Parkeer soos ‘n VIP

Kyk, die tyd van die jaar is dit net skoolkonsert tyd. Die kinders is oorgretig opgewonde en die ouers is minder entoesiasties, want vir die volgende twee weke is die roetine net om gesiggies mooi te maak, hare te vleg en elke dag skool toe te ry en terug om die kinders te gaan op en aflaai.

Ek het sommer gedink om maar die paar aande in die motor te sit en wag en te lees tot dit skemer word. Die eerste aand was dit toe ook my plan om dit te doen, maar my leesvoorneme was gou in die wiele gery toe ek my stoelleuning agtertoe slaan om net gemaklik te gaan lê. So ‘n gesit en wag maak mens moeg en my oë brand al van konsentrasie op die letters wat swem in my boek. Ek sukkel om te lees toe begin ek eerder maar rondkyk om my tot ek later my oë toemaak.

Die nagwag, wat heen en weer verby my motor loop en die motors reguleer praat kliphard net buite my venster en ek wonder nou met wie praat hy so op volle volume. Ek maak my venster oop en vra vir hom: “Wat maak jy dat jy so lekker lag en gesels?” Tussen sy verbaasde gesigsuitdrukking, dat ek met hom hier uit die bloute begin gesels deur my motor se venster, verander sy gesig vriendelik en hy vertel: “Nee, ek sê nou net vir die man kyk hoe lekker lê die vrou in die kar!” en hy lag uit sy maag.

Ek vra hom uit oor sy werk en hoe lank hy dit al doen, waarvandaan hy kom en of hy kinders het. “Wat is jou naam?” vra ek? Hy antwoord spontaan “My naam is Bernie”. Ons gesels hieroor en daaroor terwyl Bernie die karre aanwys en gou-gou is die uur om om Rosie, my Graad 3 dogtertjie, weer by haar klas te gaan afhaal.  

Na tien minunte klim ek en Rosie weer haastig binne in die motor in en ek wink vir Bernie koebaai toe ons verby ry huistoe. “Dankie vir die parkering Bernie, ek waardeer dit!”. Hy glimlag tevrede en waai tot ek om die draai is.

Môre aand is dit weer so! Hierdie keer besluit ek boeklees gaan nie help nie, ek pak nou ‘n pen en ‘n skryfboek in en dan sal ek bietjie skryf. Ek hou van mense en hulle dinge, ook my eie dinge, en die stories wat ek hoor of vertel is so deel van wie ek is, maar die beste stories kom gewoontlik wanneer jy dit nie verwag nie of daaroor dink nie. So gebeur dit dat “in my motor wag” tye nie meer ‘n straf is nie, maar iets waarna ek uitsien. Ek ry af in van der Westhuisen straat en hier spring Bernie voor die motor in “Kom! Ek het jou parkeerplek vir jou gehou!”.

Tussen die honderde karre wat parkering soek het Bernie my soos ‘n VIP laat parkeer. Ek groet vriendelik en vra hoe dit gaan. Hy is gretig om te vertel van sy dag en die enigste ding wat ek nou het wat die meeste vir hom sal beteken is my tyd. Bernie maak die aande kort en tussendeur wink hy met sy flitslig na waar die motors moet ry. Hy is honger vir gesels en kort-kort kom hy uit met ‘n interresante storie. Sy oë lag saam as hy gesels en sy mondhoeke bly vriendelik. Hy kan lekker lag uit sy maag uit en dan kan jy nie help om saam te lag nie.

Die volgende aand besluit ek dat ek gaan Bernie verras. Ek laai Rosie af en ek groet Bernie terwyl hy hardloop om die verkeerskegel uit die pad te kry vir my plek wat hy so getrou vir my uithou elke aand. “Bernie, ek gaan nie nou stop nie, maar ek kom nou. Ek gaan vir jou McDondals en ‘n coke gaan koop. Sal jy daarvan hou?” Bernie se vriendelike gesigsuitdrukking slaan oor na pure verbasing, maar binne drie sekondes kom daar ‘n dankbare glimlag. “Haai dankie, sjoe enige iets sal lekker wees!” Na tien minute is ek terug en straat af is die pad besig tussen al die ouers wat kinders op en af laai en ook na die konsert kom kyk.

Bernie sien my dadelik raak en hardloop na my sodat ek kan parkeer. Hier is vir jou iets lekkers. So half verleë se hy: “Dankie hoor, maar daardie ander manne weet ook nou wat jy gaan doen het, ek sal nie nou alleen kan eet nie, so ek gaan vir hulle ook gaan hou”. Ek vra vir hom “Bernie, wie het dan vir hulle gesê ek gaan McDonalds toe?” Hy draai sy kop skeef en knip sy oog: “Ek het vir hulle gesê want ek kon nie glo dat ‘n vrou vir my gaan McDonalds koop nie.”

Ek dink by myself dat as hy nou stil gebly het kon hy in vrede geëet het en alles vir homself gehou het. Ek dink Bernie het geweet wat ek dink en se toe uit die bloute: “n mens voel so lekker as jy kan deel met die wat ook tekort het.” Bernie se besonderse mooi gesindheid het my getref en die opgewonde stappie na sy makkers, wat ook die motors aanwys, getuig van die tevredenheid waarvan hy praat.  Die volgende aand het Bernie weer my plek reg gehou, net om gemaklik te kan parkeer.

Hy bederf my en begin nou om met Rosie ook te gesels en grappies te maak soos ons in die skoolgronde instap. Hy is ‘n optimis en ‘n mens voel lekker as hy met jou gesels. Ek kon nie help om te dink aan hoeveel juwele ons net by verbystap, sonder om te weet wie en wat hulle is, hoe hulle dink en watter wyshede hulle in hulle binneste dra. Soms is dit die mense wat jou hart onverwags omdop, jou hart aanraak of jou siel kos gee.

Dit is dalk net om tyd te maak om te luister na iemand nederig of vol wysheid wat ons volgende tree beinvloed na iets positief of ons lewensuitkyk verander, wanneer ons tyd maak om te luister.  Bernie lag, en nou nie net as ek om die draai kom nie, maar elke keer as ek vertrek ook. Hy groet soos ou vriende en waai vir my sodra hy my motor sien aankom.

Dan sien hy my elke aand af, soos iemand wat van ver af kom kuier het en nou gaan vertek. Hy laat my welkom voel, tuis voel in my eie buurt en sy vreugde is juis om dit goed te kan doen.  Ek was onlangs by een van die rykste mense aan huis met die mooiste nuut geboude huis, yslike glasdeure en groen grasperke en groot balkonne met mooi uitsigte en rotspoele, maar die manier waarop hulle jou laat voel het was netso koud soos die ysblokkie in jou wynglas.

Daar sit meeste mense maar almal eintlik maar alleen tussen die ander en sip aan hulle wyn omrede dit sosiaal aanvaarbaar is en dit is hoe almal dit doen. Ek sit veel eerder langs Bernie en drink coke en lag, leer en beleef die stories in sy hart. Sy entoesiasme is aansteeklik en die lewe is ‘n fees al is dit nie die norm as jy arm is nie, Die lewe vir hom is om te deel, al het jy net een.

Die verantwoordelikheid tussen die tydmaak vir mense se harte raak soms meer belangrik as die harte self. Bernie se hart kon blom, myne ook en elke keer as ek nou in van der Westhuisen straat afdraai sal ek dink aan Bernie se hand wat vir my waai terwyl hy my opgewonde groet. Bernie het my laat voel soos ‘n VIP en sy spore lê duidelik op my pad.

Vorige artikelKyk weer om
Volgende artikelDie stem in my hart
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.