Photoshop Jesus se gesig

535

Daniel Serrano is vandeesweek byna €500 in ‘n Spaanse hof gevonnis omdat hy sy eie gesig op ‘n beeld van Jesus ge-photoshop het en dit toe op die internet gepubliseer het.

Hy het Jesus se gesig op ‘n foto van die bekende Cristo de la Amargura vervang met ‘n foto van sy eie gesig – met neusring en al. Die plaaslike gemeente, wat altyd met Paasfees hierdie houtbeeld van Jesus deur die strate van die dorp dra, het gekla en Daniel Serrano gevra om dit te verwyder. Hy het geweier en die gemeente het hof toe gegaan. Daniel is toe beboet omrede hy die gemeente aanstoot gegee het deur sy optrede.

Ek moet sê ek verstaan nie waarom die gemeente gekla het nie. Eintlik was dit teologies so reg dit wat Serrano gedoen het want die Skrif sê duidelik dat ek as gelowige saam met Christus gekruisig is. Wanneer ek na Christus kyk, moet ek eintlik my gesig in Christus se gesig raaksien en besef dat Christus daar in my plek hang. Dit is eintlik ek wat aan die kruis moes hang ter straf van my oortredinge.  Maar Goddank! Jesus was bereid om in my plek my straf te dra.

Galasiërs 2:20 “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe”.