Positiewe denke – so kan twyfel jou help

0
400
positiewe_denke.png

“Of jy dink jy kan, of dink jy kan nié, jy is waarskynlik reg,” het Henry Ford gesê. Werk dus aan jou ingesteldheid en behaal sukses.

Jou negatiewe gedagtes kan keer dat jy jou drome verwesenlik, jou doelwitte bereik of by die volgende stadium in jou lewe uitkom. Jy is soms jou eie grootste vyand en net jy kan bepaal of jy suksesvol gaan wees of gaan misluk. (En al het jy dit al baie gehoor, dis regtig so!)

Die kletskoningin Oprah Winfrey moes baie struikelblokke oorkom voor haar “oornagsukses”. Sy is as dogtertjie gemolesteer en het toe van die huis af weggeloop. Sy was skaars veertien toe sy swanger geraak het. Toe is die baba kort na geboorte oorlede. Sjoe, ons sou dalk al lankal tou opgegooi het!

Maar Oprah het vasgebyt en haar skoolloopbaan voltooi. Sy het uitgeblink en het op skool al by ’n plaaslike radiostasie begin uitsaaiwerk doen.

Sy was nog baie jonk toe sy mede-aanbieder van die sesuurnuus op televisie geword het. Haar mede-aanbieder wou haar egter nie daar hê nie en het dinge vir haar moeilik gemaak. Die program was nie gewild nie en sy is grotendeels daarvoor geblameer.

Een eienskap wat daardie tyd nie juis in haar guns getel het nie, is haar empatie met mense wat swaarkry. Dit was vir haar moeilik om objektief te bly. Sy kon beswaarlik haar trane keer as sy oor ’n hartseer storie moes berig. Maar dis juis hierdie eienskap wat haar nou so ’n gewilde aanbieder maak.

Na ’n paar maande is sy in kennis gestel dat sy nie meer die aandnuus gaan uitsaai nie, maar net vir ’n paar minute in die oggend die nuusflitse sou doen. Sy het eers gedink dis ’n gekkedaggrappie! Maar sy het uit hierdie “mislukking” geleer, gegroei, later haar eie program begin en almal se liefling geword. Soos sy sê: “Failure is just a stepping stone to greatness.”

’n Positiewe ingesteldheid dryf jou om aan jou vaardighede te werk en te visualiseer wat jy wil regkry. Dit help jou om ’n plan uit te dink; ’n strategie wat jy kan volg om by jou mikpunt uit te kom. Presies wat Oprah gedoen het.

Ignoreer daardie nare gedagtes wat jou laat twyfel

As jy negatief dink, dan glo jy negatief. En as jy negatief glo, is daar maar ’n baie skraal kans dat jy ooit jou drome sal verwesenlik.

Die eerste stap is om jou negatiewe gedagtes te ignoreer. Punt. Maak doodeenvoudig asof dit nie bestaan nie. Moenie eers na daardie stemmetjie luister of die gedagte so ’n bietjie in jou kop rondrol om te kyk of dit waar is nie. Hoe langer jy dit vertroetel, hoe meer raak dit deel van jou.

Sodra jy agterkom jy dink nou negatief, doen onmiddellik iets wat jou aandag sal aftrek. 1. Hou ’n interessante boek of tydskrif byderhand en lees ’n stukkie daaruit. Of luister na ’n CD waarvan jy hou. Jy moet die woorde ken sodat jy lekker kan saamsing.

2. Jy kan ook jou brein met mooi herinneringe bombardeer. Dink dadelik aan ’n baie gelukkige tyd in jou lewe. Watter persone was betrokke? Probeer die kleure, geure en gevoelens wat jy daarmee assosieer, so goed moontlik onthou.

3. Daar is vroue wat glo meditasie help hulle hiermee. Jy kan dalk inspirerende Bybelverse of gedagtes bymekaarmaak. Lees een as jy voel jy wil morbied raak.

4. Party mense maak ’n lys van al hulle negatiewe gedagtes soos hulle dit kry. Dan skryf hulle dadelik iets positiefs langsaan neer wat dit kanselleer. Kry vir jou ’n mooi joernaal waarin jy dit kan doen en hou dit gereed op jou lessenaar.

5. Jy het seker ook al gehoor van iemand wat ’n rekkie om haar pols dra en haarself daarmee skiet as sy verkeerd dink. Dit klink dalk verspot, maar as dit werk, dan werk dit!

Identifiseer en ontwikkel jou passie en talente

Dit help nie jy is positief en onstuitbaar, maar jy weet nie waarheen jy op pad is nie! Jy moet ’n uitlaatklep hê vir jou energie; ’n mikpunt waarnatoe jy kan werk.

Maar hoe weet jy watter doelwitte jy moet hê en waarop jy jou kop moet sit? Die beste dinge om na te jaag is dié wat op jou sterk punte bou. As jy goed is in iets, sal jy makliker slaag.

Elke vrou het minstens een ding waarmee sy werklik baie goed is. Party is so gelukkig om meer as een, of sommer ’n klomp te hê. Die beste pad na sukses is om jou talente te identifiseer en vir jou ’n droom daarom te bou.

Maar sê nou jy weet nie wat dit is nie? Moenie bekommerd wees as jy nog nie weet waar jou passie lê nie. Die beste manier om daardie antwoord te kry is om so veel moontlik nuwe dinge te beproef. As jy in dieselfde ou patrone vasval, sal jy mos nooit weet wat jy alles misloop nie.

Daar is talle moontlikhede: Neem kookklasse. Skryf ’n kortverhaal. Bied aan om jou buurvrou se kind met haar huiswerk te help. Doen aansoek vir ’n werk wat nie noodwendig volgens jou smaak is nie.

Onthou, jou passie is deur God daar geplant. Dis dít wat jou vervulling gaan gee en die wind onder jou vlerke sal wees as die moeilike tye kom.

Sodra jy uitgevind het waar jou sterk punte is, kan jy begin uitpluis waar jy jou talente die beste kan gebruik. Bou dan jou droom daarom. Nou kan jy aan die detail vir jou sukses begin beplan.

Gebruik al daardie twyfel tot jou voordeel

Daardie twyfelgedagtes kan jou eintlik help, want dit motiveer jou om te verander. Dit kan jou meer vasberade maak om elke moeilike hindernis te oorkom.

Dit help nogal om al jou negatiewe gedagtes neer te skryf. As jy dit elke dag sien, kan dit jou passie aanvuur en jou meer gedrewe maak. Dit kan ’n daaglikse herinnering wees aan die dinge wat jy nog graag wil bereik en die teenkanting wat jy kan verwag. Dis ’n goeie manier om jou fokus te behou.

As jy kan bewys dat jy iets kán doen, al het jy nie so gedink nie, leer jy iets van jouself en waartoe jy in staat is. Jy is dan nie meer so bang om te misluk nie. Sodra jy sukses behaal, kry jy mos ander mense se waardering. As jou vriendin jou met die lekker koek komplimenteer, dan begin jy dink: Ek kan!

Op hierdie manier verander jy alle negatiewe energie in positiewe energie. Dan kry jy meer kreatiewe maniere om jou struikelblokke te oorkom. Jou vorige terugslae word eintlik nou jou groot oorwinnings.

In plaas van om die beperkings te aanvaar wat ander – en jyself – op jou plaas, daag jouself uit en volg jou passie! Maak jou lewe betekenisvol, ongeag daardie negatiewe stemmetjie.

Vertaal en verwerk uit Is Negative Thinking Ruining Your Opportunity for Success? deur R. Kay Green.