Pyn, verlies, keuses, lesse… Dewald Wasserfall ken dié afdraaipaaie goed

401
Dewald Wasserfall

Daar was ’n droom in sy hart. Al wat hy wou doen, was om te sing. Om deur musiek mense se lewens aan te raak.

Maar niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie. Pyn. Verlies. Moeilike keuses. Harde lesse. Sanger Dewald Wasserfall ken hierdie afdraaipaaie goed.

Jy is goed, maar nie só goed nie.” Dit was die baas se woorde. Hy het van my singery gepraat.

’n Goeie pos, maar iets het ontbreek. Ek was glad nie gelukkig nie. My hart het elders gelê. Soos altyd, by musiek.

Die versoek was eenvoudig: ’n dag af by die werk om te gaan sing in die eindrondte van ’n musiekkompetisie waarvoor ek gekwalifiseer het.

“Jy sal maar net ’n keuse moet maak,” was min of meer sy woorde. “Of jy kies om hier te bly… die pad van finansiële sekerheid… die kans om aandele in die besigheid te kry… die gerief van standvastigheid.

“Of,” het hy voortgestoom, “jy jaag hierdie belaglike droom na, wat jou in elk geval nêrens gaan bring nie.”

Die keuse, skielik helder en duidelik.

“Nou maar goed. Lekker dag vir jou ook. Totsiens.”

Met dié woorde stap ek by die kantoor uit. Met ’n groot glimlag en ’n ligtheid in die hart. Dit was een van my grootste spronge in geloof. ’n Stukkie getrouheid aan myself. Die waagskoot om die een ding na te jaag waarvoor ’n mens glo jy gemaak is.

Uiteindelik kon ek my droom begin najaag en aan ’n musiekloopbaan werk.

Ek het my trots in my sak gesteek en op plekke gaan sing waar net ’n handjievol mense opdaag.

Gelukkig kweek passie ook uithouvermoë – ’n uithou en aanhou om jou hart te volg.

Op een so ’n plek was die sanger Theuns Jordaan een van die agt mense in die gehoor. Hy moes seker gehou het van wat hy hoor en sien. Die regte mense in die bedryf is gekontak. Hy het hulle aangeraai om te kom luister, “want hier is talent” – en uiteindelik het die groot deurbraak gekom wat elke moeilike, brawe besluit tot op daardie punt die moeite werd gemaak het.

Maar die groeiproses hou nooit op nie.

Deesdae bevind ek my weer in so ’n situasie. Die uitdagings van die musiekbedryf het my tot by ’n punt gebring waar ek nogmaals ’n sprong in geloof moes neem. Om op my eie voete te staan, sonder die steun van ’n platemaatskappy.

Terugskouend word my lewe nogal gekenmerk deur sulke dramatiese oomblikke. En groot, moeilike keuses.

Soos die gebeure wat ontvou het toe ek ’n nat-agter-die-ore 17-jarige was. ’n Verlore outjie wat eintlik nog maar niks van die lewe geweet of verstaan het nie.

In een dag, stukkend gebreek en platgeslaan.

My ma is oorlede ná ’n lang stryd met kanker en skielik was ek bitter kwaad. Vir die Here, vir die lewe, vir alles.

’n Mens gaan deur fases van rou waarvan jy nie sommer net kan wegkom nie. Die een oomblik het ons lewe nog daarom gedraai om vir Ma te sorg. Die volgende oomblik was sy weg.

Haar dood was die einde van ’n baie hartseer, soms frustrerende, hoofstuk. Maar dit was ook die begin van ’n nuwe een, vol hoogte- en laagtepunte. Pynlik lesse en nuwe wyshede.

Al is ons in ’n Christenhuis grootgemaak – vol goeie waardes, altyd betrokke by die kerk – het haar dood my geloof ’n reuseknou gegee.

Daar was baie vrae. Hoekom het Hy haar net weggevat? Waarom moes sy so ly? Hoekom het niks wat ons probeer het, ooit gehelp om haar gesond te maak nie?

Die woede en onbeantwoorde vrae het my in ’n diep gat ingesuig. Vir jare lank.

Dit was donker tye. Daar was baie verkeerde keuses. Slegte dinge. Wêreldse goed waarna ek gegryp het in ’n poging om die verlies en pyn te verwerk. Maar ook die wete: Niks van hierdie goed kan werklik die seer wegvat nie.

Een so ’n dag, op my laagste laagtepunt, het die besef skielik soos ’n lig deur die newels gebreek. Dit was ná ’n nag van erg partytjie hou.

Op die bed, in ’n oomblik van helderheid, was die besef daar: “Dewald, jy is besig om jouself ernstige skade aan te doen. Om só aan te gaan, gaan jou dood beteken.

En toe, net so, kom die kopskuif. Noem dit die Heilige Gees, of my gewete, of die stemmetjie in my kop… die feit is, ek het net daar ’n besluit geneem: tot hier toe en nie verder nie.

Een manier was om te vergewe. Om al die sielsbagasie neer te sit. Die verlede te laat gaan en vorentoe te kyk. Om as ’n ligter mens ’n nuwe pad te begin stap.

Ek is nog steeds besig om hierdie paadjie na ’n ware, beter self uit te kerf. Om nuwe uitdagings aan te gryp, op my eie voete te staan en nie te verval in gemaksones wat uiteindelik tot ongelukkigheid lei nie.

Hierdie tipe besluite sal seker nog ’n paar keer vorentoe geneem moet word: om braaf te wees en weg te stap, eerder as om in ’n situasie te bly wat nie meer innerlike geluk bring nie.

Geluk. Dis so ’n gelaaide woord.

Vir my beteken dit die teenoorgestelde van geld najaag. Om iets te doen wat inherente vrede en vreugde bring, selfs al word jy nie daarvoor vergoed nie.

In my lewe was daardie “iets” nog altyd musiek. Dis ’n taal wat almal verstaan.

Musiek kan mense uit die slegste dag van hulle lewe ruk en op ’n beter plek neersit. Dit kan jou dinge laat onthou of na plekke meevoer wat spesiaal was.

Boonop is daar niks wat kan meeding met die lekkerte om voor ’n klomp mense te sing nie. Dis die beste gevoel in die wêreld, iets waarmee geen partytjie vergelyk kan word nie.

Moenie die tyd tot jou beskikking mors nie. Gebruik dit om die dinge te doen waarvoor jy lief is; die goed waarvoor jy gemaak is.

So amper het ek ge-settle vir ’n “veilige” werk, en die een ding gemis wat vandag waarskynlik my roeping is. Om mense se lewens aan te raak deur musiek.

Soms voel ek steeds soos die grootste stuk gemors op aarde en wil dan sommer ophou sing, maar dan gebeur die magic. Net één persoon kom vertel dat ’n liedjie – iets wat ek geskep het – hulle lewe aangeraak het.

Dis so ’n fantastiese gedagte! Dan weet mens net weer: Your design defines your purpose.

Ek glo die Here maak ons elkeen met ’n doel, en die unieke manier waarop jy ontwerp is, bepaal daardie doel.

Hy gee mens die vaardighede om van punt A na punt B te beweeg, maar hóé jy daar kom, hang van jouself af, van die keuses en besluite wat gemaak word.

Een ding is seker: As ’n mens nooit by punt B in jou lewe kom nie, gaan jy ook nooit vervuld voel nie.

Vir my beteken ’n geloofsprong om doelbewus die dinge na te jaag wat jou van binne gelukkig maak.

Buiten musiek is hierdie geluk opgesluit in die lekkerte om ’n pa te wees.

Ons seuntjie is nou twee jaar oud. Wat ’n voorreg om onvoorwaardelik liefgehê te word deur ’n klein, onskuldige mensie wat nie gepla is deur jou foute nie. Die gevoel dat jy lewe vir iemand anders as jouself, is net so spesiaal.

Nog iets wat baie geluk bring, is om te reis. Een van my gunstelinglande is Viëtnam. Dit is die mees vredeliewende nasie wat ek nog ooit teëgekom het. Al is dit hoofsaaklik ’n Boeddhistiese land – met ’n lang geskiedenis van dekades se oorlog en verlies – staan ek verstom oor die innerlike vrede van die mense. Dit straal uit hulle uit.

Dis ’n plek wat my aangespoor het om aspris vriendelik te wees met mense. Om goed te wees vir ander, want dit kos niks. Om elkeen met respek en begrip te behandel, asof hulle self deur iets groots worstel. Want waarskynlik doen hulle dit.

Dit beteken dat ek vandag ligjare verwyder is van die arrogante, selfsugtige jong mannetjie van die verlede. ’n Tyd toe ek nog wou uitstaan. Dinge gedoen het om gehoor en gesien te word; om die hardste stem in die vertrek te wees.

Ek was ’n regte klein brat, veral op skool. Iemand wat ongeskik was en mense vinnig afgeskryf het as hulle nie na my pype gedans het nie.

In Alberton, waar ek grootgeword word het, het alles oor mý wêreld en vriende gegaan. Ons was so half ’n uitverkore groepie – nie deel van die rugbyspelers of bleeksiele nie, maar vreeslik spesiaal in ons eie oë.

Daar is toe al gesing en musiek gemaak. ’n Paar bands is gestig wat oor naweke in iemand se motorhuis geoefen het. Dit het nie eens saak gemaak dat elke probeerslag ’n volslae mislukking was nie, ons wou net wys ons is “anders”.

My ma se dood het my destyds al gehelp om met ander oë na mense te kyk. In die hartseer het ek toe al begin raaksien dat almal op een of ander manier deur iets gaan wat uit hulle perspektief die moeilikste ding in die lewe is.

Daar het ek begin leer om begrip te hê en nie bevooroordeeld te wees nie. Om mense te behandel asof hulle jou vriend is. Asof hulle reeds jou respek verdien.

Toe ek ouer word, het hierdie empatie – die insig in menslike emosies en hoe ’n hart dinge ervaar – oorgespoel na musiek toe. Dis danksy die verlies van my ma dat ek vandag hierdie emosies beter kan verstaan en in lirieke kan omskryf.

Soos ’n mens ouer raak, kom jy genadiglik op ’n plek waar niks meer bewys hoef te word nie.

Vat my soos ek is of los dit. Dit maak nie meer saak wat ander dink nie.

Dit het lank gevat om ’n dik vel te kry.

Dit het gehelp om te besef: Die maklikste manier om te misluk is om mense gelukkig te probeer hou. Dit gaan nie gebeur nie. Nie almal kan of gaan van jou hou nie – jy is nie ’n koeksister nie.

Maak eerder vrede met wie jy is, leer uit jou foute en werk aan jou tekortkominge, dan gebeur die res vanself.

Iets wat ook keer op keer uitstaan, is hoe ’n mens nooit jou paadjie alleen hoef te stap nie. Dis asof die Here elke keer iemand vir my stuur, ’n rigtingwyser, ’n oop deur, wat my help om punt B te bereik.

Ek is nie die wêreld se beste voorbeeld van ’n Christen nie, maar een ding is seker: Wanneer jy in lae plekke beland, ontmoet Hy jou ook daar.

Selfs in die donkerste gat was ek nooit alleen nie. Dit was amper asof ek daar móés wees, met ’n rede. So asof dit deel was van ’n groter prentjie.

Nog elke keer was die besef daar: Dewald, jy is nie alles nie. Ook nie untouchable of regtig in beheer nie.

Dit maak ’n mens dankbaar vir daardie kere wat die lewe jou in ’n swart gat laat val, want ek het beter, ligter en wyser anderkant uitgekom.

Is ’n sprong van geloof altyd ’n goeie ding? Moet ’n mens nie eerder die veilige, verantwoordelike weg volg, standvastigheid kies en jou drome opsyskuif nie?

Miskien soms, ja. Veral as jy nie doodseker is oor ’n saak nie. Wanneer dit nie ’n passie is wat in jou hart brand nie.

Maar as ’n mens glo dis jou ding – Sy pad van punt A na punt B in jou lewe – moenie opgee nie. Mense is meer geneig om te sê hoe iets nie gedoen kan word nie, as om ander aan te moedig om dit wel reg te kry.

Moenie dat mense jou onderkry nie. Hulle weet niks. Sukses hang van jouself af.

Weet ook as jy regtig hard genoeg in iets glo en kies om te spring, moet jy voorbereid wees vir die feit dat die pad gewoonlik nie soos ’n maklike, gerieflike roete gaan uitstrek nie.

Dit verg eers harde werk, klippe kou, vasbyt en moeilike besluite neem voor jy by die lekker uitkom. En gelukkig los Hy jou nooit alleen nie.

Dis dalk ’n geykte gesegde, maar baie waar: Niks in die lewe wat die moeite werd is, is maklik nie. Of soos hulle sê: It is always darkest just before the dawn.

As die donker wel wyk en die lig breek deur, is dit alles die moeite werd.

Tot dit weer nodig raak vir die volgende sprong…