Pak jou stewels vir jou reis van moederskap

Soos my dogtertjie mevrou-mevrou speel, sit ek en verkyk my aan hoe ons al van kleins af met ons poppies speel en ‘n interne moederinstink van vroeg af ontwikkel.

Sy draai haar poppie styf toe in ‘n kombersie, sit haar in die stootwaentjie en fluister saggies “mamma is lief vir jou” en soos sy met haar plastiek hakskoene klik-klak in die gang af loop roep sy “Ek gaan gou shopping”. Vir meeste van ons wil ons ‘n mamma wees van vroeg af en ons besef nie dat die reis na moederskap nie altyd so glad verloop soos die N1 oppad Karoo toe nie. Nee, dis soms meer soos die staproete in die Drakensberge. Vol klippe, stywe opdraendes en so nou en dan ‘n besering of twee.

Die afgelope paar jaar het ek met verskillende mamma’s te doen gehad wat almal op hulle eie reis na moederskap is; sommige mamma’s se harte hunker na ‘n kindjie maar na talle rondtes IVF is hulle arms nogsteeds leeg. Daar is mamma’s soos ek wat wel swanger kan raak, maar die babatjies vroeg verloor, nog voor ons eens hulle kon voel groei in ons, en dan is daar mamma’s wat hulle babatjies verloor weens medies redes, die kamers reeds reg, name gegee en klere gekoop. Sommige mamma’s het hoë risiko swangerskappe en sommiges sukkel met ‘n sieklike babatjie. My hart breek as ek die stories hoor van dié mamma’s, maar die een ding wat ek by hulle almal opgelet het is hulle geloof en vrede wat hulle van God ontvang. Die vrede is well nie duidelik sigbaar wanneer die wonde nog rou is en hulle harte in stukke lê nie, maar almal het dieselfde boodskap van hoop en dat ons, ons moet gaan neerlê by God.

Dit herriner my aan n boekmerkie wat ek in my Bybel het vandat ek n klein dogtertjie was. Die storie van voetspore in die sand. Die skrywer vertel dat sy eennag ‘n droom gehad het waar sy op die strand loop en soos die gebeure van haar lewe afspeel voor haar, sien sy twee rye voetspore in die sand; haar eie en die van die Here, maar soms sien sy net een ry voetspore, juis die tye waar sy deur moeilike omstandighede moes worstel, en sy vra vir die Here, hoekom Hy nie langs haar geloop het deur dié tye nie. Die Here antwoord haar toe dat Hy haar nooit sal verlaat nie en dis juis in dié moeilike tye wat Hy haar gedra het. Wow! Ek kan nie help om vrede te ervaar wanneer ek aan hierdie storie dink nie.

Laat ons onthou dat al is die reis van moederskap soms ‘n staproete in die Drakensberge, het ons die stewels gekry sodat ons nie ons tone stamp en moeg word nie, die stewels van gebed en geloof. Mag jy altyd onthou wanneer jy alleen voel en jou hart smag na ‘n kindjie dat die Een wat alles gemaak het en die einde van jou storie sien al van die begin af, reg langs jou loop en wanneer jy nie meer kan nie, sal Hy jou dra.

Vorige artikelWen Beaucience Natural Day Cream met SPF15
Volgende artikelThe Roar en Die Lewensdoel Veldtog
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.