Praat só jou kinders se taal

0
1360

Anri Powell van Ace Models in Bloemfontein glo dat kommunikasie met jou kinders soos ’n spier is wat geoefen moet word. Hoe meer jy dit doen, hoe sterker en makliker word dit.

Kinders ervaar druk uit alle rigtings – van die media af, die skool, in hulle vriendekring en van Ma en Pa, wat graag wil hê hulle moet presteer. Die toename in die tienerselfdoodsyfer is kommerwekkend en ’n aanduiding van hoe belangrik dit vir ouers is om die geselsknoppie gereeld te druk.

Anri, wat die voltydse ma van die baie bedrywige en sportiewe Caylyn (11) en Jaedan (9) is, is van mening dat om openhartig en eerlik met mekaar te kan praat in ’n gesin van die uiterste belang is.

“In ons huis is ons ’n span en lê ons baie klem op die feit dat elkeen ’n stem en ’n plek het. Almal het ’n wêreld – ’n pappa-wêreld, ’n mamma-wêreld, ’n boetie- en ’n sussie-wêreld. Elkeen kry ten minste een keer ’n week die kans om te vertel wat in daardie wêreld aangaan – emosies, lyf, siel en gees. Dit skep ’n gevoel van eenheid, waardigheid en vertroue.”

Anri en Jimmy se grootste uitdaging omtrent kommunikasie met Caylyn en Jaedan is die feit dat hulle so verskillend maar tog so eenders is en om hulle daagliks veilig genoeg te laat voel om wel dinge te wil deel.

“Albei ons kinders het gelukkig ’n baie oop en eerlike geselskanaal met ons. Dit het aan die begin doelbewuste gesprekke en inspanning geverg om dit gemaklik en natuurlik te laat plaasvind. Wie is nou lus om na ’n lang dag diep gesprekke met almal in die huis te hê? Dit vereis baie energie, maar later gebeur dit al hoe meer spontaan en natuurlik. Om te praat oor wat in jou hart aangaan, is soos ’n spier wat geoefen moet word. Hoe meer jy dit doen, hoe sterker en makliker word dit.

“Ons het onlangs ’n baie goeie vriendin in ons vriendekring verloor. Een aand aan tafel het ons met Caylyn en Jaedan hieroor gesels en kon hulle met vrymoedigheid hulle onsekerheid en vrese oor die dood van ’n mamma of pappa met ons deel. Ek is so dankbaar dat ons daardie gesprek met hulle kon hê oor die realiteit van die dinge rondom ons. Dit het hulle ’n bietjie meer sekuriteit gegee toe ons openlik daaroor kon praat.”

Wat is die Powells se geheim vir sinvolle geselstyd met mekaar?

“Ek en Jimmy probeer om nie net bolangse goedjies te bespreek nie, maar om dieper gesprekke op ’n weeklikse basis te inisieer. Om vra vrae soos: Het ek iets gedoen waarvan jy nie gehou het nie? Het ek iets belowe en dit nie nagekom nie? Is daar iets wat jy bang is om te sê omdat jy onseker is oor ons reaksie? Hulle kry so die geleentheid om oop en eerlik met ons te praat.”

Anri glo dat ouers baiekeer luister om ’n antwoord te gee en nie om net te luister nie. “So mis ons die jong klomp se harte omdat ons hoor wat ons wil en nie wat hulle regtig vir ons sê nie. Om met ’n foon in jou hand te sit terwyl jou kind met jou praat, is ’n manier om die geselsknoppie te mute, want jou aandag is nie waar dit moet wees nie en jy hoor nie die helfte van wat gesê word nie. Ons mis soveel hartsgesprekke met ons kinders omdat ons net te besig is.

“Die tieners met wie ek werk, deel gereeld dinge met my wat eintlik met ’n ouer gedeel moet word, bloot omdat hulle veiliger by my voel as by die huis. Dit is vir my hartseer om te dink dat ’n ma hierdie gesprekke mis. My raad aan jou is om seker te maak dat jou geselskanaal oop is. As ’n mamma moet jy jou kind laat verstaan dat jy omgee en dat jy sy of haar hartsgeheime wíl hoor.”