Praat minder vir ‘n goeie huwelik

0
140
sit_wag_voor_jou_mond.jpg

Vroue wil alles met woorde regmaak, maar soms maak dit juis meer skade! Dink só voor jy met jou man praat.

’n Vindingryke ma het op ’n dag die woorde-en-tandepasta-les vir haar kinders geleer. Moedeloos omdat die twee al weer heeldag baklei en mekaar die lelikste dinge toesnou, het sy hulle nader geroep vir ’n “speletjie”. Sy het vir elkeen gevra om hulle tandepasta en ’n bakkie te gaan haal. “Druk nou al die tandepasta uit die buisie in die bakkie.”

Eers was hulle versigtig, want dit voel soos ’n vreeslike stout ding om te doen. Toe begin dit lekker raak en kort voor lank was die buisies leeg. “Wat nou?” wou hulle weet. “Nou,” het hulle ma gesê, “moet julle asseblief weer die tandepasta terugsit in die buisies.”

Nodeloos om te sê, dit was ’n onmoontlike taak. Net soos dit is om woorde wat jy gesê het, weer terug te trek, het sy vir haar kinders verduidelik. Dit is ook ’n les wat baie grootmense nog moet leer.

Gelukkig is daar ’n maklike manier om die wag voor jou mond ’n hupstoot te gee: DINK. Voordat jy volgende keer met jou man praat, maak seker dat jy hierdie volgende vier punte goed deurgedink het. So sal jy “gehoor” voel sonder om jou man heeltemal te oorweldig.

1. Hoe groot is die dosis “praat” wat op jou hart is?

Probeer jy te veel goed gelyk sê? Op sy DVD, Laugh Your Way to a Better Marriage, verduidelik Mark Gungor op ’n baie eenvoudige en humoristiese manier hoe ’n man se brein werk. As jy dit verstaan, sal jy begryp hoekom jy net een ding op ’n slag met jou man kan bespreek. Anders as ’n vrou se brein, wat uit ’n magdom interaktiewe konneksies bestaan, werk ’n man se brein in boksies. Elke ding is netjies op sy plek geliasseer, soos in ’n outydse liasseerkabinet. Jy kan net een laai op ’n slag ooptrek.

As jy dan met jou man wil praat oor die feit dat julle te min tyd saam deurbring, gaan trek hy daardie laai oop. Binne is alles wat julle saam gedoen het, en dalk toekomstige planne. Maar as deel van jou argument dat julle te min tyd saam deurbring, sleep jy sy werk en gholfafsprake met sy vriende in. Ongelukkig bêre hy nie sy “Werk-, “Gholf-” en “Vriende-lêers” in júlle “Saamdoen”-laai nie. Snap jy dit? Net één saak op ’n keer.

Lees meer: Jou gekerm kan jou man doodmaak!

[pagebreak]

2. Reageer jy op ’n instink wat nie vandag meer relevant is nie?

Daar word altyd gesê dat jy op jou instink moet staatmaak. Dit is meestal ’n goeie idee mits jy onthou dat ons nie meer in grotte woon nie. Ongelukkig vereis die moderne wêreld dat mans soos van ouds baie paraat moet wees. Die roofdiere is nie meer leeus nie, maar gewapende rowers. So, dis nie ’n goeie plan om jou man te dwing om sy hipersensitiwiteit vir skielike stimuli af te leer nie – julle gaan dit dalk nodig kry.

Jy, aan die ander kant, kan gerus effens meer ontspan. Jy is nie meer deel van ’n hele groep grotvroue en -kinders wat mekaar moet beskerm nie. In jou huis is jy (hopelik) die enigste volwasse vrou, met ’n dogter of twee. Almal is oukei al praat julle nie heeltyd met mekaar nie.

Jou man stel nie minder in jou belang as hy nie ure saam met jou sit en koffie drink en oor ditjies en datjies praat nie. Hy is bloot ’n man. Onthou, vroue kan sowat 20 000 woorde per dag praat teenoor mans se skamele 7 000. As jy honger is vir geselskap, bel eerder jou beste vriendin, wat tien teen een ook nog ’n paar duisend woorde ekstra vir die dag oorhet.

3. Gaan dit jou nader aan hom bring?

Gaan dít waaroor jy wil praat, jou en jou man nader aan mekaar bring of verder uit mekaar dryf? Volgens Steven en Patricia is dit redelik duidelik dat praat julle nie nader aan mekaar gaan bring nie. Hulle stel voor dat julle liewer dinge dóén wat julle nader aan mekaar gaan bring.

Soos wat? wil jy weet. Die eerste ding doen jy eintlik op jou eie: Die vermoë om die wêreld deur jou maat se oë te sien, is seker die belangrikste vaardigheid wat nodig is vir ’n intieme verhouding. Jy kan dit alleen regkry as jy weet wat jou maat se kernwaardes is, waarvoor jou maat bang is en waarvan hy hou. Natuurlik is dit ook nuttig om die verskille tussen julle twee te verstaan en aanvaar.

Die tweede ding doen jy ook op jou eie: Dink positiewe dinge oor jou maat. Dis maklik om die swakhede en irritasies raak te sien. Sodra jy egter begin dink dat jou man goed is in sy werk, ’n goeie pa is, aantreklik is ensovoorts, sal hy dit dadelik in jou gedrag raaksien.

En ja, jy het die derde ding sien kom: seks.

4. Gaan dit veroorsaak dat hy kortisol-dronk word?

Kortisol is die hormoon wat jou aandag trek en paraat maak. Wanneer jou man oorstimuleer word, soos deur te veel gepraat, kan dit hom “dronk” maak aan kortisol en 'n kortisol-babelas veroorsaak. Dink daarom eers; Het julle verhouding regtig ’n oordosis kortisol nodig? En die kortisol-babelas wat daarop volg? Soms dae lank? Die antwoord is heel waarskynlik nee. Klink dít wat jy vir jou man wil sê, soos ’n aanval wat sy lyf vol kortisol gaan pomp? Dan is dit beter om óf stil te bly óf ’n beter manier te kry om dit te sê. ’n Oordosis van hierdie noodsaaklike, dog verwoestende, hormoon is dalk genoeg rede om die wag voor jou mond meer paraat te maak. Boonop het langdurige en hoë vlakke van kortisol die volgende negatiewe uitwerking:

  • Dit verlaag die breinfunksie.
  • Dit gooi jou bloedsuiker omver.
  • Dit verminder beendigtheid.
  • Dit verswak spierweefsel.
  • Dit veroorsaak hoë bloeddruk.
  • Dit verlaag jou weerstand teen siektes.
  • Dit veroorsaak ’n toename in buikvet.

Gevolgtrekking: DINK voor jy praat! Julle sal sommer albei meer ontspanne wees en meer ontvanklik vir dit wat wel gesê moet word, veral wanneer dit op die regte manier gebeur.

Wonder jy nog steeds hoekom vroue baie praat en mans, oënskynlik nie luister nie? Kliek hier en lees die artikel Jou gekerm kan jou man doodmaak.