Paartjies wat saam pret het, hóú

0
13

Wat is die verskil tussen ’n goeie verhouding en ’n voortreflike een?

Blykbaar is dit die hoeveelheid pret en humor wat julle in jul saamwees deel. Paartjies wat saam lag, het gelukkiger verhoudings

Hoe meer julle saam kan lag en speel, hoe gesonder is die verhouding, verduidelik huweliksnavorser Dr. Howard Markman in sy boek Fighting for Your Marriage. Maar Dr. Markham is nie die enigste wat tot hierdie insig gekom het nie. Michael en Renette Unsworth kan hulself nie ’n huwelik sonder pret voorstel nie. Na amper agtien jaar van getroud wees en drie kinders later, is hul huwelik beter as ooit, sê dié pastoorpaar van die Bikers Fellowship in Gauteng.

“Ons is goeie maats, bestee elke moontlike oomblik saam, maak genoeg tyd vir verrassings, uiteet, fliek en lekker speel.” 

Doen dinge saam

Mike is van jongs af ’n biker en met sy passie vir motorfietse het hul bediening ook in daardie rigting beweeg. “Omdat ons sulke goeie maats is, was dit maklik om ons belangstellings te laat saamsmelt,” sê Renette. Sy het deesdae haar eie motorfiets en geniet die oop pad net soveel soos haar man. En hy was bereid om saam met haar dansskoene aan te trek en by haar belangstelling in baldans betrokke te raak.

So tien jaar gelede het Mike ’n werk gehad wat hom baie besig gehou het. “Ons het besef dat ons verhouding nie is wat dit moet wees nie en dat ons dit moes regstel.” Vandag weet hulle: “Saamwees hou die vuur tussen ons warm, maak ons goeie ouers, ontspanne vriende en lekker om mee saam te werk.”

DINK HIEROOR: Is tyd saam vir julle ’n prioriteit? As een van julle (of albei) gedurig verskoning moet maak omdat iets “belangriker” voorgeval het, geniet die verhouding nie voorkeur nie. ’n Verwaarloosde huweliksverhouding gaan ook ander vlakke van jou lewe beïnvloed.

Skep pret in julle verhouding

“Speel is die ligter kant van die lewe. Ons moderne leefwyse het so vinnig en ernstig geword dat daar net tyd is om sukses na te jaag. En wat bly in die slag? Die ruimte om mekaar met ’n houer room aan te val of met watergewere te spuit. Daardie broodnodige pret en plesier om in die rotresies te kan oorleef,” glo Mike.

Vir hulle is die definisie van pret “om die beste te maak van elke oomblik saam, om mekaar te waardeer, lief te hê en lekker saam te lag”.

“Om ’n oplossing te vind moet belangriker wees as om gedurig fout te soek wat ons kan verhoed om vriende te wees,” verduidelik hulle.

Soms vra dit dat ’n mens ook die pret in ’n minder aangename situasie moet kan raaksien. Dit het Renette geleer toe hulle ’n paar jaar gelede met hul karavaan en tent buite Orkney gekamp het.

“Die ergste storm het ons daardie nag getref. Twee-uur in die nag het ek aan die pale gehang om die tent bymekaar te hou. Alles was nat en vol modder. Ek het net daar gestaan en huil totdat Mike sy arm om my gesit het: ‘Toe maar, my skat, ek sal ons hier uitkry,’ het hy soos ’n wafferse held beloof. Vandag is dit een van ons beste herinnerings en ons vertel steeds laggend die storie van the holiday from hell.”

DINK HIEROOR: Vra jouself af: Hoeveel pret is ek om mee saam te leef? Dink dan aan ten minste twee maniere waarop jy die week vir jou maat lekker kan maak.

Mors julle energie op mekaar

Sommige verhoudings se fut is binne die eerste paar jaar uit. Dan wonder man en vrou wat hulle ooit tot mekaar aangetrek het. Gee jou huwelikg ’n kans deur ’n definitiewe besluit te neem om elke dag te laat tel, om vir mekaar lief te wees en dit pret te maak.”

Hulle probeer ook om elke verjaardag, Valentynsdag en huweliksherdenking interessant te hou. Soos onlangs met Renette se verjaardag toe Mike haar met ’n romantiese ete by ’n gastehuis verras het. “Mike het die hele ete vooruit bespreek en bestel. Die kelners het net een gereg na die ander gebring en toe ek wou huis toe gaan, is ons na die presidentsuite geneem om te oornag. Hy het selfs agter my rug my klere ingepak. Tien uit tien vir my man!”

DINK HIEROOR: Hoe gereeld raak julle kort-af en geïrriteerd met mekaar? Julle het waarskynlik albei ’n behoefte aan meer opwinding in die verhouding, maar die een wag vir die ander om inisiatief te neem. Wees jy ’n slag eerste om jou maat te bederf …

Vertel hom ’n grappie

Om ’n sin vir humor te hê was al die behoud van menige verhouding. “Ons kan baie maklik uitbars van die lag,” vertel Renette. “Ons weet nie altyd waaroor ons lag nie, ons skater net en dit is so lekker. Mike soek altyd die humor in alles. Hy sal deur die huis hardloop met kussings en ’n kussinggeveg met my en die kinders begin of hy sal almal kielie.

DINK HIEROOR: Is jy so ernstig en liggeraak dat jy glad nie meer die snaakse sy van ’n situasie kan waardeer nie? Neem jouself minder ernstig op en as jy sukkel om dit alleen reg te kry, neem ’n komedie uit of kuier saam met vriende wat jou lagspiere laat kry.