Pas julle 2 nog bymekaar?

0
30
pas_bymekaar.jpg

Jy het aanvanklik gedink hy is Die Een, maar nou twyfel jy al hoe meer.

Ontspan, sê Dr. Robert Epstein, jy kan leer om vir enigeen lief te word. Nes jy aan jou loopbaan, finansies en aftrede werk en dit beplan, moet jy met jou liefdeslewe maak.

Volgens navorsing groei huweliksmaats in vooraf gereëlde huwelike se liefde oor die jare, waar “verliefdes” wat trou, se liefde mettertyd verflou. Epstein gee gelukkig ook vir jou sewe huweliksvaardighede wat jy kan ontwikkel om jou eie huwelik ’n hupstoot te gee.

Ons het vir Ds. Johan Beukes, en sy vrou Huibreth (30) gevra om Epstein se teorie in hulle eie huwelik te toets. So het dit gegaan:

Hoe meer julle praat, hoe beter

Leer om te luister en weet wanneer om stil te bly. En deel jou gedagtes en gevoelens op ’n eerlike manier. Jou maat moet gemaklik met jou kan gesels.

JOHAN: Ek dink Huibreth hoor as ek haar iets vertel. En ek verstaan meestal wat sy bedoel. Maar soms is sy totaal onverstaanbaar. Ek dink nie ons is perfek nie, maar voel gemaklik by mekaar.

HUIBRETH: Ek dink Johan hoor wat hy wil en onthou wat hy wil! En hy sê graag vir my wat hy dink. Tog kan ons oor enigiets lekker gesels.

As julle baklei …

Bly gefokus op die onderwerp en bly in die hede – los die ou koeie in die sloot! Vergewe, vra om verskoning en weet wanneer om eers ’n afkoeldraai te gaan stap.

JOHAN: Ons baklei baie minder as aan die begin van ons verhouding. Maar ons is nie bang om te praat as iets pla nie.

HUIBRETH: Johan vergewe my maklik as ek hom net eers tyd gee om te bedaar. Daardie stiltes van hom is vir my die ergste – hy hou nie van konfrontasie nie.

Dis belangrik om mekaar goed te ken

Naas kommunikasie, wys kennis van mekaar julle gee om. Dit help julle ook om beter na mekaar se behoeftes om te sien.

JOHAN: Huibreth is mal oor aardse kleure … maar haat wildsvleis. ’n Rustige, slaperige, eterige vakansie by Morgansbaai in die Oos-Kaap lê na aan haar hart.

HUIBRETH: ’n Dag in die natuur met lekker kos, goeie wyn, goeie sjokolade, en natuurlik my geselskap, is Johan se idee van “perfek”.

Wees lief vir … JOU!

Jou lewensmaat moet bydra tot jou gevoel van sekuriteit. Daarom moet hy goed na homself kyk – sodat dit darem lyk of hy beplan om jou vir lank by te staan!

JOHAN: Huibreth (probeer) gesond eet en oefen gereeld. Ek kon beslis nie vir ’n beter vrou gevra het nie. Sy ondersteun my en bly kalm in ’n krisis.

HUIBRETH: Johan oefen hard en kyk regtig mooi na homself. Ek voel beslis veilig by hom en kan nie wag om in die middae huis toe te gaan nie, by hom is daar geen stres nie.

Word ʼn beter jy

Ken jou sterk en swak punte en probeer altyd verbeter. Weet ook hoe om onaangename gebeure in ’n positiewe lig te sien.

JOHAN: Huibreth het soveel sterk punte … en sy is bitter sexy! Hoewel sy tog soms te veel aan haarself twyfel. Maar sy weet dit en werk daaraan.

HUIBRETH: Johan is selfversekerd, lojaal, ambisieus, opreg en snaaks! Maar hy kan lekker ongeduldig raak. Ek dink hy weet dit en werk daaraan … maar dis nog nie beter nie!

Romanse bo!

Gee om oor hoe jy jou maat laat voel. En sorg dat jy vir jou maat aantreklik bly. 

JOHAN: Ek probeer soms romanties wees, al dink Huibreth nie so nie! Maar al slaag ek nie altyd met die romanse nie, dink ek sy waardeer my egtheid. Ek is weer mal oor haar sagte gefokusdheid op die dieper dinge in die lewe.

HUIBRETH: Ek dink ek vervul Johan as vrou … dalk sou hy wou hê ek moet meer akademies wees, en meer intellektuele gesprekke met hom hê. Maar as hy kon, sou hy beslis wéér met my getrou het!

Warm onder die kraag?

As jy onder moeilike omstandighede kan kalm bly, sal jy jou maat beter kan ondersteun en liefhê.

JOHAN: Hoewel Huibreth meestal kalm is, weet ek sy stres wanneer sy meer begin eet, emosioneel raak en maagpyn kry. Sy haal dit nogal op my uit!

HUIBRETH: Ek dink ek stres die meeste – oor enige nonsens. Johan probeer om dit vir my beter te maak, maar soms maak sy moeilike vrae dit vir my erger.

Nadat Johan en Huibreth mekaar se kommentaar gelees het, was hulle heel beïndruk met mekaar. “Dis ’n goeie weerspieëling van ons huwelik,” het Huibreth gesê.

Dit lyk of Epstein met sy sewe huweliksvaardighede iets beet het, dalk selfs met sy anyone-goes-teorie. Jy kan die vaardighede aanleer om gelukkig getroud te wees.