Perde gee nuwe lewe aan kinders

0
864
perde.jpg

Die wêreld is ’n wrede plek vir kinders wat “anders” is. Hier kry hulle vrede op ’n perd se rug.

Bastiaan kyk na die seuntjie wat koponderstebo eenkant staan. Hy stap stadig nader en wag tot die kind effens opkyk.

“Hoekom is jy hartseer?” vra Bastiaan sag.
“Dit was ’n slegte dag,” antwoord die kind.
“Wat het gebeur?”
“Ag, die gewone.” Die seuntjie sug. “Ek sukkel met alles. Aantrek, lees, skryf, praat…alles is moeilik. En niemand verstaan wat ek sê nie.”
“Ek verstaan jou,” antwoord Bastiaan.

Die seuntjie knik. Hy bly ’n rukkie stil voordat hy verder praat. “Niemand hou van my nie.” Hy sluk hard aan die knop in sy keel.
“Wat van my?” vra Bastiaan. “Ek hou van jou!”
“Dankie,” sê die seuntjie en lig sy arm op om vir Bastiaan te druk.
“Dis net, oral waar ek gaan, staar mense na my. Die kinders wys vinger en lag. Daai nare boelie by gister se partytjie het my hele dag bederf.”

“Hoe groot is die boelie?” wil Bastiaan weet.
“Seker só,” antwoord die seuntjie en wys met sy hand ’n klein bietjie hoër as hyself.
“Hoeveel weeg hy?” vra Bastiaan weer.
“Ek weet nie.” Die seuntjie frons. “Seker so ’n bietjie meer as ek.”
“Dalk 30 kilogram?” stel Bastiaan voor.
“Miskien.”
“So, die boelie vir wie jy bang is, weeg 30 kilogram. Maar het jy geweet dat ek, jou vriend, meer as 300 kilogram weeg?”
“Jy’s reg!” Die seuntjie lag en hou die wortel waaraan hy ingedagte gekou het, vir Bastiaan om verder te eet.

Hierdie gesprek het waarskynlik effens anders geklink, want nie Bastiaan of die outistiese kind praat nie (altans, nie met mense nie). Maar as jy op ’n afstand staan en kyk na wat tussen hulle gebeur, kan jy jou verbeel wat gesê word. Tussen Bastiaan, die terapieperd, en die spesiale kinders wat hy so versigtig op sy rug ronddra, is die gesprekke altyd mooi.

Anneke Oosthuizen, by wie Bastiaan al die afgelope sewe jaar bly, skram weg wanneer die gesprek om haar begin draai. “Bastiaan is die terapeut, ek is net die fasiliteerder,” verduidelik hierdie vrou wat haar dae tussen haar perde deurbring. Baie ruiters met gestremdhede het al onder haar kundige hande die ruitersport bemeester en stringe medaljes ingepalm. Maar, verduidelik sy, dis die kinders wat vir terapie kom wat eintlik die grootste oorwinning is.

Lees ook: My seun sterf … en ek begin lewe

[pagebreak] Dinge wat vir ons vanselfsprekend is, ervaar baie kinders met gestremdhede vir die eerste keer op ’n perd se rug. Wanneer jy aan ’n rolstoel gekluister is, beskou jy die wêreld meestal van onder af. Jy moet opkyk na alles en almal. Op ’n perd se rug is jy skielik hoog! Dit help nie net met die kinders se perspektief nie, maar gee hulle ook ’n gevoel van krag. Die dier het ook ’n sekere temperament en ervaring met kinders met gestremdhede nodig. Maar dis amper asof Bastiaan gebore is om spesiale ruiters te dra.

perde_2.jpg’n Entjie verder stap hy rustig met ’n kind op sy rug. Anneke verduidelik dat die manier hoe ’n perd loop, jou heupe laat beweeg asof jy self stap. Verder behels perdry drie verskillende bewegings tegelyk: vorentoe en agtertoe, sywaarts, en op en af. “Dis wonderlike oefening, en boonop help dit baie met konsentrasie en balans. Jy moet gefokus wees op wat jy doen, en jy en die perd moet heeltyd in balans wees.” Net toe sy dit sê, lyk dit of die kind op Bastiaan se rug sy balans effens verloor en na die een kant toe gly. Dan gebeur iets baie besonders: Bastiaan beweeg onder die kind in om te keer dat hy afgly! Anneke glimlag. “Hy doen dit. As hy voel die ruitertjie is ongerieflik, sal hy van posisie verander om die kind te akkommodeer. Hy sal selfs gaan staan sonder ’n bevel as hy voel iets is verkeerd. En eers as die kind weer sy sit gekry het, sal hy verder loop.”

Hoewel perdeterapie niks nuuts is nie en al in 460 v.C. aangeteken is, het dit eers ongeveer vyftig jaar gelede herleef in die vorm wat ons dit vandag ken. Dit kan effektief gebruik word vir baie verskillende fisiese en verstandelike gestremdhede en beserings, asook emosionele trauma. Perdry ontwikkel breinfunksie en help byvoorbeeld ook om die middeloor te stimuleer, wat sekere reaksies tot gevolg het. Hierdie inligting word deur die lae breinstruktuur ontvang, wat belangrik is vir spraak. Kinders assosieer ook nie besoeke aan ’n ryskool met terapiespreekkamers nie.

[pagebreak] “Ek wens meer mense kon sien wat ek al ervaar het,” sê Anneke. “Weet jy hoeveel keer was ek al in trane as ek sien hoe kinders binne oomblikke verander as hulle op Bastiaan se rug klim? Daar is al baie navorsing gedoen wat mooi verduidelik hoekom alles gebeur en wat al die fisiese en psigologiese voordele is, maar ek dink daar sal altyd ’n stukkie magic wees. Iets wat ons nooit sal kan verklaar nie. Dis die perde se geheim!”

Anneke beleef gereeld hoe kinders wat inmekaar getrek is van spasma soveel ontspan dat hulle binne minute regop en wydsbeen op Bastiaan sit. Kinders met aandagafleibaarheidsindroom word kalm en begin konsentreer. Skaam kinders kruip uit hulle dop en vind ’n vertroueling in ’n perd wat nie oordeel nie. Lyfies wat sukkel om te beweeg, is vry. Hulle kan gaan waar hulle wil en leer nuwe vaardighede aan. Hulle word aanvaar.

Maar, sê Anneke, dis een ding om te kyk, dis iets heel anders om te voel. “Klim op,” sê sy vir my. Vir die eerste keer sien die kind wat pas ’n ryles gehad het, my raak. ’n Seuntjie met Aspergersindroom. Waar hy minute gelede nog die leerling was, is hy nou die instrukteur. Anneke staan opsy en my keel trek toe. “Tannie,” verduidelik hy, “jy moet ’n hoed opsit!” en verdwyn om die hoek. Toe vat hy die leisels kort onder Bastiaan se bek vas en my rug trek styf. Selfs na al die wonderlike stories wat ek oor hierdie perd gehoor het, wonder ek. Asof Bastiaan my probeer kalmeer, trek hy sy asem diep in en ek voel hoe die groot lyf onder my uitsit en ontspan. Ek begin ’n klein bietjie beter voel.

Uit die hoek van my oog sien ek hoe die seuntjie se ouers verstom toekyk. Anneke loop ’n kort entjie agter ons. “Kyk op!” roep die kind ’n bevel. “Ons gaan jump!” O nee! Nou moet iemand help. Ek voel hoe Bastiaan effens rem, al word hy vorentoe gelei. Net voor die teerpale wat (genadiglik!) plat op die grond lê, roep die kind weer: “Kyk op!” Maar dit doen ek lankal. Ek bid. Bastiaan trap versigtig oor die pale sonder om van pas te verander. Vir die eerste keer begin ek bedaar. Hierdie perd weet ek is bang, hy weet ek vertrou nie die kind nie. Maar hy wys vir my ek kan hóm vertrou. Hy knak sy nek effens sodat ek sy een bruin oog onder die lang wimpers kan sien. Ek sak in die saal terug en begin luister hoe ’n mens nou eintlik perd ry. Hoe jy moet sit, waar jy moet kyk, wat jy moet doen…Die seuntjie praat een stryk deur. Dan is ons klaar. “Tannie, gee jou hoed.”

Anneke glimlag breed. “Hier gebeur elke dag ’n wonderwerk,” sê sy. Ek glo haar. Al sê die literatuur dat perdry slegs ’n aanvullende terapie en nie ’n wonderkuur is nie.

Lees meer: Kan boelies se afknouery gestop word?