Praat gereeld oor geld

0
707

Dit is nie verstandig om julle geldsake gelate aan jou man oor te laat en nie te weet wat aangaan nie. Bespreek dit vandag met hom.

Baie van die dinge wat krapperigheid tussen man en vrou veroorsaak, het te doen met finansies – nie noodwendig ’n gebrek daaraan nie, maar eerder ’n gebrek aan kommunikasie oor geldsake. Die ongelukkige slagoffers is dikwels vroue wat na ’n egskeiding, ernstige siekte of die dood van hulle huweliksmaat met ’n skok agterkom hulle weet nie hoe om die finansies te bestuur nie.

Wees op hoogte van julle mediese dekkingsplan

Aangesien mediese fondse hulle planne jaarliks aanpas, moet jy jou mediese versekering gereeld hersien om te verseker jou gesin is nog op die geskikte plan. Dit gebeur gereeld dat iemand in ’n ongeluk beland en gedek is vir behandeling in die hospitaal, maar daarna self vir rehabilitasie moet betaal, en dan eers begin wonder of die mediese fonds die uitgawes wel gaan dek.

Dit is ongelukkig waar dat 50 mense elke dag ongeskik verklaar word om te werk as gevolg van padongelukke. Daarom is dit belangrik dat jy ingelig moet wees en baie seker moet maak julle het die regte fonds vir julle behoeftes. Gesels met ’n raadgewer of makelaar as jy onseker is sodat jy al die opsies kan oorweeg.

Die kans vir chroniese siektetoestande of kanker is ongelukkig ’n realiteit as gevolg van ons leefstyl. Jy moet derhalwe ook op lang termyn voldoende gedek wees as dit kom by jou gesondheid. Dis nie altyd net om ’n inkomste te vervang nie, maar ook om voorsiening te maak vir tye wanneer jy nie gesond genoeg is om te kan werk nie. Om reg verseker te wees en gereeld daaroor met jou maat te praat, kan jou gesin in baie opsigte emosionele en finansiële pyn spaar.

Maak ’n punt daarvan om korttermyndekking te hersien

Ons is die afgelope tyd deur erge stormwinde, weer en hael getref wat eiendom beskadig en miljoene rande se verwoesting gesaai het. Ons het gou agtergekom hoeveel mense se huisinhoud nie voldoende verseker was nie. Die tekorte op jou versekering moet jy dan self betaal. Dit kan ’n paar honderd rand se bybetaling wees of jou duisende rande uit die sak jaag.

Korttermynversekering is ’n baie kompeterende mark. Hoe meer gereeld jy rondkyk vir die beste prys en die beste pakket vir jou behoeftes, hoe beter kan jy voorsiening maak vir die onvoorsiene. Moenie net aanvaar daardie afdeling word deur manlief hanteer nie. Lees, doen navorsing of praat met kenners sodat jy kan help om vir jou gesin die regte dekking te kry.

Weet wat aangaan en pas jou geld op

Jou geld is uiters kosbaar. In baie gevalle verruil ons kosbare gesinstyd vir die salaris wat ons verdien. Dit daarom wys om op hoogte te wees van jou gesin se finansiële posisie. Om jou geld te beskerm kan so eenvoudig wees soos om nie jou handsak op enige plek neer te sit of om seker te maak jy betaal nie te veel vir artikels en dienste nie. Dit kan ook beteken om soveel as moontlik uit te vind oor ’n belegging wat aan jou voorgehou word as “die kans van ’n leeftyd”.

’n Jong man het eenkeer ’n boer besoek en probeer om ’n rekenaarprogram aan hom af te smeer. Hy het vir die boer gesê hy hoef nooit weer te werk nie, hy kan net elke dag voor die rekenaar sit en sy aandele dophou. Die wyse ou boer het toe vir die man gevra hoekom hy dit dan nie self doen nie, in plaas van om die program aan ander mense te probeer verkoop!

Die goue reël as dit by finansies kom, is om gereeld met jou maat daaroor te praat. Moenie eendag – of dalk gouer as wat jy mag dink! – in ’n verknorsing beland omdat jy nie geweet het hoe sake daarmee staan nie. Gebruik jou gesonde verstand om te weet dat as jy enige twyfel oor ’n proposisie het, jy eintlik geen twyfel het nie!

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.