Ouer, beter, wyser

0
1217

Op 40 is Lindie Strydom (aktrise, aanbieder, motiveringspreker) dankbaar dat sy nooit weer haar 20-jarige self hoef te wees nie. Vir haar is daar baie meer lekker dinge aan ouer word.

Lindie se dogtertjie sê nou die dag: “Mamma, ek wil eendag ’n roomystannie word.”

Met ’n wysheid wat deur tyd en insig verfyn is, antwoord sy haar japsnoet: “Nou ja, dan bou ons vir jou die mooiste trollie, met ’n klokkie. Ons kry al die geure van die reënboog en kyk hoe ons kan help om jou die beste roomystannie in die dorp te maak.”

Met dié woorde huppel haar meisiekind tevrede weg, na die volgende droom. En Lindie glimlag oor hoe haar eie perspektief verander het. Hoe groot kopskuiwe begin gebeur die dag as jy buite die boks van ouderdom, moets en moenies begin leef.

“My vriendinne het vooraf gesê: ‘Lindie, ouer word bring ’n verligting, ’n bevryding. Jy sal sien.’”

Hulle was reg. Ek het ’n lang pad gestap van ambisie en gedrewenheid, en niks daarvan het regtig vervulling gebring nie.

Ware vervulling lê elders, het ek intussen agtergekom. In eenvoudiger dinge. In eerlik en opreg wees oor wie jy is, wat jy kan doen en hoe jy jou lewe leef.

Daar is al artikels oor my geskryf waar ek as Superwoman uitgebeeld word. Heimlik het ek gedink: “Haai, dis nou oulik. Ek hou van hoe julle my hier verwoord het.”

Dan lees my man dit en vra: “Sjoe, hartjie, wie is hierdie vrou en wanneer kom sy by ons intrek?” My antwoord was altyd: “Ag Johan, maar dis so móói en dit voel so lekker…”

Nou sê ek eerder: “Kom ons polish ’n bietjie minder.” Niemand kan hulle met ’n “perfekte Lindie” en haar “perfekte huwelik en gesin” vereenselwig nie. Dis onrealisties en intimiderend.

Mense kan baie meer uit my foute leer. As gesin het ons ook ons goeie en slegte dae, deurbrake, flops en soms ’n suksessie waaroor ons net dankbaar kan sê: “Dankie vir dié een.”

Dit het my missie geword om eerlik te wees met mense.

Sal dit nou nie lekker wees as ons mekaar kan bevry van hierdie onrealistiese wêreld en lewe wat ons nastreef nie? Kyk maar na Facebook: die plek waar ons wonderwerk-kinders het en wonderwerk-vakansies hou, saam met ons wonderwerk-mans en -kollegas.

Nee wat, ek glo nie vir een oomblik dat ons lewens regtig so blink en wonderlik is soos dit op ’n selfoonskerm lyk nie.

Vir my lê die groot kopskuif daarin dat ek altyd opwaarts wou polish. Nou poets ek eerder afwaarts. Ek wil mense aanspoor en inspireer in my gewoonheid. Ek dink eerder: “As dié gewone ma of vrou hierdie uitdaging kon baasraak of daardie probleem kon oorkom, kan ek mos ook!”

Dit is ’n verandering in denkwyse wat deur tyd en ondervinding uitgekerf is, en dit het my nuut laat dink as mens.

Vroeër in my lewe was ek geweldig selfsugtig en nogal ’n alleenloper. Daar was baie plannetjies en doelwitte, maar ek het meestal na binne toe geleef. Selfs vandag nog is ek ’n introvert, glad nie ’n massamens nie; dit word net goed weggesteek.

Die jare het my sag gemaak. Van gedrewe en taakgerig tot mensgerig. ’n Regte ou softie wat oop en na buite leef. Oop hart, oop hand, oop huis.

Daarmee sê ek nie dat ouerword ’n mens pateties of ruggraatloos maak nie. Jy gee nie boedel oor of word lui nie. Allesbehalwe. Ek woeker steeds met wat ek het, maar my ervaring is dat ek nou op ’n mooi manier rustiger in myself raak, meer gefokus en spesifiek ten opsigte van die dinge waarin ek my talente en energie belê. Ek probeer nie meer om alles vir almal te wees nie en raak nie meer op hol oor die dinge wat ek nié is nie. Dis bevrydend en plesierig.

Ambisie en dryfkrag is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Dalk moet jy jou juis uitwoed, sodat jy later kan sê: “Been there, done that… en ja, eintlik was dit maar leeg gewees.”

Dit is hoe ek dit ondervind het. Wanneer jy so rond en bont leef – probeer eers dit en dan dat, skarrel dié kant en daardie kant toe, raak betrokke by elke saak – is jy nie noodwendig effektief nie. Jy maak jouself net morsdoodmoeg.

Daarom is my belangrikste voorneme: minder dinge, dieper, beter. Ek is nog nie waar ek wil wees nie, maar dit word makliker.

Vir my beteken hierdie woorde om myself minder besig te hou met allerhande “goetertjies”, en om dit wat ek wel geroep voel om te doen, beter te doen. Met meer fokus en trefkrag.

As ek hierdie dinge net vroeër geweet het, sou dit die lewe oneindig makliker gemaak het, met baie minder wroeging.

Dink maar net aan daardie groot kwelling waarmee die meeste vroue sukkel: vorm en grootte. Toe ek nog in die TV-sepiewêreld (Egoli) betrokke was, was dit ’n belangrike ding vir my, veral in ’n bedryf waar hoe jy lyk en wat jy weeg, baie tel.

Om maer te wees was my hoofmotivering om te oefen. Nie meer nie. Deesdae oefen ek uit dankbaarheid – omdat ek bly is oor my gesondheid, oor my knieë en rug wat nog werk en dat my liggaam ’n tempel is wat ek graag wil oppas sodat dit nie verwaarloos raak nie.

Die gewigsverlies is ’n toevallige vrug, maar dis nie meer my hooffokus nie, en dit maak ’n groot verskil. Nou is dit baie lekkerder om aktief te wees, bloot omdat my perspektief en redes verander het.

Net so met die swakker selfbeeld waarmee ek gesukkel het – ’n behoefte om mooi en goed te wees in wat ek doen.

Hoe lekker dat ’n mens die stadium bereik waar jy uiteindelik net onvoorwaardelik lief kan wees vir jouself– spatare, moesies en al. Daar is ’n nuwe waardering vir my lyf. Ek sien nie meer my bene as groot, wit stompe nie, eerder as sterk ledemate wat my dra waar ek moet wees.

Jare lank wou ek hê mense moes sê: Jy is goed genoeg. Nou leef ek eerder vir Iemand ander se thumbs up. My fokus is nie meer uitwaarts nie, maar Opwaarts.

Ek ervaar hierdie radikale ommeswaai in perspektief ook wat my loopbaan betref. Op skool het ek my uitgewoed met allerhande prestasietjies wat ek nagejaag het.

Soos die “nooit afwesig”-sertifikaat. Nooit ’n dag op skool misgeloop nie (behalwe een keer in graad 1). Vir my was dit ’n groot prestasie om te kon afmerk. Dit sê mos iets van my karakter – dat ek nie sommer sal wegbly nie. Maar om te dink, niemand het ná skool al ooit vir hierdie sertifikaat gevra nie! Ek lag sommer as ek terugdink aan hoe belangrik dit vir my was.

Dis hierdie dinge wat my laat besef het: Jy werk jou lewe lank so hard aan daardie CV en getuigskrif, aan kwalifikasies en prestasies. Natuurlik het dit waarde, maar dan word jou lewe in ’n heeltemal ander rigting gestuur.

Miskien is my gedrewenheid juis toegelaat as die Here se manier om te sê: “Woed jou uit, my kind. Dalk bring dit vir jou een of ander opwinding om te kan sê: Ek. Klim. Die. Leertjie. Van. Die. Lewe.”

Ek voel dat ek nou klaar die leertjie geklim het. Dit was lekker op sy tyd, maar dis genoeg.

My fokus is om gehoorsaam te wees. Ek steur my nie meer aan wat mense sê of dink, of aan wat hulle glo ek behoort te doen of nie te doen nie. My begeerte is dat ek my energie meer spesifiek sal aanwend op dit wat vanuit ’n hemelse perspektief belangrik is.

Dit het beslis ook ’n invloed op my prioriteite, wat baie minder geforseerd is. Ek het nie meer langtermynplanne nie en wil ook nie meer my eie goed uitdink of aanpak nie.

My wens is om ’n lewe van totale oorgawe te leef. Dag tot dag, oomblik vir oomblik, wawyd wakker vir wat op my hart gedruk word om te doen.

Dit maak ook nie meer saak of die taak wat my opgelê word, klein of groot, indrukwekkend of gewoon is nie. Ek wil slegs in die slipstream inklim en deel word van dit waarmee Hy besig is. Dan maak ek ’n verskil waar dit regtig nodig is.

Dis nogal ’n belangrike besef: dat jy nie alles wat jy kán doen, veronderstel is om te doen nie. My soeke is nie meer na ’n gebalanseerde lewe nie. Ek streef eerder na ’n gefokusde lewe, waarvan balans ’n uitvloeisel is.

Dink maar aan al die e-posse wat instroom en baie gou ’n mens se dagboek volmaak as jy nie keer nie. Versoeke vir hulp, optredes of om te kom dien op ’n komitee.

Uiteindelik, in hierdie seisoen van my lewe, het die besef gekom dat ’n mens nie veronderstel is om almal te help en vir alles ja te sê nie. Soms is dit juis iemand anders se beurt en steel jy hulle oomblik as jy daardie beurt voor hulle wegraap. Daarom sê ek makliker nee, want daardie nee beteken dalk ’n ja vir iemand anders.

In my doelwitstellings pas ek dit ook toe. “Stop making choices, start making commitments,” het die sielkundige James Clear gesê. Dis waar.

Ek was altyd besig om iets te jaag, maar nou benader ek dit vanuit ’n ander hoek: deur te bou. In plaas van om al jou aandag te stort in ’n voedingskema wat eers oor tien jaar gaan werk, kyk eerder wie het vandag ’n broodjie nodig en gee aandag daaraan. Ek probeer meer fokus op die hier en nou.

Ons is geneig om groot planne na te jaag, maar dan skiet ons iewers te kort, verloor moed en val ons planne plat.

Ek het agtergekom ’n beter manier is om eerder elke dag bietjie vir bietjie te bou aan die dinge waartoe ek myself verbind het – ’n lewe van gehoorsaamheid, ’n gelukkige gesin, diensbaarheid in my gemeenskap en ’n gesonde liggaam. Dan word die doelwitte mettertyd vanself waar.

My drawwery is so ’n voorbeeld. Ek het aanvanklik vir die lekker begin hardloop, tot ek agtergekom het ek is fiks genoeg om verder te gaan en meer te bereik. Toe word vyf kilometer ’n halfmarathon – sonder om myself te druk.

Deur te bou in plaas van te jaag, kom jy baie verder.

Ek het uiteindelik vrede gemaak met my beperkings; ek vier my bates en ek is bly saam met ander oor hulle gawes en talente. Die onsekerheid oor die bydrae wat ek moet maak, oor wie ek nou eintlik is, het verander in aanvaarding.

Dit is lekker om werklik mense se sterk punte te kan vier sonder om bedreig te voel. Ek kan nou met vrymoedigheid vir iemand sê: “Weet jy, jy is regtig goed hiermee!”

Soos my vriendin wat by my huis ingestap en gesê het:”Kom ons verf jou mure groen en sit ’n geel blompot op die etenstafel vir kleur.” Binnehuisversiering is haar sterk punt, nie myne nie, daarom is dit ’n vreugde om te kan antwoord: “Ja, kom ons doen dit. Ek is so ’n plain Jane, maar jy het ’n oog vir hierdie tipe goed.”

Dit is ongelooflik bevrydend om mense te kan opbou in plaas van om bedreig te voel deur die dinge wat hulle beter kan doen as jy.

Met my eie kinders wat nog jonk is, sien ek die behoefte hieraan gereeld raak. As ouers en kinders is ons nog so broos op hierdie gebied. Kinders word gedruk om te presteer en allerhande buitemuurse aktiwiteite aan te pak… met vrees as die onderliggende dryfveer. Daardie ingesteldheid van: Ek moet jou so ’n bietjie afdruk, sodat ek beter kan doen en ’n klein koppie voor kan wees in hierdie lewe en land waar ons nie weet wat van ons gaan word nie.

Iewers in mens se ouer en wyser word, kom daar ’n dag dat jy sê: “Maar as U ons roep vir ’n spesifieke taak, is U die een wat ons toerus.” Dan maak dit nie meer saak by watter laer- of hoërskool, waar of wat ons kinders gaan studeer of hoeveel prestasies op jou kerfstok pryk nie.

Vir my is dit ’n groot lekkerte van hierdie lewensfase. Jy kompeteer nie meer met ander nie, jy moedig hulle eerder aan om hulle volle potensiaal te bereik en uit te leef.

In dié proses kry ek meer aanvaarding oor myself ook, en kan ek meer vir ander beteken. Vir ons gesin is dit veral belangrik om die vreugdes waarmee ons geseën word, met ander te deel. Ons wil dit nie vir onsself hou nie.

In die gee en uitdeel het ek ook besef hoe belangrik dit is om dinge vir myself doen. Soms stuur ons die verkeerde boodskap uit wanneer die kinders dink dat Ma se lewe om hulle s’n draai. Dit skep die idee: “As ek flop, flop sy ook, want sy het dan alles vir my prysgegee.”

Ons drie kinders, Paul (13) en die tweeling, Hugo en Nina (10), weet al: Daar is ’n paar dinge wat hierdie mamma se skuur volhou. Sodra die huiswerk gedoen is en die kos in die oond is, trek ek my drafskoene aan en gaan hardloop om die blok. My tyd. En vroegoggende koester ek my stiltetyd. As jy ook so vroeg wakker word, gaan Ma jou nie geselskap hou nie. Die kinders verstaan dit. Hulle het hulle aktiwiteite en drome, en ek het myne.

Gepraat van drome. Voorheen, as my planne op dag twee geflop het, het my wêreld amper in duie gestort. Dit is nie meer die geval nie. Eerder: Daardie groot klip wat soms in my pad gerol word, is daar om my te help bou aan wat voorlê.

In my ouer en wyser wees, weet ek ook dat drome my kinders help om uit te sien na die toekoms, al word daar so negatief gepraat in grootmenskringe.

Soos my dogtertjie wat daaroor gedroom het om roomys vir ’n lewe te verkoop. My werk is nie om haar droom belaglik te maak nie, maar eerder om saam te droom en die moontlikhede te ondersoek.

Kinders se oë moet na bo gerig word. Ons moet die wêreld vir hulle oper en toegankliker maak.

Dit is in hierdie aspek van my huidige seisoen waarin ek die grootste vervulling beleef: om ma te wees vir my kinders, en ’n vrou vir my man.

As jy vir my sou gesê het dat ek eendag só gaan voel – dat my rol gaan wees om kruideniersware te koop en toebroodjies in te pak, en dat dit vir my lekker gaan wees – sou ek vir jou gelag het. Ons rebelleer mos teen hierdie sogenaamde rolle en verklaar selfs: “Ek gaan nooit so wees nie.” Maar toe val dinge vanself in plek.

Wat ’n voorreg om met ’n dankbare hart te kan terugkyk na die lang kronkelpaadjie wat ek tot hier toe kon stap.

Van ’n lewe wat gegaan het oor: “ek, ek, ek”, gaan dit vandag oor “my, julle en ons”. En daarin lê my grootste geluk.