Opgewonde oor my dorp

Ek is opgewonde oor my dorp. Natuurlik is hier ook soms ongemaklikhede, maar ek is trots op my dorp.

Bredasdorp is ‘n omgeedorp en is betrokke by baie uitreikaksies plaaslik, nasionaal en ook internasionaal.  Alhoewel hier baie verskillende denominasies is, is hier samewerking tussen soveel van die verskillende kerke.

Ons het pas ‘n interkerklike Christusfees gehad wat ‘n uitreikgeleentheid in die dorp en omgewing was en baie goed afgeloop het. Die afsluiting was ‘n interkerklike feesdiens in die NG Kerk gebou, en sjoe!, wat ‘n voorreg was dit nie om daar te kon wees nie. Die welbekende Riekert Botha was die spreker, en saam met hom op die kansel was Joseph Mgeni van die Bet-El gemeente. Die AGS het vir die musiek gesorg. As ek rondgekyk het, het ek die VGK, die NG Kerk en nog ander kerke se predikers gesien. Wat ‘n genade! Saam as dorp het ons die Here geloof. God is hier teenwoordig.

Die opeenvolgende week was Pinkster, wat afgeluit is met die Pinksterfees. Dit was ‘n ekstra spesiale fees, omdat ‘n baie groot mylpaal bereik is: Daardie dag is die VGK en die NGK amptelik saamgevoeg tot een saamgevoegde gemeente. Ek is regtig trots hierop, dis iets waaraan al vir baie jare gewerk word. Dit is ‘n groot stap in ons pad na eenwording.

Ek glo regtig dat, elke keer wat ons ‘n nuwe kerkie stig, afstig, wegbreek, ons die Koninkryk in nog kleiner stukkies knip, maar wanneer ons dit regkry om saam te werk, ons soveel meer bereik. Jan Fielies beaam dat ons eenheid nie in ons eendersheid lê nie, maar juis in ons andersheid.

Die feestelikheid duur voort en ons het voorstelling van nuwe lidmate gehad en ‘n nuwe bekeerling gedoop. Daar is beslis rede om fees te vier!

Ja, ons het nog ver om te gaan, maar as ek terugkyk, kyk ek met dankbaarheid en sien hoe ons reeds gegroei het, hoe ver ons reeds beweeg het, in afhanklikheid van God. Ek is trots en dankbaar om deel van Die Bredasdorp Gemeente van die NG Kerk en die VG Kerk te wees.

Groetnis

Toortsie