Raak só kreatief met vanielje

0
76
vanielje.jpg

Die geur laat jou dink aan outydse soetkoekies en roomys, maar dis nie al wat vanielje kan doen nie.

Vanielje het die vermoë om jou hoofpyn weg te streel en die spanning te verdryf. Hierdie nederige geur wat ons al vir eeue omring, is nie net ’n reukweerder nie, maar kan ook jou brein stimuleer en so jou denke verbeter. Met ons hulp kan jy lekker kreatief raak met vanielje en oulike geskenke vir vriende en familie maak.

Vanieljesout

Verras jou vriendin met iets vir bak en bad. Sy kan heerlike geregte maak en as sy moeg en haar voete seer is, kan sy in ’n vanieljebad ontspan.

Sout is een van die bestanddele wat ’n gebalanseerde smaak aan geregte gee. Gebruik hierdie sout in kosse waarin dit kans kan kry om op te los. Jy kan dit ook oor donker sjokoladekoekies sprinkel.

WAT JY NODIG HET
Vanieljebone (by alle kettingwinkels beskikbaar)
Growwe seesout
Klein vierkantige glasbottels wat dig toe kan maak

MAAK SO
Sny die vanieljeboon in die lengte deur en krap die klam saadjies uit.
Vryf die vanieljesaadjies in ’n ¾ koppie growwe sout in, sodat die sout ’n ligbruin kleur kry.
Skep dit in die bottels en gooi ’n stukkie van die boontjie saam in die bottel. Dit gee daardie ekstra vanieljesmaak.

Jou vanieljesout sal vir altyd en nog ’n dag lank hou.

 

vanielje_sout.jpg

Vanielje-ekstrak

Hierdie is ’n moet in enige kombuis. As jy nie weet wat om met die vanieljebone te doen wat van ’n vorige resep oorgebly het nie, kan jy altyd ’n ekstrak daaruit maak.

WAT JY NODIG HET
Vanieljebone
Ronde glasbottels (wat ongeveer 100 ml vloeistof kan bevat)
Brandewyn, vodka of rum

MAAK SO
Sny die vanieljeboon in die lengte deur en krap die klam saadjies uit. Gooi die saadjies en die geskraapte vanieljeboon in die leë bottels.
Maak die bottels vol met die brandewyn, vodka of rum.
Sorg dat die bottels dig toe is en skud.
Stoor in ’n koel, droë plek vir ses weke voor jy dit gebruik.
Nou het jy tuisgemaakte vanielje-ekstrak wat jy in ’n lekker sjokoladekoek of melktert kan gebruik.
Dit hou vir altyd.

 

vanielje_ekstrak.jpg

Vanieljeskrop

Vanielje is wonderlik vir jou vel, sê Elizabeth ten Houten, skrywer van die boek Cooking Well: Beautiful Skin. Hierdie skrop is die perfekte geskenk om jou waardering vir iemand te wys.

WAT JY NODIG HET
1 suurlemoen
5 vanieljebone
3 eetlepels bruinsuiker
3 druppels vanielje essensiële olie

MAAK SO
Druk die sap van die suurlemoen in ’n bakkie uit en verwyder die pitte.
Sny die vanieljebone in die lengte deur en krap die klam saadjies uit met ’n lepel.
Voeg die vanieljesaadjies, bruinsuiker en vanielje-olie by die suurlemoensap. Meng baie goed.
Gebruik die skrop op jou gesig, maar vermy die oogarea. Masseer jou vel vir ’n paar minute en spoel af met louwarm water. Dit is ook ideaal om van droë wintervel ontslae te raak.

 

skrop.jpg

’n Gesonde inseksproei

Vanielje is die nuwe, natuurlike insekweerder. Dit hou baie beslis die muskiete weg, want hulle kan nie die reuk van vanielje verduur nie.
Meng 60 ml vanielje-ekstrak met 60 ml water in ’n klein spuitbottel. Daar het jy jou insekweerder.
Spuit dit op jouself om allerhande ongewenste insekte en veral muskiete van jou af weg te hou.

inseksproei.jpg

Vanielje-linnesproei

Wanneer jy in die bed klim, sal die geurige beddegoed jou gou sus tot in ’n heerlike diep slaap.

WAT JY NODIG HET
3 eetlepels vanielje-ekstrak
1 koppie gedistilleerde water
1 teelepel chirurgiese alkohol
1 mooi bottel

MAAK SO
Meng al die bestanddele saam en gooi in die bottel; skud effens.
Sorg dat die bottel ’n fyn sproei maak sodat jy seker is jou beddegoed word nie gevlek nie.

linne_sproei.jpg

Wat jy alles met jou vanielje-ekstrak kan doen

Laat jou yskas lekker ruik
Sukkel jy om ’n slegte reuk uit jou yskas te kry al het jy hom reeds skoon geskrop? Vee die binnekant van die kas met vanielje-ekstrak uit. Om die reuk langer te laat hou, week watte in die vanielje-ekstrak en los dit in die yskas. So hou die vars reuk langer.

Jou mikrogolfoond
Om die ou reuk van kos uit jou mikrogolfoond te kry, kan jy ’n klein bietjie vanielje-ekstrak in ’n bakkie gooi. Sit dit in die oond op hoog vir een minuut. Dit verwyder daardie sterk kos reuk dadelik.

Vars verf
Beplan jy om binnekort te verf? Om die reuk van vars verf te verminder, kan jy ’n klein bietjie vanielje-ekstrak by die verf gooi wanneer jy dit oopmaak. Jou huis sal heerlik ruik met elke nuwe streep verf.

Laat jou huis soos koekies ruik
Drup twee druppels vanielje-ekstrak op die gloeilamp en skakel die lig aan. Na ’n kort rukkie word jou huis gevul met die reuk van vars gebakte koekies. Heerlik!