Plooie is ’n seëning van God

0
38
geloof_2.jpg

Ons weet, dis niks lekker om te sien hoe jou lyf verander nie. As jy ook sukkel om oudword te aanvaar, lees ’n bietjie hier.

As jy die TV aanskakel of ’n tydskrif oopmaak, voel jy sommer stokoud. Plankdun modelle van vyftien word mos vir jou gewys as die beeld van hoe jy nou eintlik moet lyk. Selfs party oumas in hulle sewentigs lyk deesdae nie ’n dag ouer as veertig nie.

Oral sien jy advertensies van roompies wat beloof om jou plooie uit te stryk en jou pap vel weer ferm te maak. Jy kan sommer in jou etensuur Botox-inspuitings kry om jou frons te laat verdwyn. Gaan bleik dan gou ook jou tande, want niks laat jou so vars lyk soos skitterwit tande nie!

Dis geen wonder vroue kry die idee dat ouderdom ’n “siekte” is wat “genees” moet word nie. Jy dink grys hare is ’n skande en jy moet dit so goed as moontlik wegsteek.

Wil jy regtig eerder weer jonk wees?

Natuurlik is dit nie verkeerd om jou hare te kleur of daardie ouderdomsvlekke toe te smeer nie, solank jy besef die tyd staan nie stil nie en jy kan nie dieselfde bly nie. As jou gees al soveel littekens van die lewe dra, hoekom nie jou lyf ook nie?

Dink ’n bietjie: Sou jy regtig weer agtien wou wees net vir die ferm lyfie en gladde vel? Sou jy kans sien om van voor af deur al die “groeipyne” te gaan? Jy sal tog nie by ’n jong meisie gaan raad vra oor kinders of jou huwelik of selfverwesenliking nie!

Jy sal mos eerder na ’n ervare ouer vrou toe gaan wat die letsels van die lewe duidelik wys, ’n vrou wat weet van val en weer opstaan, van foute maak en genade kry.

Wat dink God van jou grys hare?

As jy uit ’n geloofsperspektief kyk, sien jy ouderdom is eintlik ’n eer. Salomo sê grys hare is ’n “sierlike kroon” wat jy kry deur “reg” te lewe.

Soos die jare aanstap, kry jy wysheid. Jy stamp dalk jou kop ’n paar keer as jy jonk is, maar dan begin jy leer hoe die lewe werk. Jy raak rustiger. Jy begin jouself ken en jy weet wat jy kan verander en wat jy maar net moet aanvaar.

Onthou, daar is ’n verskil tussen oud word en volwasse word. Ons word almal ouer, maar nie almal word volwasse nie. As Jesus jou voorbeeld is, sal jy anders oud word en sal die dinge wat regtig tel, vir jou belangrik wees.

Dan sal jy nie meer so selfgesentreerd wees nie. Dan sal die pyn in iemand anders se oë vir jou belangriker wees as die lagplooitjies om jou eie oë.

Verander jou perspektief en vier fees, plooie en al!

Suzanne Eller, ’n Amerikaanse vrou wat kanker in haar dertigs oorwin het, dink deesdae heeltemal anders oor oudword. Sy glo elke plooi wat sy in die spieël sien, is ’n geskenk. Dit beteken sy het nog ’n rukkie gelewe om haar kinders te sien grootword en haar kleinkinders vas te hou.

Suzanne was ook geneig om die dinge wat regtig saak maak, mis te kyk. Dan het sy haarself daaraan herinner dat dít wat vir haar vanselfsprekend is, dalk iets is waarvoor iemand anders bid.

Dis is wat sy sê jy moet doen om weer die regte perspektief te kry: Kyk om jou rond, sommer net daar waar jy nou is. Wat sien jy? Skryf dit neer.

Jy het dalk geskryf: Die gemors in die TV-kamer. Goed, nou soek jy vir die wonderwerk in hierdie gemors. Iets soos: jy het ’n huis, jy het kinders, julle lag baie, jy kry nat soentjies by jou kleuter...

So, as jy môreoggend in die spieël kyk, sien jou hangborste en grys hare raak, maar dink dan: Watter wonderwerke is hier versteek? Wat beskou ek as vanselfsprekend wat iemand anders verskriklik graag sou wou hê?

Kom ons begin: Jy het ten minste hare, al word hulle grys. Jy het borste, al is hulle nie meer ferm nie. Jy lag baie; daarom het jy lagplooitjies. Jy het elke dag meer as genoeg om te eet; daarom pas jy nie in jou jeans nie.

Oudword is vir dankbare, gedetermineerde, geduldige, sterk vroue. Is dit nie wie jy wil wees as jy eendag “groot” is nie? As dít jou houding is, kan dit net ’n ongelooflike reis wees!

Vertaal en verwerk uit The Idolatry of Youth deur Kelli B. Trujillo.