Ploegvore van belofte

Ek wonder soms hoekom die Here mens terugvat op ou paaie… daar waar jy jou spore gelos het lank terug. Dalk jou hart. Jou trane. Dalk so ‘n stukkie van jouself?

As ek glo dat die God van Liefde alles ten goed laat meewerk vir my wat in Hom glo en Hom liefhet, moet ek ook glo dat Hy dink dat dit vir my goed sal wees. Om weer langs daardie ou paaie te loop.

Die Bybel is vol van voorbeelde hiervan: mense wat moes terugkeer. Soms was die terugkoms belaai met vreugde en ‘n nuwe mantel en ‘n ring aan die vinger. Maar soms moes die mense met hulle terugkeer die verwoesting in die oog staar en van voor af begin bou.

So was dit ook toe die Volk uit ballingskap uit vrygelaat is.

‘n Mens sou dink dat enige verplaaste banneling die kans sou aangryp om terug te keer na die grond van hulle voorvaders. Maar toe nie. En op ‘n manier verstaan ek.

Ek kom van ‘n klein plekkie in die Vrystaat. Kort na Matriek is ek daar weg en ek was nog nooit weer ‘n permanente inwoner nie. Toe my ouers nog geleef het, het ons natuurlik nog gereeld daar gekom. As die N1 ons daarlangs lei, ry ons nog daar in en vertel stories oor wat hier gebeur het en wat daar gesê is.

Maar op ‘n stadium het die stukkende vensters en kniehoogte bossies wat is waar my mooiste herinneringe eens was, my huiwerig gemaak om die afdraai te vat, dorp in. Dit het vir my… leeg gevoel, en daarmee saam het die slegte onthoue meer-en-meer lugtyd in my gedagtes gekry.

Totdat dit skoolreünie was daardie jaar.

Toe ons daar aankom die Vrydagmiddag, wou-wou die melankolie my vang. Dit het nie meer gelyk soos wat dit eens gelyk het nie. Mense wat daar was in my groeityd, het self weggegroei. My man was darem daar en hy maak sommer alles altyd beter. Hy kon my help onthou van ons eerste propperse kus, en brug toe loop op ‘n Vrydagaand en koffiekuiers in Hessie of Marlene se sitkamer.

Die volgende dag sou ons nóg ou paaie gaan loop, en in sitkamers sit van lank gelede. Saam lag, saam huil. En nog ‘n stukkie van die onbekendheid van die eens-bekende val weg.

Die aand se joligheid by die nuwe skoolsaal is gemoedelik en dis so lekker om weer bekende gesigte te sien. Die geselse is lank en die onthoue is mooi en die van-voor-af-leer-van-mekaar sit nog ‘n knoop in die tou wat ons altyd aan mekaar sal bind.

Die kerkdiens op die Sondag net voor ons weer in die pad val, laat die laaste vreemdgeit verdwyn. Hier het ons saam gesit, saam geluister, saam geleer. Hier is fondasies gelê.

Die bannelinge wou nie teruggaan nie, want die pad was lank en gevaarlik en sommige van hulle was al oud. Sommige het die lekker lewe in die nuwe land te veel geniet en wou dit nie opgee nie. Sommige het net ver van die Here af gedwaal en kon geen nut daarin sien om terug te keer nie. Sommige het geweet dat dit verskriklike harde werk sou neem om weer die nasie in Jerusalem te vestig. Hulle sou ‘n hele nuwe stad en ‘n stadsmuur moes bou en daarvoor het hulle net nie kans gesien nie.

Eers as jy hierdie geskiedenis verstaan, dan verstaan jy regtig wat Jeremia in hoofstuk 10 vir die Volk wil sê:

“Die Here sê: ‘Die waarheid van die saak is, julle sal vir 70 jaar in Babel wees.
Maar as die tyd verby is, sal Ek begin om al die goeie beloftes wat Ek gemaak het, waar te laat word. Ek sal julle na julle land toe laat terugkom.
Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het.
Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie.
Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.
Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister.’ “

Die Here se uiteindelike doel daarmee om die Volk terug te vat op die ou paaie was om hulle te seën en nie skade aan te doen nie.

Soms lê die seën daarin dat ek sien waar ek vandaan kom en God die eer gee vir wie ek nou is.
Soms lê die seën daarin dat my oë oopgaan, verby die opvallende vervallendheid tot by die dinge en die mense wat selfs ‘n woestyntrek ‘n avontuur kan maak, en ek dink…

…nuwe mense op ou paaie maak van ou paaie ploegvore van belofte.

En hierdie week kan ek nie anders as om Jo Black se nuutste my temalied te maak nie: VOEL JY DIE GENADE…?

Vorige artikelGeloof begin in jou brein
Volgende artikelHeilig is mooi!
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!