Op Soek Na Skoonheid Wat Duur

Ek het die somer na my eerste jaar van universiteit gewerk by ‘n Young Life kamp wat geleë was in die berge van Colorado. Die vars berglug was ‘n genesende balm vir my seer siel.

Ek het vir jare met ‘n eetversteuring geworstel en kon net nie ophou om dinge aan myself te doen wat ek so graag wou ophou om te doen nie.

Terwyl ek die een oggend gaan hardloop het, was ek oorweldig deur die pragtige skouspel voor my en ek het gestop en God geloof vir sy ongelooflike skepping; vir die berge in die agtergrond wat steeds sneeu op hul kruine gehad het, vir die pragtige veldblomme wat voor my uitgestrek het, vir die perfekte, helder, blou lug. In die middel van my lofprysing het God my oë oopgemaak om iets te sien wat ek nie voorheen besef het nie: ek sou nooit die pragtige skepping wat ek sien kritiseer nie, maar ek het die skepping wat ek in die spieël sien so maklik gekritiseer. Ek sou Hom nooit vertel dat Hy ‘n blom die verkeerde kleur gemaak het nie, of dat hy ‘n berg te hoog of te wyd gemaak het nie, en nogtans as ek na myself kyk kon ek net die foute sien.  

Hoe kon ek na ‘n veld kyk en Hom loof, en in ‘n spieël kyk en nie dieselfde doen nie?

God het my gewys dat ek my skoonheidsleidrade van die kultuur geneem het, maar daardie pad is gevul met ballingskap en hartseer, want ideale skoonheid verander konstant. Ons kan nie ons hoop vir skoonheid op die kultuur baseer nie, want dit sal verander.

Ons moet luister na die God wat ons geskape het oor wat ons pragtig maak.

Kultuur sê: Jy moet die regte klere en perfekte grimering hê.

God sê: Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Petrus 3:3-4).

Kultuur sê: Jou uiterlike skoonheid is jou mees belangrike kenmerk.

God sê: Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word (Spreuke 31:30).

Kultuur sê: Jy moet ‘n plat maag en ferm arms hê.

God sê: Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms (1 Timoteus 4:8).

Skoonheidsgiere verander, maar God se Woord bly dieselfde. Ons moet ons leidrade oor skoonheid van ons Skepper kry, in plaas van deur ons kultuur. Wanneer ons dit doen, vind ons rus en vryheid en is ons in staat om hierdie liggame wat Hy vir sy glorie geskape het, te gebruik soos ons sy prag vertoon. Mag ons onthou dat ons ‘n meersterstuk is en dat ons pragtig is omdat ons Skepper net pragtige dinge maak. Groei in die skoonheid wat blywend is.