Pula van Niekerk: verloor 16,6 kg

0
12
pula.jpg

My byl is weer skerp

Dit het alles in 2006 begin: ’n Kniebesering het vir Pula, wat vyf Two Oceans- en vier Comradesmaratons voltooi het, letterlik tot stilstand gebring. Omdat té hard werk ook vir haar ’n uitdaging was en oefening nie meer haar uitlaatklep kon wees nie, het kos ’n kruk geword. Sy het geweet dinge moet verander maar sy het gevoel dat haar byl stomp geword het. Waar sou sy die vaardighede kry om haar struikelblokke te oorwin? Toe kom die geleentheid om een van die ’n nuwe jy deelnemers te wees en sy leer om deur uitdagende kwessies te werk. Te midde van ’n skildklierprobleem wat ook gedurende hierdie tyd gediagnoseer is en ’n laktose-onverdraagsaamheid het Pula steeds 16,6 kg afgeskud. Sy is op haar teikengewig en voel fantasties. ’n Groot bonus is dat sy nou – vandat sy haar ideale gewig bereik het – weer kan begin hardloop.  

Grense gestel

Verby is die dae dat haar werk haar sal laat ooreet. Sy ken nou haar perke en sê nie links en regs ja vir alles nie. Selfs die lekkergoed het les opgesê. As onderwyseres werk Pula in die koshuissnoepie. Dis ’n uitdaging as jy op ’n dieet is. Sy besluit toe om met haarself én die lekkergoed te praat: “Nee, jy sal dit nie eet nie. Dit is nie lekker nie!” Dis ook tóé dat een van die kinders haar sien en vra: “Met wie praat Juffrou so?” “Nee, gesiggie, ek praat met die lekkers. Ek sê vir hulle hulle is nie lekker nie.” Die antwoord? “Ek dink Juffrou is nie so lekker nie.” Grense vir ander was net so belangrik soos dié wat sy vir haarself moes stel. Die “nuwe” juffrou Pula is nou baie strenger. Voorheen het sy altyd die kinders jammer gekry en gesê: “Oukei, gee maar môre jou werk in.” Nóú is dit inhandig op tyd of basta.  

Uitdagings

Sy het bewys dat ’n gesonde leefstyl binne almal se bereik is – ongeag jou struikelblokke. Met haar eerste rondte inkopies in Clocolan het sy gesukkel om die regte produkte op te spoor en was onseker of die Weigh-Lesseetprogram vir haar gaan werk. Gelukkig het sy gou besef dat hierdie gesonde leefwyse regtig maklik en bekostigbaar is om vol te hou. Haar laktose-intoleransie en sensitiwiteit vir brood – ’n groot gunsteling – het haar gedwing om bykomende dieetveranderinge te maak. Haar oefenprogram het maar stadig begin. Gedurende die eerste week was net vier kilometer se stap baie uitdagend, maar sy het vasgebyt. Ook te midde van temperature van minus vyf grade in Bethlehem. Sy het ’n trapmeul aangeskaf en sommer hierdie tyd gebruik om kos vir haar siel te kry deur na Joyce Meyer op televisie te kyk. Na slegs drie en ’n half maande op die program berig Pula dat sy al lag-lag drie maal per week by Curves oefen en twee maal per dag vyf kilometer op die trapmeul draf. Sy word daagliks steeds fikser en kan nie wag om weer op die pad te begin draf nie.  

Hý is jou prozac

Pula se hondjies is vir haar baie spesiaal en só gebruik die Here hulle toe ook om haar tot waardevolle insigte te bring. Wanneer dinge verkeerd geloop het, het Pula nie nét na kos gegryp nie. Blondie, een van haar geliefde hondjies, “was my Prozac”, vertel sy. In ’n baie moeilike tyd, twee jaar gelede, was dit hierdie brakkie wat vir haar nuwe krag gegee het terwyl sy gewonder het: Waar is God? Het Hy my vergeet? “Ek het so mooi gevra en gebid.” Sy het gedink Hy het haar vergeet. Sy het op haar harige maatjie gesteun om te oorleef en nie op die Here vertrou nie. Toe word Blondie deur haar pa-hulle se honde doodgebyt. Haar lewe val uitmekaar. Haar Prozac is nie meer daar nie. “Nou, na twee jaar, weet ek eers dit was verkeerd. Ek moes na die Here toe gegaan het en nie na die hond nie.”