Pierre Vee – humor is die sleutel

0
214
pierre_vee.jpg

Moenie die lewe te ernstig opneem nie. Pierre Vee vertel hoe hy die kwaad met die goeie oorwin.

Hy kan sing dat harte smelt en skryf dat harte swel. As woordkunstenaar is hy veral bekend as ons voelgoed.co.za blogger-van-formaat. Hy is mal oor sy vrou, sy dogter, sy seuntjie, die enetjie-op-pad, foto’s neem, om op die platteland te bly en sjokolade te eet! H’m… ’n man so na ons hart, veral omdat hy nie net slim is nie, hy is snaaks ook. En dit is mos ’n wenkombinasie.

Hoe kry jy dit reg om altyd die ligte kant van die lewe raak te sien?

Dis in my persoonlikheid ingebou. Ek lag maklik, soms heeltemal te veel, maar dis wie ek is. ’n Klein versie in die Bybel is eintlik my lewensleuse: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Dit is vir ons almal ’n uitdaging om nie te swig onder die negatiewe goed rondom ons nie. Vir my ook, veral as die mense rondom my negatief raak. Ek sal dan doelbewus besluit om eerder te loop of weg te kom na ’n ligter omgewing.

Het humor jou al gehelp om moeilike omstandighede te hanteer?

Toe ons seuntjie gebore is (10 jaar na sy sussie), was my vrou baie benoud oor die keisersnee. Gaan dit seer wees? Gaan daar lelike letsels wees? Toe hulle haar by die teater instoot, het dit gelyk of die senuwees haar heeltemal gaan opvreet. Ek het besef ek sal ’n plan moet maak. Toe het ek lapsokkies en ’n hoedjie gekry wat ek moes aantrek om saam in die teater te kon ingaan. Ek het ’n sokkie dwars oor my kop aangetrek en die hoedjie aan my voet. Toe my vrou my sien instap met die verspotte kousie op my kop, het sy byna deur die hele operasie gelag.

Watter dinge in jou lewe het jou al die hardste laat lag?

’n Lekker komedie laat my soms lag, maar my vrou en my kinders se sêgoed laat my altyd lag. Om ’n peuter in die huis te hê vat egter die koek. Ek was onlangs op ’n boskamp saam met die manne. Toe ons die oggend gaan stort, maak ek my toiletsakkie oop voor al die rowwe, growwe manne. En wat kry ek daar? ’n Sagte blou teddiebeer wat my seuntjie tussen my skeermesse ingepak het.

Dink jy vroue neem hulleself te ernstig op? Hoekom sou jy so sê?

Ja, beslis. Vroue kan soms ernstige, somber wesens wees. Die dag kan ook maklik verkeerd begin. Om voor ’n kas vol klere te staan en nie iets te kry om na vanaand se funksie aan te trek nie, is ’n kopseer! En dit gebeur darem alte gereeld. Soms moet vroue net van alles losbreek, hulle hare losmaak en weer lag. ’n Lekker girls’ night out is nie net nodig nie, dis noodsaaklik!

Jy is ook ’n fotograaf. Watter van jou foto’s laat jou glimlag?

Ek het my dogtertjie in die veld gaan afneem. Sy was geweldig opgewonde. Met haar nuwe geel rokkie het ons tussen die geel blommetjies gaan sit en ’n paar kiekies geneem – alles het so mooi bymekaar gepas. Daarna het ons aangestap op soek na nog blommetjies toe ons op pragtige pienk blomme afkom. Sussie was baie teleurgesteld dat haar rok nie by die nuwe pienk blommetjies gepas het nie. Pappa het belowe om ’n plan te maak en met die redigering het ons die geel rokkie in ’n pienk een verander. Tot vandag toe is dit een van my kosbaarste foto’s.

Wou jy met jou nuwe boek, Soos sjokolade, mense help om meer positief te wees?

Ek verpes dit dat die negatiewe kant die oorhand kry in ons alledaagse bestaan. Soms word ’n pragtige dag omgekrap deur die donker prentjie wat oor die radio of teen lamppale geskets word. My boek is geskryf deur ’n gewone mens met gewone uitdagings. Tog hoop ek dat, net soos ’n stukkie sjokolade jou oë en hart op ’n slegte dag kan verlewendig, die regte woorde op die regte tyd elke vrou se dag soeter sal maak.

soos_sjokolade.jpgSoos Sjokolade is soos ’n boks met luukse lekkernye propvol leesverleidings. Jy kan jou verlustig in onkonvensionele insigte oor alles wat belangrik is: liefde, koffie, werk, verhoudings, nare skoonma’s, vuil wasgoed, mans en kinders, die Skepper, die noodlot, moed hou en uithou…
Of jy nou alles op een slag opsmul of proe-proe die lekkerte uitrek – hierdie woorde is die beste trooskos vir jou siel of iemand anders s’n.

Lees meer: Lag saam! Hier is een van ons gunsteling Pierre Vee-blogs

Soos Sjokolade sal in Februarie 2015 beskikbaar wees op www.voelgoedwinkel.co.za