Owerspel gebeur nie oornag nie

0
520
gretha_wiid.png

Geen huwelik is affair-bestand nie. Gretha Wiid vertel waar dit begin en wat die tekens van owerspel is.

Waar begin ’n affair, en wie se “skuld” is dit?

Niemand staan een oggend op en dink: Vandag is ’n goeie dag vir ’n affair nie. Nee, dit begin gewoonlik by ’n leemte, emosioneel of seksueel, hetsy binne die huwelik of in jou eie identiteit. Die probleem is ons weet nie altyd wat daardie leemte is en hoe honger ons is totdat iemand vir ons ’n stukkie brood of ’n bietjie water aanbied nie.

Wanneer jou maat ontrou was, is daar altyd die vraag: “Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek gefaal?” Die waarheid is dat nie alle mans groener weivelde soek as gevolg van iets wat hulle vrou verkeerd gedoen het nie. Soms is die huwelik bloot net seksueel of emosioneel leeg en word woorde van aandag en waardering of flirtasies die wegspringplek vir ’n affair.

Dan is daar mense wat dalk ’n redelik gelukkige huwelik het, maar in hulle eie menswees voel hulle nie goed genoeg nie. Sulke mense is dikwels nie eers bewus daarvan dat hulle met gevoelens van verwerping uit hulle kindertyd sukkel nie. Die erkenning en aandag van ’n ander persoon word dan maklik ’n lewensaar om daardie leemte te vul.

Natuurlik is daar ook die onblusbare jagters. Dis nou die PMS-manne (Power, Money, Sex). Dit is jou tipiese Tiger Woods-scenario’s, die Bill Clintons. Hulle het baie status en sukses, en is eintlik aandagvrate. Sulke affairs is meestal net fisiek en word gekenmerk deur arrogansie, beheer en selfsug. Die vrou met wie die verhoudings aangeknoop word, voel wonderlik, in haar onkunde, omdat die magtige, mooie man in háár belangstel.

Dit is hartseer dat daar ook mense is wat struikel ten spyte van ’n gesonde huwelik, ’n gevestigde identiteit en sterk karakter. Daar is moontlik geestelike oop deure in hierdie persoon se lewe as gevolg van kleintydseer en gebeure uit die verlede waarvan hy nog nie bevryding gekry het nie. Die geestelike houvas veroorsaak dan dat hy elke keer in dieselfde strik trap.

Nogtans kan ek getuig dat daar deur al hierdie hartseer tog die hoop en vaste wete is dat ongeag waar die pyn, leemte of verwonding lê, mense wel hiervan kan vrykom, en dat ’n huwelik egbreuk kán oorleef!

Die gevaarligte waarna jy moet oplet

Omdat geen mens bloot een oggend besluit om te gaan soek vir ’n affair nie, is dit belangrik dat ons die rooi ligte vroegtydig in ons eie huwelik sal raaksien. Gebruik dit as ’n barometer om vinnig te besef wanneer jy sélf ’n grens begin oortree.

Te veel mense is in absolute ontkenning oor verhoudings, en dat hulle besig is om grense te oorskry ten opsigte van die hoeveelheid kontak, intimiteit, geheime, persoonlike gesprekke en speelse aanraking wat hulle met iemand buite die huwelik deel. Ons dink maklik iets is onskuldig totdat ons op ’n dag besef ons het té naby aan iemand gekom en die grens inderdaad oorgesteek.

Alhoewel vroue nie paranoïes moet raak en te veel moet lees in ’n enkele teken nie, is daar tog ’n paar gevaarligte waarna jy kan oplet om jou baie hartseer te bespaar.

  • Jou man kom die afgelope tyd by die huis en soek altyd fout en rusie.
  • Tegnologie raak skielik baie belangrik. Hy spandeer baie tyd op sy foon op Facebook, SMS’e en WhatsApp.
  • Hy begin oogkontak vermy en raak afgetrokke
  • Daar is baie minder seks van sy kant af. En wanneer jý dit inisieer, het hy gewoonlik ’n verskoning.
  • Soms is die teendeel waar: Jou maat is baie nicer met jou. Hy koop vir jou blomme, neem jou op vakansie, koop juwele. Hy moet immers sy geheim wegsteek.
  • Jou man doen skielik meer moeite as gewoonlik met sy voorkoms en is gepla oor sy gewig.
  • Jy kan nie jou man deur die loop van die dag opspoor nie en hy is vaag oor waar hy was. Hy antwoord glad nie sy foon nie en sê dat sy foon per ongeluk op silent was.
  • Hy het ’n nuwe gewoonte om dadelik te gaan stort sodra hy by die huis kom.
  • In sommige gevalle waar paartjies die Here dien, sal die maat wat ontrou is, begin rebelleer teen die kerk en verskonings soek om nie te bid of Bybel te lees nie.

Hoe gemaak as daar wel ’n affair is?

Daar bestaan baie wanopvattings en mites wat mense oor affairs glo. My en Francois se oë het oopgegaan nadat ons self die pad van genesing moes stap. Mense glo maklik dat buite-egtelike verhoudings nie iets is waaroor jy jou hoef te bekommer as jy al lank getroud is nie. Hulle dink dis vir jonger mense. Maar niemand is ooit lank genoeg getroud om by daardie waarborg uit te kom nie.

So, wat nou? As jy onseker is of jou man wel ’n affair het, vra die Here. Hy sal die waarheid vir jou na die lig toe bring. Spandeer genoeg tyd met die Here om jou hart voor te berei vir wat ook al kan gebeur. Veg intussen aktief vir jou huwelik – in liggaam, gees en siel. Poog om jou maat se liefdestenk so vol moontlik te hou sodat hy nooit met ’n halwe een hoef rond loop nie. Vra God om jou te wys waar sy leemtes is en wat sy behoeftes is. Fokus dan daarop.

Al is die pad van egbreuk ook hóé seer, ek kan getuig dat daar tweede kanse is. Genesing is moontlik!

Geskryf deur Gretha Wiid