Pruimedantvingers

Dawidstraat 45 was al bly-huis wat ek geken het. Die vreemde strate en dorpe daarna was almal net naweekplekke.

In daai lang pienk huis, soos wat Ma Stella altyd wou gehad het, was my lekkerste tye vandat ek sommer nog ‘n tjokker was, 7 namiddag, weeksdae, in die bad. Want net na die Nuus, was dit Storietyd op Pa Jan se swart dra-radio met die lang baksteen van ‘n 9-volt battery en die draadhanger aerial.
En vir hierdie girl kon jy van kleins af met ‘n storie vang.

Meer as een keer moes Stelltjie hard praat vir hierdie een om uit te klim, want daar was net een bad en Boetie moes ook deur en môre is dit skool. Luister ek so droom-droom met een oor terwyl ek my pruimedantvingers bekyk.

Vanoggend lees ek iets wat my opslag terugvat na daardie aande.

Fingers prune underwater not because of them absorbing the water
or washing away the oil,
but because of an evolutionary trait caused by the brain
to enhance the grip or your fingers
underwater.

Vir geen oomblik glo ek aan die teorie van evolusie nie. Wat ek wel glo is dat Vader ons die kans gee om te groei deur elke gram grusame pyn en teleurstelling.

Sien, dit help nie ek kom met my fyne Franse manikuur by die rotswand aan nie. Breek gaan hulle breek, en sonder ‘n paar skrape en snye sal ek nooit nie bo uitkom nie. As ek nóú reeds al my hande en voete en hart en siel vir die Here gee, sal Hy dit voorberei en brei en gereed maak vir die klim.

Met my fyne Franse manikuur en mý manier van bergklim, sou my frustrasie hoog en my vordering maar min wees. Daar sou net te veel dinge wees wat my aandag aftrek van die doel en die bestemming voor oë.
Maar as ek my klim en my klimtoerusting en my klimplanne in Sy hande los, dan word my rugsak lig en my gemoed ook. En my visie helder.

En die Here weet: Ek moes dit twee keer hoor. Gister in Psalm 42 en vandag in Psalm 43:

“Why am I discouraged?
Why am I restless?
I trust You!
And I will praise You again
because You help me,
and You are my God.”
CEV

Die hellings is rof, Here, die rusplekke maar min.
My proviand is soms maar oud en onaptytlik.
Vir hierdie klim het ek hulp nodig.

So, saam met Dawid vra ek dit:

“Send Your light and Your truth
to guide me.
Let them lead me to Your house
on your sacred mountain.”
Psalm 43:3

Jou temalied vir die week: I have this hope

Vorige artikelGod Gee Tweede Kanse
Volgende artikelHartsiekte en hipertensie: Bestuur jou risiko
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!