Organiseer jou huis soos dit jou pas!

0
55
organiseer

Die begin van die lente is ’n goeie tyd om jou huis in orde te kry. Ons wys jou hoe om dit in ’n japtrap te doen én op ’n manier wat by jóú pas.

Die begin van die lente is ’n goeie tyd om jou huis in orde te kry. Ons wys jou hoe om dit in ’n japtrap te doen én op ’n manier wat by jóú pas.

Op soek na meer gemoedsrus, minder spanning, meer tyd saam met jou geliefdes of selfs ’n ekstra R7 000? Dit is alles moontlik as jy net jou huis organiseer en ontslae raak van die onnodige goed wat jy opgaar.
Ja, jy het reg gelees! Volgens die Amerikaanse organiseringskenner Mary Lambert het die gemiddelde huishouding ten minste R7 000 se besittings wat geen doel dien nie en net daar rondstaan. Deur ’n lysie te maak van al haar klere het Mary byvoorbeeld agtergekom dat sy 32 T-hemde het.

Soos mense se persoonlikhede verskil, so verskil hul manier van organiseer ook. Stel vas wat is joune…

1 MINIMALISTIES

Jy voel in beheer in ’n skoon, oop ruimte. Wanneer mense kom kuier, steek jy goed agter toe deure weg. Behalwe dit wat jy op daardie oomblik nodig het, wil jy niks anders in jou onmiddellike omgewing hê nie. Vir jou is minder meer. ’n Effektiewe liasseerstelsel is belangrik. Gebruik kleure as ’n vinnige verwysing.

2 VISUEEL

Jy wil goed sit waar jy dit kan sien sodat jy nie daarvan vergeet nie. Notas en boodskappe word op prominente plekke neergesit. Jy is gemaklik daarmee om goed so deurmekaar te los terwyl jy met ’n langtermynprojek besig is. ’n Kennisgewingbord, in- en uit-mandjies en oop kartonhouers op oop rakke sal jou help om op die regte spoor te bly. Gebruik eerder gemerkte koeverte as toe lêers. Maak genoeg tyd om weg te pak en weg te gooi sodra papiere begin opgaar.

3 SENTIMENTEEL

Jy klou aan besittings vas al het dit nie meer waarde vir jou nie. Jy wil nie goed weggooi nie, want nou-nou kry jy dit dalk nodig. Gebruik tegnologie en bêre die herinnering, nie die artikel nie. Neem foto’s van goed wat jy nie regtig wil uitstal nie en gee dit dan weg. Jy sal verbaas wees hoe lekker dit is om te sien hoe ander mense vreugde uit jou weggooigoed put.
Gebruik ’n rotasiestelsel. As jy baie foto’s en aandenkings het waarvoor jy lief is en wat jy wil uitstal, kry vier bokse (een vir elke seisoen). Aan die begin van elke seisoen, kan jy ’n nuwe boks uitpak en die vorige een weer inpak en bêre.

4 NETJIES

Jy hou jouself besig deur op te ruim en te sorteer. Dis vir jou belangriker om netjies te wees as om ’n stelsel te kry wat vir jou werk. Wanneer jy met iets begin, moet jy dit klaarmaak, al beteken dit jy moet wag tot jy genoeg tyd het.
Moenie jouself flous deur te glo dat skoon en netjies dieselfde as georganiseerd is nie. As jy te veel dinge het wat ophoop, al is dit ook netjies, het dit tyd geword om daarvan ontslae te raak.

Pak dit so aan…

Gebruik ’n houer of ’n laai vir projekte waaraan jy op die oomblik werk – al die ander goed kan geliasseer of gebêre word tot jy dit nodig het.

Besluit watter funksie elke vertrek in jou huis het. Wanneer jy besluit het wat in elke vertrek moet gebeur, moet al die meubels en bykomstighede in daardie vertrek hierdie funksie ondersteun.

Kry eerstens vier kartonhouers wat gemerk is “Gooi weg”, “Gee weg”, “Maak reg” of “Verkeerde plek”. Begin sommer by die sitkamer – dis mos waar jy lekker saam met jou vriendinne kuier. Jy kan dit ook mooi maak met dinge waarvan jy hou. En onthou, dit werk goed om fokuspunte in ’n groot vertrek te skep.

As jou tyd beperk is, konsentreer op daardie dele van die vertrek wat baie deurmekaar is.
Vat aan elke item en besluit dadelik wat moet bly en wat moet gaan. Jy kan jou afvra: “Het ek dit nodig, gebruik ek dit of heg ek sentimentele waarde hieraan?”
As die antwoord nee is, sit dit by jou weggee of verkoop-hopie en gaan aan. Sodra jy ’n area afgehandel het, maak dit skoon en pak goed wat bymekaar hoort in geskikte houers.

’n Sitkamer het gewoonlik boeke, CD’s en foto’s wat, afhangend van hoe lank laas jy dit georganiseer het, ’n hele dag kan neem om reg te pak. Wees baie krities wanneer jy na hierdie artikels kyk: Gaan jy ooit in jou lewe weer daardie boek lees? Kan iemand in ’n aftreeoord nie meer genot uit ’n storie kry waarvan jy reeds die einde ken nie?

Met CD’s en foto’s kan jy ruimte spaar deur tegnologie te gebruik. Kopieer die liedjies op jou rekenaar, tablet of selfoon en verkoop die CD. Hou foto’s wat vir jou regtig betekenis het en gooi die res weg of skandeer dit sodat jy dit in elektroniese formaat het. Wat van ’n nuwe stokperdjie? Met scrapbooking kan jy al jou herinneringe op ’n kreatiewe manier berg. Daar is ook elektroniese plakboekprogramme as dit vir jou lekkerder is om dit op ’n rekenaar te doen.

• Gaar jy op, of herwin, skenk en gooi jy maklik weg?
• Het elke ding sy eie plek of laat jy dit rondlê tot later?
• Wanneer kry jy tyd om jou huis netjies te organiseer?

Kliek hier en gesels saam op ons forum.