Raak meer kreatief en skeppend

549
7 daggeloofsplan

Kreatiwiteit is daardie innerlike krag wat mense het om probleme en uitdagings op nuwe maniere te hanteer en op te los. Die Gees help ons om met nuwe oë na die lewe te kyk.

MAANDAG

Te min kreatiwiteit is nie vreemd nie

Dit gebeur die een of ander tyd met almal. Jy het wonderlike idees, en dan, skielik, droog dit net op. Jy soek hoog en laag na jou muse. Maar niks.

Of jy nou ’n nuwe bedding in die tuin beplan of die gastekamer wil opknap, jy het altyd ’n slim plan nodig.

As dit voel of jy in ’n groef verval het, is nuwe dinge net die ding om die lewe weer interessant te maak.

Kreatiwiteit is ’n doelgerigte, dinamiese aktiwiteit wat met behulp van waarneming, denke, insig en tegniek nuwe, onverwagte en betekenisvolle resultate oplewer.

Dit beteken dat mislukking nie die einde van die pad is nie. Jy sal vroeër of later die pad ontdek wat na sukses lei.

Die Gees is betrokke by jou lewe en help jou om met nuwe oë na dinge te kyk en nuwe moontlikhede raak te sien.

Kreatiwiteit kan jou op onverwagse tye oorval. Hou ’n klein notaboekie met ’n pen byderhand sodat jy dadelik ’n briljante plan kan neerskryf. Doen dit dadelik, al moet jy van die pad af trek om dit neer te skryf.

Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is (Hebreërs 13:21).

DINSDAG

Jou idees is nie op nie

Bly kalm, daar is baie maniere om jou brein weer te stimuleer en aan die gang te kry. Jy moet net die regte een kry!

As dit voel of jy van nou af altyd net vaal en vervelige planne gaan hê, ontspan.

’n Mens is eintlik ’n eindelose bron van idees. Jy word heeldag aan nuwe inligting blootgestel. Selfs eenvoudige goed soos ’n nuwe advertensie op televisie kan denke stimuleer.

Dink net aan al die nuwe dinge wat jy op die internet of sosiale media sien en lees. Haal nou diep asem en weet dat dit nie permanent so sal gaan nie, dit is net tydelik.

Om jouself te forseer om met ’n blink plan vorendag te kom as jy afgestomp voel, gaan regtig niks help nie.

As dit gebeur, stop dadelik en doen iets anders.

Al beteken dit om ’n projek vir ’n rukkie te laat staan – selfs net vir ’n paar uur (dit gaan wel nie werk met ’n nuwe koekresep nie!).

Sodra jy ophou om jouself te dwing om op ’n spesifieke aspek te fokus, sal ’n oplossing miskien vinniger kom.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Filippense 4:6).

WOENSDAG

Stres en min slaap is oorsake van te min idees

Baiekeer is stres en angs die rede hoekom ons nie nuut kan dink nie. Hoe meer gespanne jy is, hoe minder sal jy aan nuwe idees dink en met iets nuuts vorendag kom.

Wanneer die kreatiwiteit verdwyn, is dit tyd om te ontspan en jou stresvlak te verlaag. Speel ’n bordspeletjie, mediteer of probeer joga of enige ander oefening.

Soms moet jy net van ’n bietjie stres ontslae raak om jou kop weer aan die dink te kry. Niemand kan ’n blink plan met geklemde kake bedink nie!

’n Mens glo meestal dat jy so baie het om te doen dat jy by niks anders kan uitkom nie, veral nie slaap nie. Jy is van vroegdag tot laatnag aan die gang.

Oormoegheid veroorsaak net meer stres. Jy mors tyd deur te dink oor alles wat nog gedoen moet word, in plaas daarvan om dit net te doen.

Genoeg slaap is nodig om jou verstand helder te maak sodat jy logies en prakties kan dink en kreatief kan wees.

Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie” (Markus 6:31).

DONDERDAG

Vergeet vir ’n rukkie van die probleem

Stap eers weg van die probleem af, dis die beste ding om te doen. Om daaroor te tob gaan beslis nie help nie.

Vergeet daarvan en hou op om na ’n oplossing te soek. Probeer eerder om iets nuuts te beleef. Nuwe ervarings en om nuwe mense te ontmoet, sal help om die gees te verfris en jou kreatiewe denke te herlaai.

Wie weet, dalk kom jy terug met ’n hele klompie nuwe idees.

Een van die beste dinge wat ’n mens kan doen om te keer dat jou idees geyk en voorspelbaar raak, is om met opbouende dinge besig te wees.

Lees goeie boeke en luister na mooi musiek. Of gaan sit in die tuin en luister na die voëls of die verkeer.

Doen iets prettig en kry totaal ander stimulasie as waaraan jy gewoond is. Verskillende dinge sal vir verskillende mense werk, maar die geheim is dat jy jou moet omring met kwaliteitdinge.

Wat ’n mens insit, is wat jy uitkry. As jy jouself dag en nag met verbeeldingloosheid omring, is dit presies hoe jy gaan wees: verbeeldingloos.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind (Psalm 131:1).

VRYDAG

Wat gaan in die wêreld rondom jou aan?

Dalk was jy die laaste ruk effens laks en het geglo wonderlike idees sal sommer vanself te voorskyn kom. Nie sommer nie!

Stel jouself bloot aan die nuutste neigings. Wat laat die wêreld gons? Wat is deesdae die ding om te doen? Vind ’n bietjie uit waarmee hou die meeste mense hulle besig. Waaroor is almal bekommerd?

Dit is nodig dat jy hierdie dinge weet en ook weet wat ander se mening daaroor is. Dalk is dit net wat nodig is om jou kop weer aan die dink te kry.

Van die wonderlikste kunswerke en komposisies het ontstaan as gevolg van maatskaplike en politieke gebeure. Wie sê dit kan jou nie ook inspireer nie?

Kyk ook na soveel moontlik ander voorbeelde van dit waarvoor jy ’n oplossing soek. 

Dalk moet jy ’n verjaardagkoek bak – kyk op Pinterest. Miskien is daar ’n probleem op kantoor – probeer agterkom wat ander mense in jou posisie gedoen het.

Die gedagte is nie dat jy ’n afdruk raak van ander nie, maar hulle oulike planne gee jou dalk selfs nog ’n beter idee!

Want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word (Matteus 7:7).

SATERDAG

Dink ’n slag buite die boks

Hoe het dit gekom dat ons deesdae kombuisbakke in die tuin gebruik en tuingereedskap teen ons mure ophang? En wie het ooit kon raai dat ’n ou, geroeste kruiwa ’n oulike blombak kan wees?

Doringdraad hoort ook lankal nie meer net op ’n boer se plaas nie. Veral dié wat amper deurgeroes is, pryk oral as versierings. En so hou dit aan.

Hierdie dinge gebeur omdat mense bereid is om grense oor te steek, om verskillende oomblikke van die lewe deurmekaar te laat vloei. Kyk of jy in jou lewe ten minste een ding kan “ontdek” – al is dit ’n nuwe resep.

Soms is daar niks wat jou meer inspireer as om met ’n goeie vriendin wat jy lanklaas gesien het te gesels nie.

Die “inhaal-geselsie” is gewoonlik ’n lang een vol aangename herinneringe en grappies. Dis alles dinge wat ’n mens laat ontspan en jou brein oorgenoeg suurstof gee. Wie kan nou nie aan wonderlike planne dink ná so ’n heerlike geselsie nie?

Terwyl julle gesels, hoor sommer of sy nie kan help nie. Dalk het sy self ’n blink idee.

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp (Prediker 4:9-10).

SONDAG

Verander iets in jou roetine

Soms het ons net daardie klein verandering nodig om kreatiewe gedagtes te inspireer en te stimuleer.

Herrangskik jou huis of kantoor, raak ontslae van al die rommel wat rondlê en sorteer jou dokumente. Koop ’n nuwe plant vir die huis of ’n skildery vir die muur.

Enige verandering aan die gewone omgewing kan jou gedagtes die wêreld se goed doen.

Wanneer jy verstrengel raak in jou daaglikse lewe wat maar op dieselfde trant aankarring, kan jou kreatiewe denke dalk ook net daar vashaak.

Verander dus jou roetine. Dis nie nodig om drastiese veranderings te maak nie – pas jou roetine net effens aan.

Ry byvoorbeeld met ’n ander pad huis toe of werk toe. Proe ’n nuwe gereg of drankie. Of skommel jou gewone oggendroetine so effens deurmekaar.

Dít alles kan jou brein die blaaskans gee wat hy verdien en hom stimuleer om te herlaai en kreatief te dink.

Die natuur en die interessanthede wat daarin voorkom, is die ideale plek om jou kreatiwiteit te gaan soek. Het jy geweet die vasmaakmiddel Velcro is deur die natuur geïnspireer?

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken hom in alles wat jy  doen en Hy sal jou die regte pad laat loop  (Spreuke 3:5-6).