President Ramaphosa verduidelik

So mense kan mos nie verstaan hoe ‘n liefdevolle God, ‘n goeie God, mense die hemel kan weier nie… want Hy ken hulle nie!

Maar ek en jy “ken” mos President Cyril Ramaphosa goed EN Hy is verantwoordelik vir ons in Suid Afrika.

So kom ons gaan klop aan sy hek en dring daarop aan om by hom te gaan intrek.  Jy sal nie eers by sy lyfwagte verbykom nie, want wie is jy dan nou?  Hy ken jou nie!

En ons sal dit ook nie van hom verwag nie.  Ons weet mos hy ken ons nie.

So hoekom verbaas dit ons so dat die Here ook daarop aandring om ons eers te “ken” voordat ons in Sy huis wil gaan inwals?

Selfde met alle paaie wat lei na God toe.

So sê nou Pres Ramaphosa bly in ‘n spesifieke area aan die einde van ‘n cul de sac.  Hy nooi jou toe wraggies uit om by hom te kom kuier en verduidelik vir jou presies hoe om by hom uit te kom… hier links dan daar regs, oor die stopstraat en reguit aan tot die pad jou bring na hierdie nommer kasteel…

Maar jy sê vir hom jy wil eerder links gaan waar hy regs gesê het, en dan regs waar hy gesê het gaan reguit aan.  Daar is geen manier wat jy ooit by sy huis gaan uitkom nie!!!

Maar ons weet mos beter! Die Woord verduidelik in die fynste besonderhede hoe die Here, Sy skepping, Sy redding en Sy lewe werk.  Ons sê nee dankie en doen dit ons manier…

En dan laastens.

Ons is so aan die bid vir Suid Afrika, maar ons soek ons land op ons terme.

Ons wil hê dinge moet weer wees soos wat dit was, so ons bid teen haat, onvergifnis, korrupsie en wat ookal anders ons pla.  Maar ek dink die Here gebruik die vieslike goed juis om vir ons te wys wat in ons harte skuil.  Selfsug, hoogmoed, afgodery…

En die waarheid is, al hierdie booshede is simptome, dit is nie die wortel nie.

Die wortel is ons harde ongeredde harte!  Iemand wat Jesus volg het die vrug van die Gees en die vrug van die Gees is die antwoord op elke liewe probleem in Suid Afrika.  Van die regering tot die boer tot die booswig.

Ons moet bid vir die redding van Suid Afrika, dan sal die ander goed met tyd in lyn kom.

En nee, die probleem is nie naastenby te groot vir die Here nie!