Op reis

Mense het gekom en gaan. Sommige het swaar tasse getrek. Ander slegs ‘n reistas in die hand. Roltrappe op. Roltrappe af. Tye van haas en tye van geduldig wag. Reisigers. Almal êrens heen oppad.

Ek het my verkyk aan die mense. In die bussie is ons soos sardientjies ingedruk oppad na ons vliegtuig. Terwyl ek vashou aan die handreëling bo my kop het ek terloops gewonder wie voor my hier gevat het. Ek het geamuseerd na die man met die blink kop gekyk. Hy was verdiep in sy boek en het ongemerk heen en weer saam met die skommeling van die bus beweeg. ‘n Ou Reisiger dalk, iemand wat so gereeld vlieg dat die lughawe sy opwinding verloor het. Nog ‘n stasie, nog ‘n kantoor.

Iets van die lewe het voor my oë afgespeel. Verskillende mense met verskillende agtergronde, afkoms en eindbestemmings. Sommige op dieselfde vlug, ander se paaie wat net ‘n oomblik met mekaar kruis. Soms raak jy opgewonde oor die lewe en idees maar later raak jy dalk so vasgevang in jou eie verhaal dat jy niemand meer raaksien nie. Klim jy in ‘n bus, en klim jy later af sonder dat jy ‘n benul het wie langs jou gesit of gestaan het.

Met Kersfees om die draai lees ek die stukkie wat pleit dat God se genade vir jou nie verniet moet wees nie. Dat Hy gekom het om versoening te bring en dat Hy aan ons die taak gegee het om daardie versoeningsboodskap uit te leef. ( 2 Kor 5:19 en 6:1)

Dat ek op reis is met ‘n ander visie.

As elke jaar se kersfees net nog ‘n fees van familie, vriende,  kerskoekies en persente onder ‘n boom raak, mag dit wees dat ons soos die man met die boek raak. Net nog ‘n Kersfees. ‘n Reisiger wat vergeet het dat die reis net so belangrik is soos die eindbestemming.

Wat ‘n voorreg dat God die boodskap van hoop en versoening aan ons toevertrou het: “…sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie…”

Mag jy vandag God se reisiger wees wat lig bring op elke plekkie waar jy beweeg.

Mag Kersfees nie net 2017 se eindbestemming wees nie, maar die kragstasie waar ons nuwe krag kry vir die reis van 2018.