Pedro Kruger

1971

Pedro Kruger het ná ’n traumatiese gebeurtenis waarin sy pa betrokke was, anders na die lewe begin kyk. Ook na wat hy doen en of hy wel ’n nalatenskap het om te bewys dat hy hier was.

Die reuk van leer, die swaard vlymskerp in die skede… Vandag hang dit trots in my voorkamer. My ouma se naaimasjien, ’n foto van haar troudag in sy antieke raam. En dan natuurlik my klavier.

Besittings, erfstukke, maar ook baie meer. Simbole van die mense wie se besittings dit was en die stories oor hoe ek dit gekry het.

As ek my vingerpunte oor die lemme laat gly, word dit my pa. Onberispelik netjies in sy uniform. Hy was, en is, steeds my held.

Die klavier, wat steeds elke jaar gestem word, vat my terug na daardie dag: tien jaar oud, dikbek omdat my ma wou hê ek moes huis toe kom terwyl daar ’n aktiwiteit by die skool was wat ek wou bygewoon het, het ek daardie middag na my kamer geloop.

Skoorvoetend gangaf gestap toe sy my sitkamer toe roep.

“Sien jy dit nie?” het sy gevra.

En toe sien ek dit: ’n klavier, my eie klavier. In my gedagtes was daar ’n stralekrans om daardie instrument. Sekerlik een van die mooiste prentjies ooit. Vandag is dit vir my ’n simbool van die opofferings wat my ouers gemaak het om my drome te laat waar word. My pa ’n polisieman en my ma ’n huisvrou. Waar op aarde het hulle die geld vir ’n splinternuwe klavier gekry?

As ek na die troufoto kyk, is dit meer as net ’n prentjie van twee mense wat dit moontlik gemaak het dat ek vandag hier is. Dieselfde gevoel van liefde en koestering wat ek destyds in my ouma se huis gevoel het, kom weer by my op.

My ouma Tienie was baie spesiaal – my grootste fan nog lank voor ek bekend was. Ons het talle konserte in haar sitkamer gehou. Sy het almal om haar met liefde oorrompel. Ek sal graag onthou wil word as iemand soos sy wat mense met respek en menswaardigheid behandel het, want op die ou end gaan dit nie oor wát jy agterlaat nie, maar wat jy ín mense agterlaat.

Ek is nog steeds verbaas elke keer as ’n kelner my “oom” noem, want ouderdom is regtig vir my relatief. My vriende is van dertig tot in die sestig en my werk met skoolkinders laat my steeds jonk “dink”. Dit is dus nie vir my onvanpas om op 47 al aan ’n erfenis te dink nie. ’n Paar dinge die afgelope tyd het my laat besef het dat die een ding wat ons dink ons het, maar nie het nie, is tyd. Ons word nie gebore met ’n vervaldatum nie. Jy weet nie wanneer jy jou laaste asem gaan uitblaas, die laaste keer die son gaan sien opkom, jou geliefdes gaan groet nie. Om die waarheid te sê, dink ek nie dit is ooit te vroeg om ’n nalatenskap te skep nie.

Een van die gebeurtenisse wat my ’n ander perspektief gegee het, is my pa se ongeluk ’n paar jaar gelede. Vir nege weke was hy in ’n koma. Dit was die vreemdste gevoel om vir iemand koerant te lees sonder dat daar enige reaksie is. Nie eers ’n kopknik of ’n fladdering van ooglede nie. Die verpleegsuster sê egter hy kan hoor, daarom lees ek maar voort, want die lewe gaan aan.

In die gang buite Intensiewe Sorg het baie van sy studente gesit in die hoop om hom net te kan sien al het hy nie eers geweet hulle is daar nie. ’n Beter voorbeeld van ’n legacy is daar nie. Daar het ek miskien onbewustelik aan myne begin dink.

’n Vriendin van my se dood het my anders oor werk laat begin dink. Ek het nog altyd ’n liefde-haat-verhouding met my werk en persoonlike lewe, ’n balanseertoertjie om aan elkeen die tyd te gee wat dit verdien.

Tydens een van my grootste loopbaanhoogtepunte is ek genooi om my produksie Normality as deel van ’n internasionale fees vir soloproduksies op Broadway, New York, op te voer. Ek onthou die staande ovasie, die ligte en die applous vir die toekenning as beste musiekteaterproduksie. Dit was musiek in my ore, maar my kop was elders. Daar was ’n stemmetjie in my wat sê dat ek nie daar wil wees nie. My hart is ver van hier tussen my vriende, waar ek kan treur oor my vriendin wat so jonk weggeneem is.

Moenie ’n fout maak nie, ek is mal oor my werk. Daar is niks wat ek eerder sou wou doen nie. Soms wens ek maar net dit het miskien meer gewone ure gehad, maar vertonings word meestal maande vooruit bespreek. As ek in daardie tyd ’n ruk kon afvat om oor dinge te rou, traumatiese goed te hanteer, sou dit vir my as mens beter gewees het as ’n goeie resensie in die koerant.

Ja, the show must go on, veral vir ’n kunstenaar wat nie altyd ’n vaste inkomste het nie, maar die een ding wat ek nog nooit gedoen het en nooit sal doen nie, is om ’n masker op te sit. Die hele punt van ’n nalatenskap is dan juis dat jy ervaring oordra wat jy eerstehands sonder voorgee beleef het.

Wat ek wel tot hier in my veertigs nie gedoen het nie, is om my stem te laat hoor. Ons is amper met té goeie maniere grootgemaak: Stel ander bo jouself; kyk eers na ander voor jy doen wat goed is vir jou.

Soos daardie einste dag wat my pa in die ongeluk was. Dit is verskriklik. Die geluid van tyd oorverdowend hard met die kliniese, wit horlosie wat emosieloos en o, so stadig, die minute tot eenuur daardie nag aftik.

“Pedro, is dit jy?” herken iemand my in daardie toestand met vrae wat sonder ophou in my gedagtes dwarrel.

Ek kan nie glo dat ek daardie dag ingestem het vir ’n foto nie. En nog erger – dat ek boonop geglimlag het.

Lank terug het ek nie geweet hoe om sulke versoeke te hanteer nie. Wie weet, miskien is dit die rede hoekom mense dink ek is altyd vrolik. Soos die keer met my vriendin se dood waar die ou saam met my in die ry van die vliegtuig nie kon glo dat ek hartseer kan wees nie.

“Kom, Boytjie van Brackenfell. Smile ’n bietjie. Ons ken jou mos nie so nie.”

Dis asof mense hulle nie kan voorstel daar is ’n regte mens agter die klavier nie. Al tree ek voor mense op, bly ek steeds net mens. Iemand wat beslis nie altyd laggend, opgeruimd, positief en gelukkig is nie. Ek kan nie altyd aan joernaliste ’n quote oor positiwiteit gee nie, want soms is ek hartseer, ervaar ek rou en verlies. Mense sal letterlik in ’n winkelsentrum na my loop en vra waarom ek nie glimlag nie. Wie lag terwyl hulle loop?

Een van die dapperste dinge wat ’n mens kan doen, is om eerlik te wees oor wie jy is en hoe jy voel. Ek was sekerlik die eerlikste ooit die dag toe ek erken het ek voel nie altyd goed nie en dat dit oukei is om nie oukei te wees nie, want selfs al lyk mense se foto’s op Facebook asof hulle altyd gelukkig is en die perfekte lewe het, is dit beslis nie die geval nie. Of soos Piglet in Winnie-the-Pooh sê: “Everyone has days that they don’t feel okay; some just hide it better than others.”

Dit was nogal ’n kopskuif vir my om te maak, want ’n mens steek dikwels jou gevoelens weg omdat jy nie ander ongemaklik wil maak nie, maar dis daardie eerlikheid wat ’n erflating soveel meer betekenis gee. Jy kan tog nie iets agterlaat wat jy nie self geleef het nie.

Dit was nie ’n midlife crisis nie; eerder ’n besef dat ek myself moet laat hoor anders gaan ek my stem verloor. Amper soos die petrolliggie van ’n kar wat jy ignoreer en skielik, op ’n dag, gaan staan jy. Ons word grootgemaak met die idee dat dit selfsugtig is om jouself bo ander te stel. Ek het gegee en gegee – tyd, my emosie, my werk en op ’n dag het ek net besef dat ek te lank my liggie geïgnoreer het, my tenk is leeg. Dit is tyd om veranderings te maak anders gaan ek gestrand langs die pad bly staan. Tot hiertoe en nie verder nie.

Van daardie besluit af het ek begin om vir die eerste keer eers aan myself te dink. Ek kan immers net skink as my beker vol is. My pogings om ander heeltyd gelukkig te hou, was nie goed vir my nie. ’n Me first-benadering gaan oor my, nie ander nie. Ek hou byvoorbeeld nie van konflik nie. Dit bring die lelike in mense uit. As ons meer en beter na mekaar luister en nie altyd reg wil wees nie, sal ons nie so baie vassit nie. Party mense kan dit nie doen nie. Vir my is dit gesonder om dan net weg te stap. Om selfgeldend te wees en die argument te wen is nie doodsake nie. Ek kyk na myself en wat goed is vir my psige.

Eers onlangs het ek besef dat ek eintlik ’n introvert is. Al is ek baie tussen groepe, herlaai my battery, om nou weer die kar-metafoor te gebruik, as ek alleen is. Dis hoekom my eie-tyd so belangrik is. Dit maak my maar net ’n beter mens, man, vriend, seun, kunstenaar.

Dit klink al soos ’n vrouetydskrif-cliché, maar me time is letterlik tyd met myself. Saam met niks en niemand anders nie. Noudat ek naby die see bly, raak dit nog makliker. Met ’n koppie koffie in die hand, starend oor die see, is dit maklik om negatiewe gedagtes te blokkeer.

Dis amper ’n soort meditasie. Sodra daar ’n gedagte opduik, erken ek dit, maar konsentreer daarna weer op die ritme van die branders: in, uit, in, uit…

Wanneer ek rustig is, sal ek dink aan my dag en probleme wat ek miskien het. Dit maak die geraas en gepraat om my stil en gee my kompas weer rigting. Ek is in beheer van myself, my emosies en my kop. Grounded, soos die Engelse sou sê. Plat op die aarde en gereed om enigiets wat na my kom, te hanteer.

Om meer eie-tyd te hê, moes ek leer om nee te sê. Dis nou al iets wat ek amper elke dag sê – in my persoonlike lewe en werk. Dis nogal bevrydend en raak al hoe makliker.

“Don’t tell me, show me,” is hoe ek my voetspore hier wil los. Deur hoe ek ander mense laat voel het, hoe ek hulle behandel het. Dis deur te leef wat ek sê dat my woorde kredietwaardigheid kry en inderdaad nie net ’n preek is nie.

Selfs al gebruik ek die mooiste woorde en dis nie uit liefde nie, beteken dit niks, want van geloof, hoop en liefde bly die grootste daarvan die liefde. Dit is waarom die wêreld draai, waaroor liedjies gekomponeer, gedigte geskryf word. Waar daar liefde is, kan daar nie haat, lelikheid, ongelukkigheid wees nie. Enigiets kan oorkom word wanneer dit uit liefde gedoen word – konflik, rusie, verskil. Moenie bang wees om lief te hê nie. Selfs al het jy met verhoudings al baie seergekry, is dit steeds die moeite werd om jou hart op die spel te sit. As dit nie uitwerk nie, weet jy ten minste hoe dit voel om lief te hê en liefgehê te word – iets wat baie mense ongelukkig nog nooit geken het nie. Ek is so geseënd om al vir 26 jaar daardie spesiale een-keer-in-’n-leeftyd liefde te ken.

’n Basiese wet van die natuur: Slegte energie gaan nie verlore nie, maar in die geval van liefde kry jy baie meer terug as wat jy uitdeel. Dis vir my belangrik om ’n verskil te maak in ander se lewens. Dit maak my gelukkig wanneer ek kan gee, ’n wen-wen vir almal. Ek gee iets van myself, maar kry soveel meer terug. Daar is nie ’n beter gevoel in die wêreld nie.

Ja, ek wil onthou word as kunstenaar, maar ’n loopbaan, prestasies, sukses, geld, besittings, maak miskien jou inkopiewaentjie vol, maar dis nie hulle wat eendag om jou graf gaan staan nie. En hoe kry jy mense om jou graf? Deur almal gelyk te behandel, maak nie saak wie hulle is, wat hulle beroep is of waar hulle vandaan kom nie. Elke mens verdien respek en om soos ’n koning behandel te word. Ek het deur my ouers se voorbeeld gesien hoe hulle die armste boemelaar met die grootste deernis en menswaardigheid hanteer.

As jou werk jou passie is en jy dit geniet om te doen, is jy baie gelukkig, maar niks is so kosbaar soos tyd saam met die mense van jou hart nie. Daardie koffie saam met ’n vriendin of ’n hartsmens kan miskien die heel laaste een wees. Is dit regtig so belangrik om vir daardie uur te werk as om saam met jou geliefdes te kuier?

En dan, die belangrikste: Die lewe is te kort vir slegte wyn. En koffie, nou dat ek daaraan dink. Ook om nooit die wysheid van Winnie-the-Pooh, a bear with very little brains, te ontdek nie. Doen daardie goed wat jou gelukkig maak – my huis, my man, kat en hond, vriende, familie en ’n lekker glas rooiwyn voor ’n kaggel op ’n wintersaand.

Die beste erflating wat ek nou vir myself kan nalaat, is die lewe self. Ek wil dit koester, aangryp, omhels en leef: onvoorwaardelik en voluit, want dit is hoe mense gaan onthou dat ek hier was, geloop het, asemgehaal het…