Praat God vandag nog met mense?

667
Liesel Krause-Wiid

Dis onmoontlik om iemand te hoor praat as jy nooit stilbly nie. Om in iemand se voetspore te volg, beteken jy moet luister en leer.

Jy kan Hom onmoontlik hoor wanneer jy die hele tyd praat. Baie mense sê hulle hoor nie Sy stem nie, maar het jy al lank genoeg stil geword en geluister? Ons is die “altyd aan”-generasie. Die TV, radio, en selfoon moet binne reik- en hoorafstand wees.

Gebruik jou tyd vir die dinge wat saak maak

Natuurlik moet ons die pot aan die kook en al die balle in die lug hou, maar ons moet tyd maak om rustig te raak. Vroegoggend en laatmiddag is ’n goeie tyd om stil te raak. Dit is natuurlik nie die enigste tye om kos vir jou siel te kry nie, maar dis gewoonlik rustiger en makliker om uit die geraas te ontsnap. Die probleem is dat hierdie “aftyd” ook die tyd is wanneer mense die aktiefste op sosiale media is.

Ek sê nie Facebook is taboe nie. Daar is baie inspirasie om te put uit sosiale mediaplatforms. Maar benut jou tyd só dat die belangrikste dinge eerste kom.

Luister na jou gewete – dis één van die maniere hoe Hy met jou praat. Dit is soos ’n rooi verkeerslig. Dit waarsku teen gevaar en gee die bevel om te stop. Die keuse bly steeds joune. Hoe meer jy ingestel is op die fyn stemmetjie in jou binneste, hoe duideliker word dit.

Maak jou ore oop vir die regte stemme

Baie mense hoor nie omdat hulle kies om nie te hoor nie. Daar is ’n uitdrukking wat sê: Jy hoor net wat jy wil hoor. Ons herken nie die stem wat met ons praat nie, want dit wat ons hoor, pas nie in ons boksie van wat ons wil hoor nie.

Samuel hoor iemand na hom roep. Elke keer staan hy op en gaan na Eli toe. En elke keer sê Eli dit was nie hy wat hom geroep het nie. Die derde keer het Eli besef dit is die Vader. Soms het ons ’n Eli in ons lewe nodig om ons te help om in al die geraas die regte Stem te onderskei.

Ek wens ek kon sê dat ek ander stemme goed kan hoor wanneer my TV aan is of wanneer ek tussen ’n klomp mense is. Om Sy stem te kan hoor en uit te ken is eenvoudig: Spandeer tyd in stilte, sodat jy kan leer om meer soos Hy te wees. Bly nederig en wees bereid om te luister.

Hou aan soek, wag, vra en luister

Ons ken almal die armbandjies wat lees: “What Would Jesus Do?” Dit moet eerder lees: “What Did Jesus Do?” Ons weet wat Hy gedoen het … Hy het gedien, voete gewas en baie van sy tyd saam met armes en siekes deurgebring. Dis nie altyd dinge waarvoor ons kans sien nie.

Om te hoor beteken ons ontvang informasie, om te luister beteken ons doen iets met die informasie wat ons ontvang het.

As jy beter wil hoor wat die groter plan vir jou lewe is, bid vir wysheid en volg in die voetspore van die Perfekte Voorloper. Jy hoor die beste as jy stil is en nie haastig leef nie. Wanneer jy ’n teesakkie in kookwater sit, word die water geleidelik tee soos dit trek. Wanneer jy jou prioriteite in orde kry, gebeur dieselfde met jou lewe, en sal jy die regte Stem al hoe duideliker kan hoor.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer artikels van Liesel.