Praat soos met ’n grootmens

1511

Kinders in die huis kan ’n uitdaging wees. Hier is raad hoe om daardie moeilike gesprekke met jou kind te hê sonder om haar hart te mis.

Kinders moet weet dat woedebuie, ’n gekerm, stilstuipe en dreigemente nie sal help om ’n ouer te oorreed nie. Hierdie tipe manipulasie behoort reeds in die kleinkinderjare in die kiem gesmoor te word, anders sal tieners hulle ouers heerlik om hulle pinkie draai.

Sorg dat jy self komkommerkoel bly. In die hitte van die oomblik kan ’n mens dinge sê waaroor jy later spyt gaan wees. Stel eerder voor: “Kom ons gaan dink eers verder hieroor en gesels later weer.” Maak soveel toegewings moontlik.

Oor sekere sake kan daar natuurlik nie onderhandel word nie, naamlik dié wat te doen het met morele waardes,

Bybelse voorskrifte en landswette, soos die ouderdomsperk by films, drankgebruik deur minderjariges en rybewyse. Leuens, onbedagsaamheid en onbetroubaarheid is eweneens onaanvaarbaar.

Ander kwessies soos inkomtye, deurmekaar kamers, buierigheid, haarstyle en modegiere val in die grys gebied en daaroor kan julle tot ’n vergelyk kom.

My kind wil nie na my luister nie

Ouers kla dat kinders hulle onttrek en te stil is. Of, aan die ander kant, dat hulle buierig, aggressief en luidrugtig is. Hulle wens hulle tieners wil meer met hulle deel en op ’n vriendelike manier met hulle praat.

Kinders het dieselfde klagte! Selfs kinders wat goed met hulle ouers oor die weg kom, wens hulle ouers wil meer na hulle luister en meer met hulle praat. Hulle wens dat hulle ouers minder krities en veroordelend sal wees en gewilliger sal wees om hulle sienings te bespreek.

Ma, bewys jouself ’n guns en luister weer ’n slag na jou kind. Luister na wat sy dink, hoe sy voel en wat sy graag sal wil doen. Probeer haar sienings verstaan en aanvaar. Respekteer haar as mens (wat nie meer ’n kind is nie).

Dis moeilik om eerlik oor seks te praat

Verseker jou kinders dat hulle oor álles met jou kan praat. Kyk uit vir ’n lekker wegspringplek, soos ’n vriendin se swangerskap of een van jou dogter se klasmaats wat in die moeilikheid is.

Maak seker dat jy jou kind verstaan en dat jy weet wat sy bedoel. Moenie sommer jou eie gevolgtrekkings maak nie; dit sal net misverstand veroorsaak en sy sal dalk nie weer vra nie.

Antwoord haar vrae eenvoudig, direk, feitelik en eerlik.

Deel jou gedagtes en waardes en help haar om hare uit te druk. Gee raad oor hoe om uit moeilike situasies te kom.

Erken dit maar as jy nie die antwoord op ’n vraag ken nie. Stel dan voor dat julle saam die antwoord op die internet of in die biblioteek gaan soek. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie!

Sy is heeldag op haar foon besig

Die meeste kinders bestee heeltemal te veel tyd voor die televisie, op die selfoon of in die winkelsentrum. Hulle kry nie genoeg buitelug, oefening of slaap nie en hulle skoolwerk en tyd saam met die gesin kan daaronder ly. As jy voel dis op jou kind van toepassing, is dit tyd vir vreedsame onderhandelings. Kies die regte tyd om te gesels – nie in die middel van ’n boeiende storie of voor haar maats of boeties nie.

Begin die gesprek só: “Daar is iets wat my pla en ons moet daaroor gesels.” Gee die redes vir jou besorgdheid en voeg daarby: “Dis nodig dat daar iets aan die saak gedoen word. Het jy enige voorstelle?”

Jou gesindheid is belangrik. Moenie jou tiener aanval nie; beklemtoon eerder die onhoudbaarheid van die situasie. Behandel haar met respek – praat met haar soos met ’n kollega. Vermy woorde soos altyd, nooit, almal.

Daar is een ding wat jy het wat jou kinders nog nie het nie, en dit is perspektief. Dit kom net deur jare se ondervinding. Jy is dit aan hulle verskuldig om rigting te gee in ’n verwarrende wêreld.