Raak finaal ontslae van spatare

0
2360
spatare.jpg

Raak ontslae van onooglike spatare en spinnekopaartjies met die beste beskikbare behandelings daarvoor.

“Ek is mal oor rokke dra, maar kan nie, want ek het spatare. Is daar iets wat dit vir seker sal w-wegvat?”

Die behandeling

Skleroterapie in kombinasie met Excel V laser, beskikbaar by dr. Riekie Smit. Skakel 012 992 6042 of besoek www.drriekie.co.za.

Die proefkonyn Cayleigh Woudstra

Hoeveel sterre gee sy dit ★★★★

My ervaring Jou are word ingespuit met ’n middel wat die fyn, onooglike aartjies vernietig. Die behandelde are lyk aanvanklik donkerder, wat ’n mens kan laat skrik. Oor die volgende weke word dit al ligter en later verdwyn dit heeltemal. Die dokter het gesê dat die aartjies soms mettertyd kan terugkom en dat onderhoudsessies nodig mag wees. Party mense het meer sessies nodig as ander. As komplementerende terapie kan hulle ook laser in jou are voer om die lelike are te laat verdwyn. Die meeste pasiënte het tussen drie en ses sessies nodig om die verlangde resultate te kry.
My dokter het benadruk dat hierdie behandelingsprogram absolute samewerking van my as pasiënt vereis. As jy nie kompressiekouse by die huis gaan dra nie, kan jy haar handewerk ongedaan maak en sodoende jou geld verkwis.

Dr. Riekie verduidelik Spinnekopaartjies – die oppervlakkige rooi of pers are – is ’n kosmetiese probleem, maar dit kan ook simptomaties wees van ’n onderliggende probleem met die dieper are se sirkulasie en gesondheid.

Bultende blou spatare is ’n mediese toestand. Dit kan kloppende ongemak veroorsaak en jou bloedsomloop belemmer. Dit kan ook lei tot ’n toestand wat gekenmerk word deur velveranderinge, donker onderbene, sere wat moeilik gesond word en gevaarlike bloedklonte. Groot bultende spatare benodig chirurgiese of laserverwydering, wat deur vaskulêre chirurge gedoen word.

Wat jy by die huis kan doen venavine.jpg

  • Die dra van stywe klere en hoëhakskoene, om oorgewig te wees en om lank op een plek te staan, asook hormoonskommelinge, is bydraende faktore. Om lang tye stil te sit kan ook ’n rol speel.
  • Wees bedag op jou leefstyl. Dit is nie moontlik om spatare heeltemal te voorkom nie, maar jy kan ten minste die skade beperk. Loop meer om bloedsirkulasie te bevorder en vermy skoene met hakke wat hoër as 5 cm is.
  • Dra kompressiekouse wat jou are ondersteun wanneer jy lank staan of ver reis per motor of vliegtuig. Lig jou bene op wanneer jy ’n kans het en laat jou voete op ’n lae stoeltjie rus wanneer jy televisie kyk.
  • Venavine is ’n reeks kapsules asook ’n room wat ondersteuning gee aan mense met bloedsomloopprobleme. Die produkte help om die aarwande te versterk en bied verligting vir moeë, geswelde bene. Skakel 012 664 7110 vir navrae of besoek www.venavine.co.za.