Put krag uit jou pyn

1692

In ’n stikdonker wêreld bly die blinde The Voice SA-sanger Vernon Barnard gefokus op die lig aan die binnekant wat hom deur elke slaggat en teleurstelling dra.

Dit het sommer net gebeur. Onverwags, in ’n oomblik… die ondenkbare.

Hulle het gesê dis sy voorland. Hy moet dit eendag te wagte wees. Die laaste bietjie sig in sy een oog gaan nie vir altyd hou nie.

Maar Vernon het bly hoop. Bly glo dat dit in sy geval anders sou wees. ’n Gloukoom-lyer wat nié mettertyd heeltemal blind sal word nie.

En toe spat sy hoop aan skerwe. Die wêreld word eensklaps pikdonker.

“Ek was sewentien, en het dié spesifieke middag op my bed gesit,” onthou hy. “Toe ek om my kyk, was alles skielik net weg.” Een groot, donker massa. Die vae buitelyne wat hy gewoonlik kon uitmaak, die skakerings van lig en donker, die dowwe beweging in die spieël wanneer hy vir homself gekyk het…

“Dit het alles verdwyn. In ’n oogwink.”

’n Stroom emosies het hom oorweldig. Hy het angstig en kortasem geraak… en toe loop die trane. “Dit kan nie wees nie. Here! Hoe is dit moontlik?”

Die maklike uitweg was om dit te ontken, die werklikheid te ignoreer. “Dit ís nie waar nie. Ek het net ’n slegte dag. Môre sal ek weer beter kan sien,” het hy homself moed ingepraat.

Maar dit het nooit weer verbeter nie, al het Vernon hardkoppig bly klou aan die laaste strooihalmpie wat hom tot hier toe taamlik onafhanklik gehou het.

Sy laaste vyf persent sig het baie vir hom beteken. “Ek kon in ’n paadjie afstap sonder om in goed vas te loop. Ek kon kleure onderskei en selfs die kriekettelling in die hoek van die TV-skerm uitmaak, as ek baie naby sit en baie hard konsentreer.”

Maar ’n nuwe hoofstuk het aangebreek. Hy sou moes vrede maak – nie net met sy blindheid nie, maar ook met die pynlike emosies wat hom gekeer het om vorentoe te beweeg. Hy vertel self:

Ek is ’n doelgerigte ou. Partymaal dalk té ambisieus. Iemand wat hou van groot planne maak en wat hard werk om daar uit te kom. Dis was nog nooit vir my lekker om te sukkel nie en dis vir my moeilik om hulp te vra.

Maar dan kom die dag dat jy besef dis tyd om oor te gee. Alles. Om God te vertrou met die groter plan wat Hy vir jou lewe het. En soms om ook jou broosheid met iemand te deel wat jou kan ophelp as jy voel jy kan nie meer nie.

Dit het vroeër vanjaar met my gebeur. Ek was op my laagste laag. Daardie gevoel wanneer jy dink jy vaar goed, maar dan ontplof dit in jou gesig. Wat help dit om te probeer?

Dit was tyd vir my om afsluiting te kry – oor al die dinge wat my al van kleins af pootjie.

Ek het lank in my lewe soos ’n buitestander gevoel. Altyd op ’n manier alleen en verstote. Nooit goed genoeg nie. My familie het my lief, God het my lief. Ek wéét dit. Maar om myself lief te hê was my grootste uitdaging.

My vroegste onthou hiervan was toe ek as tjokkertjie ver weg van my ma-hulle af na ’n nuwe skool toe moes gaan. ’n Plek waar ek met my swak sig baie beter sou kon funksioneer.

Dit was ’n rowwe tyd. Al die maatjies om my het gelukkig geklink, net ek was alleen en hartseer; so het dit gevoel. Siek van verlange na my mense wat ek net naweke kon sien.

Later raak jy gewoond daaraan. Jy leer om oor die weg te kom met wat jy het. Die koshuislewe brei jou tot jy sterk en onafhanklik raak. As ek nou terugdink, was dit baie goed vir my karaktervorming. ’n Slegte situasie wat ’n goeie doel gehad het.

Dis ’n patroon wat homself ’n paar keer in my lewe sou herhaal.

Ek dink aan al die kere wat mense kom bid het vir my sig om te herstel.

Die eerste keer as baie klein seuntjie het ek kliphard geglo Jesus gaan my gesond maak. Hy is dan lief vir my en ek glo in Hom.

Daardie aand wou ek nie eers my oë toemaak om te gaan slaap nie totdat ek nie ordentlik deur hulle kon sien nie.

En dan die teleurstelling… jy word wakker en die wêreld om jou lyk nog presies dieselfde. Dof en vaag.

Ek het elke keer ’n bietjie meer geloof verloor, nie in Hom nie, maar in die gedagte dat my toestand anders moet wees. Mettertyd begin jy besef dat die plan vir jou lewe dalk anders lyk as dit waarvoor jy gehoop het.

Die wete dat ek ná alles steeds blind is, omdat dit vir ’n groter doel gebruik gaan word. Die aanvaarding dat ek meer mense se lewens op hierdie manier sal kan aanraak as wat ek dit ooit siende sal kan doen.

Maar ek moet bieg. Ek is ook maar net mens, met al my goeie en slegte eienskappe

Daar was tye wat ek kwaad en opstandig hieroor was. In die donkerste tye van my lewe het ek gedink dis baie onregverdig.

Ek was dankbaar dat die Here my wou gebruik, maar moes ek regtig elke oggend hiermee opstaan? “Hoekom moet ek heeltyd ’n voorbeeld vir ander wees?” het ek baklei. “Hoekom moet Vernon suffer sodat dit vir iemand anders iets positiefs kan beteken? Wanneer gaan dit iets goeds vir my beteken?”

Wanneer ’n mens iets kosbaars in die lewe verloor – ’n geliefde, jou huwelik, ’n werk, jou gesondheid – is dit die tipe vrae wat deur jou kop maal.

As jy boonop onseker is en nie baie van jouself hou nie, kan jy maklik na buite kyk vir aanvaarding.

Dis gevaarlik, want dit is dan dat jy verkeerde gedagtes en mense in jou lewe toelaat, met die hoop dít vir jou respek gaan wen.

Dit was een van die groot foute wat ek in my lewe gemaak het: om myself in verhoudings en vriendskappe te plaas, omdat ek gedink het dit sal my meer waarde as mens gee.

Ek het lank na ander se goedkeuring gesmag. My lewe lank geveg daarvoor – om gehoor en gesien te word vir wie ek is.

Eintlik is daar nie regtig so ’n groot verskil tussen my en siende mense nie. Ek het dieselfde skoolvakke gehad, dieselfde geleenthede. Ek het presteer in akademie, uitgeblink in krieket, was hoofseun, en het ook drome en ideale. Selfs die manier waarop ek kommunikeer, verskil nie veel nie. Mense glo byvoorbeeld nie dat ek my eie e-posse of sosialemediaboodskappe beantwoord nie. Tegnologie maak dit moontlik. Ek doen dit net so vinnig soos jy.

Dis nogal ’n persepsie wat ek probeer verander – die feit dat mense dink as jy ’n gebrek het, skort daar iets met jou verstand. Dis nie lekker om in ’n geselskap te staan en geïgnoreer te word nie. Om ’n opinie te lug, maar niemand luister nie… want wat weet hierdie outjie nou? Watter bydrae kan hy maak? Hy is dan blind.

Of meisies sê vir jou jy het goeie waardes en alles, maar omdat jy nie kan sien nie, is jy nie mans genoeg nie. Dit maak seer.

My eiewaarde het ’n lelike knou gekry, maar herstel is moontlik, het ek ook intussen geleer. Al verg dit moed en eerlike introspeksie. As die lewe jou platslaan, hoef jy nie te bly lê nie.

Ek wou my lewe lank hê mense moet sê ek is goed genoeg. Maar die waarheid is dat niemand jou hiervan kan oortuig as jy dit nie self glo nie.

Allow God to turn your pain into your power.

Iewers het ek begin moeg raak om myself te probeer bewys. Ek het breekpunt bereik. Depressie wou my insluk.

Gelukkig het ek nog altyd ’n goeie ondersteuningsbasis gehad – ouers, ’n broer en familie wat my altyd bystaan.

Ek haal my hoed af vir my ma en pa. Hulle moes al self groot uitdagings oorkom.

Jare gelede, toe ek nog in die koshuis was, is die res van my gesin in ’n gewapende roof by die huis oorval. My ma, Benéta, was so styf vasgebind dat dit haar spiere beskadig het. Sy het Parkinsonsiekte ontwikkel as gevolg van die trauma. Nog vroeg in haar dertigs, was sy een van die jongste mense wat dit gekry het. Vandag nog is ons na aan mekaar. Ons twee verstaan mekaar se situasie en weet hoe dit voel om met iets saam te leef waaraan jy niks kan verander nie.

My pa, Vernon, is weer die tipe ou wat nooit moed opgee nie. Hy is een van die mees toegewyde, hardwerkendste mense wat ek ken. Hy moes ’n paar keer in sy lewe oor begin, maar hy staan elke keer op en doen sy bes om sy gesin op die hande te dra.

Dis die tipe man wat ek eendag vir my gesin wil wees. ’n Steunpilaar, ’n vasbyter.

My ouma, Grietjie, is ons gesin se geestelike kryger wat baie van haar tyd op haar knieë deurbring. Ek kan nie eers dink waar ons vandag sou gewees het sonder haar gebede nie.

Ek het groot respek vir waar ek vandaan kom. Toe my pa voorstel dat ek ’n geestelike berader gaan sien, het ek geweet hy is reg. Ek moes by die wortel uitkom van die dinge wat my terughou.

En ek het. Verwerping – daardie gevoel dat jy eenkant toe gestoot word – was een van die groot struikelblokke in my siel wat moes uit.

Om dit te kon raaksien en te erken – daar waar dit al as seuntjie in ’n kosskool en pouses op die speelgrond posgevat het – was ’n reusestap in die regte rigting.

Ek het baie uit hierdie beradingsessies geleer. Soos die besef dat ander mense se optrede teenoor jou oor hulle eie redes gaan; en nie omdat jy nie goed genoeg is nie.

Ook dat niks my ooit van God se liefde kan skei nie. Elke keer wat ek opgemors het, het ek gevoel daar is hierdie keer geen omdraaikans meer nie. Wat ’n leuen! Ons is altyd weer welkom, nes die verlore seun. Jy dra dalk die gevolge van jou keuses, maar jy dra dit nie alleen nie.

Ek moes ook besef dat ek nie mense se goedkeuring nodig het nie, want ek het al klaar Sy stempel van goedkeuring gekry. Vir Hom is ek goed genoeg; daarom hoef ek nie te smag dat mense, elkeen met hulle eie uitdagings, dit vir my gee nie.

’n Ander belangrike les was om te weet dat al het jy ’n goeie hart, dit jou soms in die moeilikheid kan bring. Ek wil mense graag help, maar dit beteken nie almal verdien my tyd of energie nie. Nie almal gaan dit waardeer nie. Daarom moet ek kies wie ek in my binnekring gaan toelaat. Ek moes leer om versigtig te wees vir wie ek my hart oopgooi en sensitief oor wanneer om my uit ’n giftige situasie te onttrek.

Jy word makliker afgetrek deur iemand as wat jy deur hulle opgetrek word.

My perspektief oor myself en die lewe het heeltemal verander. Die angstigheid en perfeksionisme waarmee ek soms sukkel, is nou baie minder, en ek kan dit vir die eerste keer in ’n lang tyd op ’n positiewe manier hanteer.

Let go and let God. Ek vat nie meer alles in my eie hande nie. Hardloop ook nie meer in rigtings wat nie vir my bedoel is nie. Ek doen wat ek kan, en vertrou Hom vir die res. Ek gee die leisels oor en raak rustig in die wete dat as ek in Sy lig loop, ek sal uitkom waar ek moet wees.

My grootste les is dat wanneer die lewe jou seergemaak het, jy afsluiting moet kry as jy wil aanbeweeg. Jy kan nie vorentoe beweeg voor jy nie dit wat agter jou is, laat gaan nie.

Deesdae het ek nie meer nodig dat mense vir my moet sê: “Vernon, jy is ’n oulike ou” nie. Dis iets wat ek klaar weet, hier binne-in my.

Ek voel my blindheid word gebruik om vir ander mense hoop te gee. Hulle sien: “As hierdie ou dit kan doen, met al sy uitdagings, kan ek dit ook doen.” Die inspirasie-faktor is daar, maar dit gaan ook oor meer as dit. Jy moet wys dat jy sterk genoeg is om jou uitdagings te oorkom.

Dis wat ek vir mense wil wys. Moet my nie jammer kry nie. Dis die slegste ding wat jy vir my kan doen. Bejammering maak dat jy gemaklik raak met jou situasie. As mense my jammer kry, gaan ek ook naderhand dink: Ag, dis oukei, hulle verstaan. Die lewe is moeiliker vir my, so ek hoef nie so hard te werk nie.

Dis die laaste ding wat ek nodig het. Ek wil eerder my uitdagings hanteer, dit oorkom, en gebruik om persepsies te verander. Ek wil vir mense wys: Voordat jy nie iets probeer het nie, het jy geen rede om te sê dit kan nie werk nie. Probeer eers. Enigiets is moontlik.

Mense moet ook in my sien dat jy ten spyte van jou omstandighede, steeds kan lag en voluit kan leef. Ons elkeen besluit self watter plek ons in die lewe wil hê.

Ek hoef nie op die vlak te bly waar mense dink blindes hoort nie. Hoe ek leef, en wat ek kies om met my lewe te doen, is my keuse. My omstandighede gaan dit nie vir my besluit nie.

Glo dit of nie, ek is ook dankbaar vir my gebrek. Dit gee my die vermoë om mense se gevoelens baie sterk aan te voel – die energie wat ’n persoon uitstraal. Dit kom veral duidelik deur in hulle stemtoon. Dis ’n gawe wat dit vir my maklik maak om mense met liefde en deernis te behandel.

Ek sal ook nooit op mense neerkyk of hulle oordeel nie, ongeag hulle situasie of agtergrond, want ek weet hoe dit voel. As jy eers self aan daardie kant van die draad was, sal jy dit nooit vir iemand anders toewens nie.

My blindheid is dus ’n bedekte seën – iets waarmee ek liefde, hoop en deernis in ander se lewens kan saai. Dit lyk of dit ook uitkom in my musiek en die interaksie met mense in die gehoor wanneer ek optree.

Nou die dag, na ’n konsert, kom ’n vrou na my toe om dankie te sê. Sy vertel dat een van die liedjies (“Voel”), haar gehelp het om los te breek uit ’n verhouding waarin sy mishandel was. “Ek het weer my waarde ontdek,” was haar woorde, “en het besef ek is meer werd as die manier waarop ek behandel word. Ek hoef dit nie toe te laat nie.”

Dit was wonderlik om te hoor, want ek weet hoe hard ek daaraan moes werk om my eie waarde te besef. Dit beteken nie elke dag is wonderlik en dat ek nooit meer af dae beleef nie. Ek wil nie soos die ou klink wat sê ons leef in ’n wêreld van reënboë en skoenlappers nie. Dis nie waar nie.

Wat wel waar is, is dat ek die minder goeie tye nou baie beter kan hanteer omdat ek met nuwe oë na myself en my omstandighede kyk.

Ek is maar net ’n ou wat wil sing en ’n verskil wil maak. Iemand wat hier op aarde gesit is vir groot dinge. My blindheid gee my ’n platform om my roeping op ’n besondere manier uit te leef. Daarom is ek nie meer kwaad oor my gebrek nie.

Ek is dankbaar, want ek weet nou wat dit beteken om Sy lig deur my donker wêreld op ander te laat skyn.