Passie maak sukses moontlik

0
58
Gerda_van_Schalkwyk.jpg

Vir Gerda van Schalkwyk is isiGidi Group ’n droom wat geld maak. Dit verg egter baie toewyding om jou passie ’n beroep te maak.

Vir Gerda van Schalkwyk is isiGidi Group ’n droom wat geld maak. Dit verg egter baie toewyding om jou passie ’n beroep te maak.

Ek het my passie in ’n besigheid omskep deur te werk, werk, werk! Dit is die towerwoord. Dis baie belangrik om nie net te droom nie, maar te doen ook. Gaan voluit in dit wat jy glo en moenie toelaat dat enigiemand of enigiets jou van stryk bring nie.

Toe ek met my salon begin het, het ek eers ’n baie klein kamertjie in ’n woonstelblok gehuur en van daar af het dit groter geword. Jou passie gaan groei, laat dit toe om te groei en moenie bang wees vir verandering nie.

Wat jou in ’n veld sal laat uitstaan, is om nie bang te wees om anders te wees nie. Elkeen van ons is uniek geskape, ons is passievol oor verskillende goed. Baiekeer is iemand op die regte plek, op die regte tyd, maar wat werklik belangrik is, is wat jy met die geleentheid maak wanneer dit opduik.

Dit is juis jou uniekheid wat mense sal raaksien. Ek doen regtig iets van alles: funksies, mode, skoonheid, en ek het ook ’n druk- en ontwerp-winkel. ’n Miljoen dinge, isiGidi beteken juis “’n miljoen” in Zoeloe.

Om jou beroep met ’n stokperdjie te begin is nie noodwendig ’n agterstand nie, maar onthou, kennis is mag. Ek het besluit ek wil meer funksies reël. Toe skryf ek by Damelin in en voltooi ’n diploma in “Conference, exhibition and events management”.

Dit is natuurlik ook baie belangrik om altyd op hoogte te wees met die nuutste ontwikkelings en tendense in jou bedryf. Moet ook nie huiwer om by iemand anders aan te klop vir hulp en raad nie. As jy byvoorbeeld nie goed met geld kan werk nie, kry iemand om jou daarmee te help.

Jy hoef nie noodwendig ’n deskundige te wees voor jy begin nie. Daar moet altyd plek wees vir groei. Ek het van my grootste lesse geleer nadat ek met die besigheid begin het. Om teoreties iets te leer en dit dan prakties toe te pas is nie altyd dieselfde nie. En moenie bang wees om te sê: “Ek weet nie, maar kom ek vind gou uit.”

Dit bly egter nog steeds belangrik om jou eers te kwalifiseer voor jy wegspring. Word eers fiks, dan hardloop jy die wedloop. Maar hoe meer wedlope jy hardloop, hoe fikser word jy.

Nog ’n manier om jou passie uit te leef is om dit vir ander te leer. Nadat ek my eie skoonheidsalon begin het, het ek gereeld daar praatjies gehou en werkswinkels aangebied – in mode, grimering, velsorg, verslanking. Dis vir my heerlik. My man sê altyd ek hou van skoolhou. Al twee my ouers was onderwysers.

Dit laai my battery. Die energie wat ’n klomp dames uitstraal, is elektries, en hulle steek mekaar ook aan. Daar is altyd ’n groot gekuier en gegiggel. Die grootste uitdaging is om almal stil te kry sodat ek ʼn spreekbeurt kan kry.

Moenie jou genot verloor in beplanning nie, want as jy in jouself en jou produk glo, gaan jou kliënt ook daarin glo. Om eerlik te wees, aan die begin ek het nie baie oor my besigheid gedink nie. Ek het gedoen wat ek gedoen het omdat dit vir my lekker was.

In my bedryf moet ek kreatief wees, en ek werk op gevoel. Dit werk nie noodwendig vir almal nie. Die belangrikste is om getrou te bly aan jouself. En onthou, mense doen grotendeels besigheid met jou oor wie jy is, nie wat jy verkoop nie.