Raak betrokke by julle finansies

0
74
spaar_geld.jpg

Finansies was tradisioneel die man se afdeling terwyl die vrou die huishouding bestuur het. Egskeidingsyfers en statistiek wat toon dat vroue mans oorleef, is egter ’n waarskuwingsteken dat jy aandag aan julle geldsake moet begin gee.

Hoeveel keer het jy nie al so ’n rillerstorie gehoor nie? ’n Vrou se man sterf skielik en sy bly agter met hope skuld waarvan sy niks geweet het nie. Of haar man skei van haar en sy moet skielik sonder ’n werk of heenkome klaarkom. Volgens navorsing glo tot 70% van Suid-Afrikaanse vroue dat hulle finansieel onafhanklik is. Hulle definieer egter die term “finansieel onafhanklik” as dat hulle nie vir hulle mans geld hoef te vra nie. Maar finansies gaan oor meer net as jou eie inkomste. Dit gaan ook oor hoe goed jy vir jou toekoms beplan, en of jy op jou eie sal kan regkom as jy nie meer jou man se inkomste het nie.

Vroue is dikwels meer betrokke by die huishouding en die kinders of kleinkinders, en los dikwels die finansies vir hulle mans. Dis wonderlik as jy ’n man het wat vir jou sorg, maar dis nog beter as jy vir jouself kan sorg. Neem hierdie stappe om te verseker dat daar geen nare finansiële verrassings ooit op jou sal wag nie.

STAP 1 Hoeveel weet jy van julle finansies?

Kan jy die volgende vrae beantwoord?
• Wat besit ek en my man en waar is dit?
• Hoe kry ek toegang daartoe?
• Hoe word ons geld belê?
• Hoeveel risiko loop ons met ons beleggings?
• Hoeveel skuld het ons?
• Is ons beskerm indien een van ons sterf, beseer word of ons werk verloor?
• Hoeveel geld spandeer, spaar en skenk ons elke jaar? Waaraan spandeer of skenk ons dit?
• Hou ons by ons doelwitte (fondse vir aftrede, opvoeding)?
• Na wie toe kan ek gaan vir finansiële hulp as ek dit nodig het?

Jou antwoorde op hierdie vrae behoort jou ’n duidelike prentjie te gee van jou finansiële kennis in julle huishouding. As jy nie die vrae kon beantwoord nie, is dit tyd dat jy meer moet uitvind, veral as jy na die onderstaande statistiek kyk.

Volgens statistiek sterf 80% van mans terwyl hulle getroud is, en 80% van vroue sterf terwyl hulle enkellopend is. Die meerderheid mans sterf dus voor hulle vrouens. Statistiek Suid-Afrika wys ook daarop dat vroue vier jaar langer leef as hulle mans. Egskeidingsyfers lyk ook nie goed nie: tot 50% van huwelike eindig in die skeihof.

Sal jy finansieel op jou eie kan regkom as jou man skielik sterf of as julle skei?

[pagebreak]

Ou Mutual se navorsing wys dat 72% van Suid-Afrikaanse vroue nog nooit korttermynversekering gekoop het nie. Omtrent 66% het nog nooit lewensversekering uitgeneem nie en 77% het nog nooit geld belê nie. Net 19% van die vroue het aangedui dat hulle ’n finansiële raadgewer het.

Hieruit is dit duidelik dat baie vroue nog hoofsaaklik op hulle mans steun vir finansiële besluite. As jy nie weet wat met julle finansies aangaan nie, sit jy dalk een van die dae met die hande in die hare en weet jy nie waar om te begin met julle geldsake nie.

STAP 2 Is daar genoeg voorsiening gemaak vir die toekoms?

geld_sake.jpgAs jy of jou man skielik sterf, wie gaan sorg dat die huis afbetaal word of vir die kinders se opvoeding betaal? Min huishoudings kan deesdae op net een salaris oorleef, en beide mans en vroue moet werk om die rekenings te kan betaal. Maak seker dat elkeen van julle voldoende lewensversekering en ’n geldige testament het.

Volgens Robin Farrel, direkteur van 1st For Women, versuim baie paartjies om lewensversekering uit te neem. “Lewensversekering is uiters belangrik om skuld af te betaal as een van julle iets oorkom of om geld te voorsien vir julle kinders se opvoeding. Die meeste premies is relatief goedkoop en party kan aangepas word by jou omstandighede en jou lewensfase. Sorg ook dat jy jou eie pensioenfonds het en genoeg geld spaar vir jou aftrede. Werk ’n maandelikse begroting uit en kyk hoeveel geld jy spandeer. Dit sal jou help om te sien waarop jy geld uitgee. Sodoende kan jy in die toekoms beter beplan en keer dat jy geld verkwis.”

STAP 3 Besluit om by julle finansies betrokke te wees

Die finansiële wêreld kan nogal intimiderend wees en nie almal is goed met syfers nie. ’n Mens hoor gereeld van mense wat verkeerd belê het en hulle neseier kwyt is. Hoe neem jy die regte besluite en op wie kan jy vertrou? Baie vroue is huiwerig om by finansies betrokke te raak omdat hulle min daarvan weet.

“Baie vroue verras egter hulleself en kom agter dat hulle dit geniet om hulle finansies te bestuur. Daar is ook al bewys dat vroue beter finansiële besluitnemers is omdat hulle die langtermynprentjie kan raaksien en nie emosioneel raak oor korttermynterugslae nie,” sê Karen. “Maar twee koppe is steeds beter as een, en dis beter as jy en jou man gesamentlik besluite neem. Dan weet beide van julle wat aangaan. Finansies het ook nie heeltyd ’n oog nodig nie. As julle finansiële planne eers agtermekaar is, hoef jy nie heeltyd daarmee te werk nie.”

[pagebreak]

STAP 4 Onderhandel vir ’n groter salaris vir meer onafhanklikheid

Navorsing toon dat vroue steeds minder verdien as hulle manlike eweknieë. Doen navorsing om te bepaal of jy dieselfde verdien as mense in soortgelyke beroepe. As jou maatskappy nie jou salaris kan verhoog nie, kan jy steeds onderhandel – vra of jy ’n paar dae per maand by die huis kan werk of meer verlof kan neem. Dit sal jou help om op petrol te spaar en ook meer tyd vir jouself gee om ’n ekstra inkomste met ’n tweede werk te verdien. Hou ook die mark dop en indien nodig, doen aansoek vir poste wat ’n beter inkomste bied. Hoe meer geld jy kan spaar of tot ’n pensioenfonds kan bydra, hoe beter. Jy hoef nie net van jou man afhanklik te wees nie. Jyself kan ook sorg dat julle ’n beter toekoms geniet.

Finansies is nie net jou man se verantwoordelikheid nie. Hy is mos nie die enigste een wat geld nodig het nie! Raak meer betrokke en verseker vir jouself ’n beter toekoms.