… die gaps van stukkies rou deeg… die aflek van die konfytlepel…

Oor twee weke begin my verlof, en dan is dit baktyd.

Ek kan nie wag nie!