Wanneer krisisse toeslaan, is dit jou reaksie wat tel. GUSTAV GOUS verduidelik hoe om reg op te tree en beheer te neem van enige krisis.
Hoe om effektief te reageer en op te tree in ‘n krisis
Hoe berei ’n mens jou voor vir krisisse? Jy het tog nie beheer oor ’n onverwagse krisis nie. Besluit egter wat jy daarná kan doen.
Gesindheid is een van die dinge wat jy kan beheer. Jy kan kies om ’n “slagoffer” of ’n “oorwinnaar” te wees. Slagoffers fokus op die dinge wat met hulle gebeur. Mense wat graag wil oorleef, fokus op hulle reaksie op dit wat gebeur.
Tussen die prikkel en jou reaksie lê jou vryheid: Jy het een van drie keuses as iets slegs gebeur. Jy kan toelaat dat dit jou óf definieer, óf vernietig, óf sterker maak.
Probleme het nie respek vir rang, titel of posisie nie. Hulle tref alle mense op alle vlakke van die lewe. Vir baie beteken dit die “eindfluitjie blaas” en hulle voel verpletter, deels omdat hulle die verkeerde vrae vra. Hulle vra: “Waarom ek?” in plaas van: “Wat nou?”
Jy moet dus leer om bemagtigende vrae in krisistye te vra. Vra vrae soos: “Wat moet ek doen om te oorleef?” As jy vra: “Waarom ek?” wanneer jy gewond is, gaan jy jou doodbloei. As jy vra: “Wat nou?” sal jy na ’n plek van veiligheid en heling kan kruip.
Probeer altyd eers om voorbereid te wees vir enige gebeurlikheid (risikobestuur), maar as al jou planne misluk, vra dan: “Hoe kan ek oorleef?”. Ontgin die kragtige menslike wapen wat jy in jou het, naamlik om sin uit selfs ongelooflik sinlose situasies te skep.
Jy moet uit die rol van ’n slagoffer kan klim tot in die rol van ’n oorwinnaar. Ja, jy sal vrees goed ken, maar jy sal nogtans jou geloof kan behou. Daarom sal jou omstandighede jou beïnvloed, maar dit sal jou nooit bepaal nie.
Moenie mislukking vrees nie! Ontdek hoe dit jou kan bemagtig
Skud sommer nou jou vrees vir mislukking af. Onthou, jou foute sê nie wie jy is nie, maar hoe jy ’n situasie hanteer, verklap baie van jou. Jy kan natuurlik die beste gesindheid hê, maar as jy net agteroorsit en niks doen nie, help dit ook niks.
Die meeste van die tyd fokus jy so op die krisis, dat jy nooit besef daar kan ook iets goeds van kom nie. Dis reg, ’n krisis kan vir jou ’n geleentheid skep!
Wanneer jy dus in ’n probleemsituasie is, fokus eerder op die geleentheid en nie op die bedreiging nie. Die eerste aksie wat jy dus moet neem is om te herfokus.
Baie dinge wat met jou gebeur, voel so volkome sinloos, soos die dood van ’n kind of ’n geliefde. En tog, jy kan sin en betekenis kry deur die situasie om te keer in ’n persoonlike groeikans.
Vloei eerder saam met en benut die probleemsituasies in jou lewe – moenie dit weerstaan nie. Jy moet dus herbedink. Jou lewe kry sin, nie deur dinge beter te verstaan nie, maar deur dinge anders te doen.
Kom dus weer aan die gang, maar begin hierdie slag reg. Kry ’n “begin met wat ek het”-gesindheid. Moenie wag vir beter dae of meer hulpbronne of tot alles perfek is nie. Dit gaan nie gebeur nie! Maak dus ’n herbegin in jou lewe.
Jy is nooit alleen: hoe geloof jou nuwe krag kan gee
Jy is nooit alleen: hoe geloof jou nuwe krag kan gee
Voor jy verder lees, dink gou eers aan ’n paar gevalle waar jy positiewe groei in jou lewe ervaar het as gevolg van vorige lewensrampe. Vra jouself af: As groei dan uit struikelblokke spruit, waarom bied ek soveel weerstand teen moeilike tye?
Jy moet probeer om eerder aan ’n krisis te dink as ’n struikelblok tot ’n boublok, en ’n trapklip tot ’n doel. Soos Winston Churchill gesê het: “As jy deur hel gaan, gaan net aan.”
Ek wonder baie maal hoe die seuntjie, wat die enigste oorlewende was in ’n vliegongeluk in Noord-Afrika, en albei sy ouers verloor het, die lewe gaan hanteer. As hy God ontdek as die Pappa wat hom nooit sal verlaat nie, dan sal hy dit beslis kan oorleef – al is dit met baie trane.
Meer nog as hy ontdek dat niemand teen hom kan wees as God vir hom is nie. En dat geen aardse ellende of bose mense hom van sy Vader se liefde kan skei nie.
Dalk sal hierdie seuntjie, en ons almal wat al groot trauma ervaar het, dinge beter begin verstaan as ons Johannes 17 lees, waar Jesus so mooi vra dat die Vader Sy kinders moet bewaar. Dan sal ons besef dat ons nie alleen is in ons oomblikke van intense nood nie.
Jy weet mos Paulus het in Filippense 4 gesê hy is in staat om al die hartseer dinge wat soms ook deel van die lewe is, te hanteer, deur Christus wat hom krag gee.