Praat God vandag nog met ons?

0
186
God_praat.jpg

Dis nie net in die Bybel dat mense hemelse boodskappe ontvang nie. Moderne gelowiges kan hoor wat hulle moet weet. Dié kommunikasie is egter nie dieselfde vir almal nie.

Die meeste gelowiges hoor nie ’n stem wat vir hulle boodskappe, riglyne en raad gee nie. Dit beteken nie dat daar niks is om te hoor nie! Maak net jou oë, jou ore en jou hart oop vir wat jy uit die hemel kan hoor.

Lees jou Bybel om te hoor wat jy moet

hennie_stander_1.jpgWanneer ’n mens die Bybel lees ontvang jy inligting, maar ook inspirasie. Vir ’n verrykende en verdiepende spirituele ervaring moet jy tyd maak om te lees.

Bybeldagboeke of radioprogramme wat daagliks ’n teksvers gee saam met die gedagtes van ’n skrywer, werk goed vir mense wat van roetine hou. Jy kan ook die Ou en Nuwe Testament op jou eie stelselmatig deurlees en oor ’n gedeelte mediteer.

Hennie Stander, skrywer en teoloog, sê: “Ek het ’n paar tekste wat my keer op keer in ’n wye verskeidenheid van omstandighede bemoedig. Dit is asof daardie selfde tekste elke keer vir my nuwe betekenis kry en elke keer opnuut met my praat.

“Een van my lieflingverse is Romeine 8:26, en spesifiek die bewoording van die 1933-53 Afrikaanse vertaling: En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

“Keer op keer verseker hierdie woorde my dat ek nie hoef te soek na woorde om my gemoedstoestand in gebed te verduidelik nie.”

Jou omgewing bring boodskappe uit die hemel

liesel_krause_wiid_1.jpgDit is nie net wat gelowiges lees wat vir hulle sê wat hulle moet hoor nie. Enigiets wat met jou gebeur, kan ’n boodskap bevat. Die geheim is om jou oop te stel vir sulke tekens.

Liesel Krause-Wiid, predikant en sakevrou, het al baie ervarings gehad waar sy antwoorde op onverwagte maniere ontvang het. “’n Televisieprogram wat regstreeks uitgesaai is, wou eenkeer ’n onderhoud met my voer. Ek was baie benoud. Sê nou ek maak droog voor miljoene kykers?

“Op pad na die ateljee het ek hardop en met oop oë agter die stuurwiel gebid gevra dat die Here asseblief by my moet wees.

“Net toe ry ’n vragmotor by my verby, met bemoedigende woorde op die bak geverf: God is with you and God is love. Ek kon my oë nie glo nie, dit was ’n onmiddellike antwoord op my smeekgebed.

[pagebreak]

Doodgewone mense is heilige boodskappers

christa_jonker_jordaan.jpgWanneer engele in die Bybel met mense praat, lees gelowiges met verwondering daaroor. Maar as iemand vandag sê dat hy of sy met ’n engel gepraat het, verwerp gelowiges dit meestal met wantroue.
 Dat gewone mense vir jou ’n boodskap kan bring, is gelukkig makliker om te glo en raak te sien. Een manier om te weet dat jy die menslike boodskap kan vertrou, is wanneer iets wat jy reeds weet of oor benoud is, herhaal word deur wat mense vir jou leer.

Die skrywer Christa Jonker-Jordaan het in een van die dagboeke waarvan sy medeskrywer was, hiervan vertel. “Ek moet eerlik wees, soms voel ek of ek niks meer het om te gee nie. Ek voel soms vererg, geïrriteerd en misbruik.

“Dan kyk ek in ’n bedelaar se oë, verby die praatjies, en sien die swaarkry in vreugdelose oë. Ek onthou dan van my eie geldsake wat nie altyd uitwerk nie. Wat word van my as gelowige verwag? Daar word van my verwag dat ek sal omgee met tyd en geld wat in elk geval nie myne is nie. Die mense voor my deur herinner my telkemale dat ek nie ’n skoorvoet-Christen mag wees nie, maar iemand met ’n hart vol erbarming.

Die gevoel in jou hart kan van bo kom

susan_coetzer_3.jpgIn die voorwoord van haar boek Smarties vir die Siel vertel Susan Coetzer, skrywer, aktrise en motiveringspreker, hoe die idee vir hierdie boek na haar gekom het terwyl sy gedraf het.

“Ek hoor die beste in genoegsame stilte (soms op lang paaie of in die natuur, soms in drome) en veral wanneer ek draf as deel van my stiltetyd rondom ’n vraag waaroor ek reeds gebid het. Die stem wat ek dan hoor, is nie hoorbaar met die twee ore langs my skedel nie. Dit is ’n diep innerlike, sagte stem – dit voel of iemand aan my hart raak met ’n liefdevolle geskenk en dit saggies oopswaai.

“Dit voel totaal anders as wanneer ek in eie krag sit en idees uitsweet of raad by mense vra. Dis soos ’n innerlike lig wat op ’n spesiale moment aangeskakel word … ek wéét net …

“Soms kan ek by optredes hoor wie ’n drukkie nodig het – dan beweeg ek nader. Na die tyd kom vra mense my dikwels uit: ‘Hoe het jy geweet?’ Ek weet nie, ek het ’n stil boodskap gekry: ‘Stop en gee eers ’n drukkie voor jy verder praat.’

“Dis ’n gratis gawe wat ek soms onverwags ontvang. Ek kan dit nie afdwing nie. Ek vra nie te veel ‘kopvrae’ hieroor nie.”

Miskien is die vraag nie of God vandag nog met sy kinders praat nie, maar eerder of hulle nog weet hoe om na sy stem te luister. Op verskillende maniere kom wat gelowiges moet hoor na hulle toe. Dis in jou hande of jy jou oopstel om te luister op die wyse wat by jou pas.

DEEL
Vorige artikelGod bly belangrik
Volgende artikelDankiesê-Projek
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.