Pornografie – XXX

0
37
top_tv.png

Daar is in die afgelope week baie oor pornografie gepraat nou dat TopTV toestemming gekry het om pornografie te beeldsend. Een van die dinge wat ek nogal vreemd vind, is om na die argumente te luister wat teen pornografie gebruik word. In talle van die berigte word gesê dat ons kinders teen pornografie beskerm moet word omdat pornografie so skadelik is vir kinders. Daarom bepaal die wet ook dat TopTV pornografie net in die nag mag uitsaai.

Die boodskap wat implisiet met hierdie argument uitgedra word, is dat pornografie nie skadelik is vir volwassenes nie. Volwassenes is soort van immuun teen pornografie. ‘n Mens kan volwassenes nie kwalik neem as hulle na die lees van hierdie berigte aanneem dat pornografie geen negatiewe effek op hulle het nie. En dit is bitter ver van die waarheid af. Daar is al oorgenoeg studies gedoen om te wys wat die effek van pornografie ook op volwassenes het.

Ek kan nie hier op alles ingaan nie, maar laat ek ‘n paar noem: Die pornografiese beelde wat jy sien, bly maande en dikwels jare later steeds in jou kop maal. Verder kan pornografiese films veroorsaak dat jy minder plesier uit jou eie sekslewe kry, want die seks wat jy op TV sien, geskied altyd net in die mees idilliese omstandighede, terwyl die realiteit nie altyd so is nie. En dan praat ek nie eens van die verslawende effek wat pornografie op die mens het nie. En hoeveel tyd jy mors op gemors nie!  As ‘n sigaretboksie ‘n waarskuwing moet dra oor die nadelige effek van rook, behoort pornografie ook op die TV-skerm mense te waarsku oor hoe skadelik dit vir hulle is. Pornografie is nie net skadelik vir kinders nie! Dit is net so skadelik vir volwassenes.

Paulus gee vir ons ‘n goeie riglyn vir die lewe in Fil 4:8: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.