Pret op die internet of gevaarlike wapen?

53

Kinders sit grootmense ore aan as dit kom by tegnologie. Dit is egter die een plek waar alle gebruikers ingelig moet wees om hulleself te beskerm.

Soos op enige pad is daar op die internet ook “dronk” bestuurders vir wie ’n mens moet lig loop. Kriminele in die kuberruim steel data, identiteite, geld en selfs mense! Die versoeking vir ouers veral is groot om jou kind ’n selfoon in die hand te stop en maar die oë toe te knyp. Alle gebruikers behoort egter te verseker dat hulle ’n “lisensie” kry vir die internet deur te weet hoe om veilig aanlyn te bestuur.

Wees versigtig met wie jy jou location deel

Daar is verskillende apps wat outomaties wys waar die gebruiker op ’n bepaalde tydstip is. Verduidelik vir jong gebruikers dat as hulle iewers aanteken of laat weet dat hulle nou by hulle bestemming opgedaag het, dit goed én sleg kan wees.

Dis goed, want daar is dalk vriende in die omgewing wat wil kom kuier. Dit kan egter ’n risiko wees as die res van jou Facebook-kontakte sien dat jy nie by die huis is nie. Ons ken hulle mos nie regtig almal nie.

Jongmense veral moet versigtig wees, want die inligting kan gebruik word om hulle fisies op te spoor. Gaan eers na die choose audience-stelling op Facebook voordat sulke tipe inligting geplaas word. By location settings kan ’n mens kies of jy die app wil toelaat om te weet waar jy is.

Stadig met al daardie selfies!

’n Foto van jouself op die strand kan dalk onskuldig lyk, maar dit verklap verskuilde inligting wat sê waar en wanneer die foto geneem is en watter tipe toestel gebruik is. As iemand weet waar om te kyk, sal hulle selfs die GPSkoördinate kan sien en presies weet waar jy is.

Dit is beter om foto’s van lang tye weg van die huis ná die tyd te plaas. En om jou slimfoon se privaatheidstelling (privacy setting) te verander of dit op flight mode sit voordat jy die foto’s neem.

Foto’s van kinders in die bad is ’n groot risiko, want dit kan in die verkeerde hande en netwerke beland. Ook foto’s van jouself (jonk of oud!) in ’n swembroek of skrapse klere is riskante foto’s wat die verkeerde tipe aandag kan trek.

Wagwoorde beskerm jou én jou kontakte

Mense wat nie wagwoorde gebruik om hulle toestelle te beskerm nie, stel hulle eie inligting bloot, asook dié van hulle kontakte. Kyk altyd wie jou dophou terwyl jy jou wagwoord intik of die patroon op die skerm maak.

As dit ’n frustrasie is om al daardie wagwoorde te onthou, maak dit maklik. Dink aan ’n sin soos “Ek is lief vir die see in Desember” (EilvdsiD) en voeg ander karakters by: EilvdsiD$!

Alle gebruikers moet weet dat dit belangrik is om wagwoorde te gebruik. Sorg dat jy jou kinders se wagwoorde ken sodat jy enige tyd kan kyk waarmee hulle besig is.

Natuurlik sal kinders sê dit is privaat. Dit is hier waar ’n goeie verhouding en kommunikasie jou sal help om hulle veilig te laat voel. Hulle moet weet dat jy hulle inligting respekteer, maar wel moet kan sien as daar iets gebeur waarvan jy as ouer moet weet.

Moenie lui wees nie! Dit sal ’n bietjie moeite van jou verg, maar jy is dit aan jou kinders verskuldig om hulle te beskerm. Met goeie kommunikasie en ’n plan is julle ’n wenspan.

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.