Pasop dat jy nie stagneer nie!

805

Jou brein is soos ’n valskerm – dit werk beter as dit oop is. Om meer kreatief te kan wees,  moet jy jou gedagtes ontvanklik hou vir nuwe en onbekende dinge.

Jy sal doodgaan as jy nie daagliks “nuwe” kos eet nie. Tog is jy tevrede daarmee om dieselfde gedagtes oor en oor te dink.

Ons is geneig om lui te word in ons denke. Dis soos wanneer ’n mens vloeistof in ’n tregter gooi – dit sal altyd dieselfde voorspelbare pad volg.

Al het jy ál die bestanddele vir kreatiwiteit, sal geslote denke altyd jou kapasiteit vir werklike kreatiewe verwesenliking beperk.

Het jou manier van dink so voorspelbaar geword dat wanneer jy ’n probleem teëkom, jy altyd deur dieselfde denktregter gaan? Word eerder ’n innoverende denker wat jou eie sukses skep.

Ons kreatiwiteit word soms deur vooropgestelde idees gekniehalter. Ons kan net kreatiewe vernuf aanleer as ons verskillende alternatiewe oorweeg, ontvanklik is vir verrassings en geleenthede in plaas van probleme sien.

Is jou denke deur vooropgestelde idees aangetas? Wees eerlik hieroor en probeer dan om jou houding te verander.

Dis glad nie so moeilik nie. ’n Mens ontwikkel die vermoë om oorspronklik te dink as jy tyd daarvoor maak om aan baie idees te dink. Jy kan dus elke dag van jou lewe oorspronklik wees.

Kyk ’n slag verby die gewone en sien die ongewone dinge raak. Vergeet daarvan om in te pas en moenie bang wees om uit te staan nie. Moenie terugdeins vir “wilde” idees nie. Jy kan dit altyd later weer “tem”.

Wees egter gewaarsku: Dit verg durf en waagmoed om vars te dink. Mense sal jou soms openlik kritiseer en teenstaan. Jou idees kan selfs gesaboteer word!

’n Oop gemoed behels dat jy nie net begin met wat jy weet nie, maar met wat jy graag wil leer. Moenie krities wees nie. Sien die moontlikhede in elke terugslag. Wees gewillig om risiko’s te loop en om verras te word.

’n Baie bekende Amerikaanse koffiegroep het begin as ’n koffiehuis in Seattle. Hulle het besef dat as Seattle koffiemal kon raak, dan kon dit in ander lande ook gebeur.

Hulle het toe uitgebrei na die res van die VSA, en later na die res van die wêreld en spog nou met meer as 16 000 koffiewinkels in 48 lande.

’n Mens sou selfoonbankdienste nie normaalweg met die baie arm gemeenskappe in ons land vereenselwig nie. Maar dit is presies die leemte wat ’n sekere bank en kruidenierswinkel raakgesien het.

Daar word geskat dat ongeveer 35 miljoen Suid-Afrikaners ’n selfoon besit, teenoor die slegs 11 miljoen wat ’n bankrekening het.

Waarom nie die selfoon vir banksake gebruik en bankrekeninge heeltemal uitskakel nie?

’n Finansiële instelling het die goeie idee vir ’n persoon-totpersoon-geldstelsel gekry. Dit stel kliënte in staat om geld deur ’n spesifieke kruideniersgroep se netwerk van 850 verskaffers te stuur en te ontvang. Dit kan met die eenvoudigste selfoon gedoen word.

So, die broodwinners wat in stede werk, kan nou geld op ’n veilige manier vir hulle families by die huis stuur.

Dis nie altyd maklik om te verstaan wat die “regte probleem” is en om deur te dring tot die kern van ’n uitdaging nie. Jy moet die vaardigheid bemeester om in te zoem op die hart daarvan.

Ons verkwis baie geld, tyd en moeite op die verkeerde kwessies. Daarom los ons soms nie die eintlike probleem op nie.

Ons stamp gedurig ons koppe teen dieselfde muur – en stap dan weg met niks meer as ’n kopseer nie!

Ons moet eers die regte, indringende vrae vra, dan deur die beskikbare inligting sif – en die irrelevante dinge ignoreer.

Maar daar is natuurlik ander maniere ook om jou kreatiewe vermoëns te ontwikkel. Hier is ’n paar: verbeelding, nuuskierigheid, spontaneïteit, uithouvermoë en humor.

Probeer om foute te sien as leergeleenthede. Soos Thomas Edison gesê het: “Baie van die lewe se mislukkings is mense wat nie besef het hoe naby hulle aan sukses was toe hulle opgegee het nie.”

Die meeste van ons het al daardie eureka!-oomblik beleef.

Maar dit het nog nie baie gebeur nie, reg? Om die waarheid te sê, die meeste kreatiewe oplossings kom eers nadat jy tyd bestee het om aan jou uitdaging te werk.

Dis hoekom daar heeltemal te min mense is wat kreatiewe uitkomste het. Almal soek ’n kitsoplossing.

Ons leef in ’n kitswêreld – kitskos, kitskoffie, kitskoop. “Kits” het ’n manier van lewe geword. Ons ry egter ons eie kreatiwiteit in die wiele deur hierdie “kits”-manier op ons denke van toepassing te maak.

Thomas Edison het duisende verskillende gloeidraadjies vir sy gloeilamp getoets voordat hy die regte een gekry het. Die ironie is dat sy storie baie mense ontmoedig. Wie wil nou so hard aan ’n oplossing werk?

Dink aan al die groot uitvindsels van die laaste paar dekades. Selfone, die internet, GPS, YouTube. Om ’n sukses te maak van hierdie idees wat die wêreld verander het, het werk gekos.

Dit klink dalk nou vir jou na baie moeite. Maar hierdie stap – om jou goeie idee uit te bou – kan ook die verrykendste deel van die hele proses wees. Dit kan ongelooflike vrugte afwerp.

Jy sal verbaas wees oor hoeveel keer jy onwetend op reeds ontwikkelde idees afkom. Byvoorbeeld, jare terug was tandepastaverteenwoordigers in die moeilikheid, omdat hulle nie hulle verkoopsteikens gehaal het nie. Geen bemarkingsveldtog kon die stand van sake verander nie.

Uiteindelik het iemand met die idee vorendag gekom om die verpakking te verander – en verkope het die hoogte ingeskiet.

Wat was die idee? Die opening van die tandepastabuis is effens groter gemaak. Dit het bloot beteken dat mense meer tandepasta op ’n slag gebruik het en daar dus meer tandepasta verkoop is – briljant!

Stel jou voor jy het pas ’n blink idee vir ’n topverkoper gekry. Is jy al skatryk? Het iemand al die voorreg gehad om jou boek te lees?

Nee! Dit gebeur nie vanself nie. Jy moet die idee uitbou. Skryf dit, kry ’n redigeerder en ’n uitgewer en laat die boek druk. Versprei en bemark dit. Voeg die detail by en laat dit werk.