Plig, toegewing of plesier?

0
25
liefde_met_passie.jpg

Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het.

Dit is goed vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ’n bepaalde tyd om julle aan gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.

Dit sê ek as ’n tegemoetkoming, nie as ’n bevel nie.

(1 Kor. 7:1-6)

Ons lees hierbo dat dit goed is “vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe”. Eintlik staan daar in die Grieks: “dit is goed vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie” (kyk die OAV). Die uitdrukking “om ’n vrou aan te raak” is slegs ’n eufemisme vir “om met ’n vrou seks te hê”. Maar hoekom sê die Bybel dat dit goed is vir ’n man om nie seks met sy vrou te hê nie? Toegegee, daar staan darem ook dat ter wille van die gevaar van onsedelikheid elke man sy eie vrou behoort te hê, en elke vrou haar eie man. Maar dit lyk aan die ander kant of vers 7 sê dat hierdie reëling bloot ’n toegewing of ’n tegemoetkoming is. Dit klink na ’n negatiewe uitspraak oor die plek van die huwelik en die plek van seks in die huwelik. Dit lyk of ons moet besef dat ons eintlik op ’n tweederangse vlak van geestelikheid beweeg as ons seks binne die huwelik wil geniet. Maar is dít die ware betekenis van hierdie gedeelte?

Julle is dit aan mekaar verskuldig

Eerstens moet ons onthou dat Paulus in hierdie brief die vrae beantwoord wat die Korintiërs self vroeër aan hom gestel het. Daarom begin hy hierdie deel van die brief met: “Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het.” Dit lyk dus of die woorde “dit is goed vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie,” nie Paulus se woorde is nie, maar wel die Korintiërs se woorde aan Paulus. Hulle het aan hom geskryf dat dit “goed is dat ’n man nie seks het met ’n vrou nie”.

[pagebreak]

Daarmee kan Paulus nie saamstem nie. In die volgende vers skryf hy dat elke man eerder sy eie vrou moet hê, en elke vrou haar eie man, anders kan hulle moontlik in hoerery verval. Daarmee sê hy dat dit nodig en reg is vir ’n man en vrou om ’n lewensmaat te hê, en met jou lewensmaat seks te beoefen.

In die volgende verse brei Paulus volledig daarop uit hoe elke man en elke vrou hulle huweliksplig teenoor mekaar moet nakom. Eintlik is die keuse van die woord “huweliksplig” in die NAV baie ongelukkig. Dit lyk so of die man en vrou onder dwang of ’n wetlike verpligting staan om met mekaar seks te hê. Die bedoeling van die Grieks is veel eerder dat beide man en vrou hulle lewensmaat se seksuele behoeftes moet erken en raaksien, en daardie behoeftes vir mekaar moet vervul.

Wat veral in hierdie gedeelte duidelik na vore kom, is dat die man en die vrou op absoluut dieselfde vlak geplaas word. Daar is nie sprake daarvan dat die man “meer” of “groter” beheer oor die vrou se liggaam het as wat sy op haar beurt oor sy liggaam het nie. Kyk weer na vers 2-4 en let op hoe Paulus telkens dieselfde stelling maak uit beide die vrou en die man se oogpunt.

            Elke man behoort sy eie vrou te hê.

            Elke vrou behoort haar eie man te hê.

            Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom.

            En net so ook die vrou teenoor haar man.

            Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man.

            Net so beskik die man nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

Paulus se woorde lyk na ’n uitspraak wat elke Christenvrou en Christenman in die mees moderne terme aanspreek: die vrou het net soveel reg op haar man se liggaam om haar behoeftes te bevredig, as wat die man op sy vrou se liggaam het om sy behoeftes te bevredig. Nooit mag die vrou seks van haar man weerhou om hom te straf nie, want haar liggaam behoort aan haar man. Presies dieselfde beginsel geld vir die man. Om nog meer prakties te raak: net soos die man die eerste tree kan neem tot toenadering om sy behoeftes met sy vrou se liggaam te bevredig, net so kan ook die vrou die eerste tree neem tot toenadering om haar behoeftes met haar man se liggaam te bevredig.

Minder fisiek en meer geestelik?

Maar daar was natuurlik mense in Korinte wat gemeen het dat seks so “liggaamlik” is, dat ’n mens dit liefs moet vermy.

[pagebreak]

Om meer “geestelik” te wees, moet jy eerder hierdie fisieke deel uit jou lewe uitsny en dit vervang met geestelike aksies soos vas en gebed. Dit was dan ook een van die vrae wat die gemeente van Korinte aan Paulus gestel het. En wat is Paulus se antwoord daarop? Hy maak die toegewing dat ’n paartjie hulleself wel vir kort tydjies van mekaar mag onttrek, maar hy wys daarop dat dit baie belangrik is dat albei daartoe moet instem. As óf die vrou óf die man nie seksueel onaktief wil raak nie, dan mag die ander party nie hom of haar van die seksdaad onttrek nie. Hulle moet dan steeds mekaar se seksuele behoeftes bevredig!

Maar dan volg ’n baie interessante deel. Paulus sê nadat ’n paartjie hulleself vir ’n kort tydjie van seks weerhou het, moet hulle weer terugkom bymekaar om mekaar se behoeftes te bevredig. En dan maak hy die opmerking: “Dit sê ek as ’n tegemoetkoming, nie as ’n bevel nie.” Gewoonlik word hierdie opmerking van Paulus verklaar as ’n toegewing dat die paartjie weer seks mag hê. Dit lyk dan of die seks die “toegewing” is en dat dit eintlik beter is om met die vas en gebed te volhard. Dit lyk egter nie of hierdie interpretasie rym met Paulus se betoog in die res van die hoofstuk nie. Die toegewing verwys veel eerder na die tyd van vas en gebed. Paulus verkies dat die man en vrou bymekaar bly en mekaar se behoeftes bevredig sodat hulle nie dalk in sonde verval nie. Maar hy is wel bereid om ’n toegewing te maak dat die paartjie hulle van seks mag weerhou met die oog op geestelike toewyding. So ’n toegewing gaan egter met allerhande vereistes gepaard, soos dat dit met albei se goedkeuring moet geskied en net tydelik mag wees.

Paulus sê wel dat hy wens dat alle mense soos hy was, maar hy gee onmiddellik toe dat elkeen ’n ander gawe van God ontvang het. Wat vir Paulus geld, geld nie noodwendig vir iemand anders nie. Die apostel Petrus was immers getroud (Matt. 8:14 en verder) en hy het groot werk in God se koninkryk verrig.

Nie in die tweede klas nie

Wat sê dit alles vir ons? Laat die man en vrou mekaar se liggame geniet. Geniet die seksdaad en vind daarin ’n vervulling van jou fisieke behoeftes. Weet ook dat jou maat se liggaam eintlik aan jou behoort en dat jy beheer daaroor mag uitoefen. Dit klink dalk geweldig selfgesentreerd, maar dit is presies wat hierdie Skrifgedeelte sê. Natuurlik is daar ook ander waarhede in die Skrif wat nie uit die oog verloor mag word nie, maar dit word in die ander hoofstukke bespreek.

Om seks binne die huwelik te mag beoefen is nie ’n toegewing nie. Dit beteken ook nie dat as ons seks geniet, ons daardeur tweedeklas Christene word nie. God ken ons behoeftes, en ons mag dit binne die huwelik voluit uitleef.