PLATVAL … OF HOOG VLIEG?

Onlangs het ek my letterlik lam geskrik. Darem net vir ‘n oomblik.

Ek was besig om uit my motor te klim in die middestad van my dorp … die middedorp van my stadjie … watookal. Dit is ‘n dubbelpad met ‘n breë middelmannetjie wat nog spog met pragtige bome uit vervloë dae toe hierdie nog ‘n regte “tuinstad” was.

Net toe ek mooi regop staan langs my karretjie, kom daar ‘n jong man agter die boom uit met ‘n outomatiese geweer in sy hande. Onmiddellik slaan die lamte my. Moet ek platval, hardloop, terugspring in die motor … wat doen ‘n mens? Iets in die man se gesig het my gerusgestel toe hy oor die straat begin stap, reguit in my rigting, maar darem glad nie dreigend nie. Ek besef toe dat hy deel is van ‘n span wat ‘n blok verder besig is om geld by ‘n groot bank op- of af te laai.

Vir ‘n oomblik het ek regtig gedink dis nou my opwindende einde!

My dorp spog met twee verkeersligte. Hulle is albei op my pad werk toe. By die een is daar smiddae ‘n man wat vlieërs verkoop. Ek het nog nooit gesien dat iemand ‘n vlieër koop nie, maar vir my, en ek dink vir die meeste gebruikers van die baie besige pad, is hy onmisbaar. Sy vlieërs is almal in die vorm van voëls, en so nou en dan is daar ‘n vliegtuig ook by. Hy staan nie net stil met sy ware en hoop vir klante nie – nee, hy haal ingewikkelde toertjies met die voël-vlieërs uit. Hulle vlieg, sirkel en duik sodat ‘n mens hulle al van doer ver af kan sien. Ek moet erken, ek is half teleurgesteld as die lig groen is en ek net kan verbyry. Die vriendelike en vaardige vlieërverkoper helder altyd my middag op, so tussen die meestal neerdrukkende middagnuusbrokkies op die motor-radio deur. (Noem mens iemand wat doen wat hierdie man doen, ‘n vlieër-vlieër?)

En dit is wat my laat dink het – baie keer kom daar slegte, vreesaanjaende en skrikmaakdinge agter die bome op ons pad uit. Partykeer minder erg, soos ‘n teleurstelling, ‘n onvriendelike mens, of ‘n ondervinding wat jou dag bederf. Soms is dit erger – groot hartseer, soos mense wat jy verloor, op watter manier ookal, deur weggaan, misverstaan of selfs die dood. Dis dalk régtig ‘n ou met ‘n geweer wat oor jou pad kom. Ons moet net leer om nie onnodig ontsteld te raak oor iets of iemand wat regtig nie slegte bedoelings het nie.

Maar, dankie tog vir die mooi dinge wat ook op ons pad kom – veelkleurige arend-vlieërs wat vrolik en uitbundig dartel en duik, al is die lug partykeer maar grou, vol uitlaatgasse en stof.

Ons moet net leer om te stop, te kyk, en die mooi raak te sien.

Vorige artikelWord wakker uit jou slaap
Volgende artikelAmandelmeel-schnitzel
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com