Raad om minder te baklei

0
46
baklei.jpg

In elke huwelik is daar dinge waaroor paartjies stry. Keer só dat hierdie rusies tussen julle liefde kom staan.

As gevolg van die manier waarop ons grootgemaak is, die gesin waaruit ons kom en ons verskillende maniere van dink sal daar altyd goed wees waaroor mans en vroue verskil. Vreemd genoeg is die onderwerpe waaroor rusies gaan omtrent vir almal dieselfde. Hier is die dinge waaroor egpare die meeste baklei en wenke hoe julle dit kan hanteer sodat dit nie in ’n geveg ontaard nie.

Gee sakgeld om mee te doen wat julle wil

Mans en vroue verskil oor hoeveel om te spaar, hoeveel om uit te gee en selfs oor wie die besluite neem wanneer dit by geldsake kom.

Alhoewel julle wel kan saamstem oor die betaling van elektrisiteit en kruideniersware, kan julle baklei of R600 te veel is vir ’n paar jeans en of ’n nuwe gholfstel “absoluut nodig” is.

VREDESWENK Besluit volgens julle begroting op ’n bedrag “sakgeld” wat elkeen per maand kan uitgee. Of dit nou R500 of R2 000 is, hierdie geld kan uitgegee word net waarop jy wil. Jy kan dit vir iets nuttigs of net vir pret gebruik, sonder om dit aan jou maat te hoef verduidelik.

Besluit wat is belangrik genoeg om oor te baklei

Party irriterende gewoontes is so algemeen dat elke paartjie daarmee te doen het: klere wat op die vloer lê, besluiteloosheid by ’n restaurant, aanhoudende laatkommery …

Ander is ietwat vreemder, soos om vingernaels op die vloer te los (siesa!) of tydens ’n fliek te neurie. Dit maak nie saak hoe onskuldig of uniek iemand se gewoontes is nie, dit kan jou gek maak.

VREDESWENK Los dit! Daar is baie belangriker goed in julle lewe as om te baklei oor jou man aan sy sokkies snuif voor hy dit in die wasgoedmandjie gooi.
Hou op om oor en oor daaroor te praat as jy dit nie kan oorsien nie. Of loop uit die kamer as sy gewoonte vir jou so grillerig is.

Julle verhouding is belangriker as dié met julle ouers

Talle rusies gaan oor by wie se ouers Kersfees gehou gaan word of hoeveel julle ouers by julle lewe betrokke moet wees.

Huwelikskenner Gretha Wiid meen een van die redes waarom egpare oor skoonouers vassit, is dat die man of vrou nog nie emosioneel van hulle ouers geskei het nie. “Fisiek is jy nie meer by jou ouers nie, maar wees eerlik met jouself: Hoe baie is jy nog emosioneel aan jou ouers verbind? Selfs meer as aan jou man?”

VREDESWENK Julle verhouding is belangriker as enigiets of enigiemand anders. Alhoewel ons nie sê dat jy nooit van manlief kan verskil nie, moet julle as ’n span saamwerk. Hy moet altyd weet dat jy aan sy kant is en hom ten volle ondersteun.

Neem soms die voortou in die bed

Dit is nie altyd die geval nie, maar die hoeveelheid seks is dikwels ’n bron van konflik. Soms verskil egpare oor die verskillende vlakke van begeerte of genot van seks, asook die hoeveelheid daarvan.

VREDESWENK Studies wys dat daar minder rusies oor seks is as die vrou nou en dan die inisiatief neem.
“Dit is belangrik dat julle mekaar se seksuele behoeftes verstaan,” sê Gretha. “Vir mans gaan dit nie net oor seks soos ons dikwels dink nie. Deur seks wil hulle ook hulle manlikheid bevestig. Dit sal wondere verrig as jy hom kan vertel hoe heerlik seks met hom vir jou is.”

Minder rusies oor kinders as julle oor waardes saamstem

Verskille oor kinders kan baie emosioneel raak. Ouers wil so graag die beste vir hulle kinders hê. Dissipline, oorbeskerming, buitemuurse aktiwiteite en nog baie ander onderwerpe kan tot verskille tussen man en vrou lei.

VREDESWENK Dit is natuurlik dat julle oor ouerskap gaan verskil. Besluit watter waardes en beginsels vir julle albei belangrik is en tree daarvolgens op. Wanneer julle verskil oor die manier waarop situasies hanteer moet word, bespreek dit waar die kinders nie by is nie. Óf, as julle kinders weet dat julle oor iets verskil, bespreek dit met die kinders en gee vir hulle ’n voorbeeld van hoe volwassenes kommunikeer en onderhandel wanneer hulle oor iets verskil.

Konflik is deel van elke huwelik. Hoe meer jy rusies deur middel van respek en eerlikheid kan hanteer, hoe beter is die kans dat julle nie net aan ’n verhouding bou wat vir altyd sal bestaan nie, maar ook een wat oor die jare sterker en dieper word.

FORUM:
Hoe voel jy daaroor as jou man na ander vroue kyk? Maak dit jou vies of kyk jy ook na aantreklike mans? Kom praat saam op ons forum.