Pak in om mooi te lyk met vakansie

0
33
tanya_fourie.jpg

Sakevrou en gastehuiseienaar Tanya Fourie het as internasionale model vir dekades uit ’n tas geleef. Sy weet hoe om met min mooimaakgoed fantasties te lyk.

AS EK WEGGAAN, PAK EK ALTYD ... vogroom in. Al gebeur wat ook al, ek maak altyd seker dat ek minstens ’n bevogtiger soos Crème de la Mer in my tas het. Dit is wonderlik wanneer jy op reis is, want jy het in elk geval dan nie veel om te doen nie. Jy sit dit mildelik aan voor jy vertrek. Wanneer jy by jou bestemming aankom, lyk dit asof jy so pas ’n spa-behandeling gehad het.

EK KOOP GRAAG ... DERMALOGICA en kry dan gewoonlik monsters by. Dit is fantasties as jy weggaan, want dit help jou om min goed in te pak. Lig en slim inpak maak dit baie lekkerder om te reis. Met die gratis produkmonsters het jy ’n reiniger, vogroom en oogroom in hoeveelhede wat presies reg is vir een keer se gebruik. Boonop kan dit nie uitloop of mors nie. Ek noem my grimeersakkie my 911- noodhulptassie, want daar is slegs maskara, oogomlyner, blosserpoeier en onderlaag in.
 

MY BESTE SKOONHEIDSWENK AS JY WEG VAN DIE HUIS AF IS … Ja, ek weet dis voorspelbaar om sonskerm te dra. Ek dink mense het die boodskap al so baie gehoor, hulle steur hulle nie meer daaraan nie en besef nie dat dit die heel belangrikste mooibly-item is nie. Sonskermroom is die rede dat ek nie nou ’n 100 jaar oud lyk nie.
 

DIE EEN SKOONHEIDSPRODUK WAT EK ALTYD IN MY HANDSAK HOU … is lipglans. Dit bly iets waarby ek nie kan verbyloop nie. Dit lê gereed in my handsak soos ’n geheime wapen! Mense kyk na jou mond, en dit is reeds ’n uitdaging dat dit wat uit my mond kom, mense gelukkig moet maak. Om positiewe woorde uit glansende lippe te spreek behoort die boodskap goed oor te dra! As jy moeg lyk, kikker lipglans jou gesig dadelik op.

Tanya se foto deur Gerda Genis met vergunning van Outlaws modelagentskap. Produkfoto verskaf.

Geskryf deur Ryno Mulder