Pad na vreugde!

So almal het ‘n verlede, maar wat maak jy daarmee?

Realiteit is dat niemand van ons regverdig in onsself is nie, almal maak foute, en almal wens dat hulle sekere situasies anders kon hanteer het of in sekere omstandighede, met meer wysheid kon optree. Maar water onderdeur die brug, is water onderdeur die brug en die verlede is net dit.. die verlede! So, regverdig dit die verkeerd wat gedoen is? Of beteken dit dat ek nou maar net so kan aankarring? Nee. Net ‘n dwaas leer nie uit sy foute nie.

VANDAG is ’n pragtige geskenk aan jou gegee! Vandag staan nie in die skadu van gister nie, maar kan jou nuwe begin wees, sonder óú trane! “Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid. Hulle sal wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe groot Hy is.”

Jesaja 61:3 DB

Die pad na vreugde, begin wanneer jy kies om nie net totsiens te sê vir dit wat agter is nie, maar wanneer jy kies om jouself permanent los te maak daarvan. Die probleem is egter dat ons baie maal geneig is, om net tydelik afskeid te neem van die verlede, en elke nou en dan opeindig om net gou-gou weer daar te gaan inloer of selfs erger, weer by die verlede te gaan intrek (afhangend van hoe lank die bui duur)!

As dit jy is, wil ek jou vandag aanmoedig! Pak jou tassies en neem slegs die waardevolle lewenslesse wat jy geleer het, met jou saam. Los al daardie begrafnisklere, mislukkings en teleurstellings agter. Sluit die deur toe en gooi die sleutel weg!

Gee dit vir Jesus en laat Hy jou van binne genees. Jy is waardevol vir Hom. Jesus het vir jou aan die kruis gesterf en daarom kan jy vandag nuut begin, met feesklere inruil vir die begrafnisklere van die verlede!