Praat jy die taal?

0
43
praat_jy_die_taal.jpg

Leer ken net mekaar se liefdestaal – elkeen praat in ’n ander taal.

Kom ons wees eerlik met onsself. Ons lewens is meestal ’n gejaag van een plek na die ander. Nog ’n aktiwiteit waarby die kinders afgelaai moet word, nog ’n afspraak wat nagekom moet word. Jou dae raak weg tussen gimklasse, jou motorlisensie wat hernu moet word en krag wat gekoop moet word.

Elke nuwe jaar lê vol rosige belofte: Ons wil afskaal, minder TV kyk, meer gehaltetyd saam met ons kinders deurbring, meer oefen en meer lees. Jy maak planne vir tuisdoenprojekte en die plekke wat julle saam wil ontdek in die nuwe jaar. Goeie en mooi voornemens. Maar dan skop realiteit jou vol in die maag en neem jou lewe uit jou hande.

Teen die derde week van Januarie word julle aandete weer voor die TV geëet, daar is ’n week laas met die hond gestap en jou gesinslede ontmoet mekaar dalk iewers tussen ontbyt en weg wees vir werk oor ’n bord Weetbix en ’n glas vrugtesap. Dis dán dat jy jou moet afvra: Praat ons die taal van die liefde?

In sy boek, Vyf tale van die liefde, skryf Gary Chapman, wat reeds meer as 35 jaar getroud is, dat dit onontbeerlik is vir enige verhouding om die taal van liefde te ken en te verstaan. Én dit toe te pas.

Praat die taal van die liefde

1STE HARTSTAAL: Opbouende woorde. Mark Twain het eenmaal gesê dat hy twee maande op ’n goeie kompliment kon leef. Voel jy dieselfde? Lewe dan juis dié lewensreël voluit: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.

2DE HARTSTAAL: Gehaltetyd. Chapman glo gehaltetyd is meer as blote nabyheid. Dit is om al jou energie op jou maat of kind of vriendin te fokus. Dit behels gedeelde ervarings, gedagtes, gevoelens en begeertes in ’n vriendelike, ononderbroke konteks. ’n Belangrike aspek hiervan is om jou self te ken. Eers dan kan jy jou werklik gee aan die belangrike mense in jou lewe.

3DE HARTSTAAL: Die gee van geskenke. Visuele simbole van die liefde, noem Chapman sy derde liefdestaal. Vir sommige mense mag dit beteken dat hulle hulle houding oor geld sal moet verander. Mense wat voel dat hulle eerder wil spaar of belê, moet verstaan dat hulle geld nie noodwendig in geskenke belê word nie, maar in die verdieping van ’n verhouding.

4DE HARTSTAAL: Diensbaarheid. Eenvoudige takies in en om die huis praat hierdie taal hard en duidelik, maar dis belangrik om te leer presies wat vir jou kind, jou vriendin of jou maat die meeste beteken. Diensbaarheid vereis dikwels dat stereotipes laat vaar en geslagsrolle geruil moet word.

5DE HARTSTAAL: Fisieke aanraking. Dit is in die meeste verhoudings dikwels die belangrikste. Verstaan hoe jou kind op jou aanraking reageer en vind uit wat vir jou man fisiek en emosioneel die meeste beteken.

[pagebreak]

Praat die liefdestale in jou alledaagse en gesinslewe

Om hulle liefdestaal met die mense na aan jou hart te praat is ’n keuse wat jou lewe op verskeie maniere kan verryk. Jy doen dit omdat jy hierdie mense gelukkig wil maak. Die wonderlike ding is dat hulle dan dikwels jou liefde beantwoord en jou taal begin praat.

Wanneer twee persone se primêre liefdestaal dieselfde is, is dit hoogs waarskynlik dat daardie verhouding suksesvol sal wees. Dit is omdat ’n mens geneig is om dit waaraan jy ’n behoefte het, vir die ander persoon te doen.

Vir sommige mense is dit nie maklik om die liefdestale te praat nie, omdat hulle uit hulle gemaksone moet klim en dinge moet doen wat hulle nie gewoonlik doen nie. As jy die vyf liefdestale egter elke dag in al jou verhoudings toepas, sal jy waarlik in voeling met jou kind, vriendin of man kom. Dít is op sigself reeds ’n reusebeloning.

Leer ken jou maat se liefdestaal

Sommige mense praat van sielsgenote. Dié mense herken die liefdestaal wat hulle maat van hulle verlang. Maar dis nie vir almal maklik nie. Om jou maat se liefdestaal te kan praat, is dit belangrik om te let op die negatiewe gebruik van Chapman se vyf liefdestale.

As jou man jou met drie afkrakende woorde vir die res van die dag kan stilmaak, is jou primêre liefdestaal waarskynlik opbouende woorde. As jy gedurig kla en mor omdat hy feitlik pal op die gholfbaan is, is jou primêre liefdestaal gehaltetyd.

Deur spesifieke voorbeelde en insidente uit julle huwelik te neem, kan jy maklik vasstel waar jy in die prentjie pas en hoe jou man binne hierdie konteks verstaan kan word. Kyk ook na dinge wat jy graag vir jou man doen en waarvan jy hou. Jy hou dalk daarvan om hom gereeld met ’n geskenk te verras. Dís dan jou primêre liefdestaal.

Ontdek jou liefdestaal ook deur jou droomman in jou verbeelding voor te stel. So kry jy belangrike leidrade om hierdie liefdesreis op ’n hoë noot voort te sit.