Raak weer van voor af verlief

0
73
verlief

Om die vonk in ‘n gelukkige huwelik terug te sit, is glad nie moeilik nie. Trouens, dit kan ‘n uitdaging word en in ‘n lekker speletjie ontwikkel.

Om die vonk in ‘n gelukkige huwelik terug te sit, is glad nie moeilik nie. Trouens, dit kan ‘n uitdaging word en in ‘n lekker speletjie ontwikkel.

Hier is ‘n paar idees om weer die vonk en romantiek terug te sit in julle verhouding.

1. Evalueer die verhouding

Vra jouself af wat julle die graagste in julle verhouding wil verander, en hoe. Laat jou maat dieselfde doen. Skryf julle doelwitte neer. Sorg dat dit prakties en uitvoerbaar is. Kry ‘n saamdoenaktiwiteit wat vir julle al twee lekker is. Veral mans kla dikwels dat hulle nie weet wat hulle vrou eintlik van hulle verwag nie. Praat dus oor die verhouding: konflik, seks, finansies, skoonfamilie en rolle. Besluit wat julle aan die tekortkominge gaan doen. Evalueer julle verhouding. Stel ‘n balansstaat op en fokus op al die positiewe aspekte in julle verhouding. Dink terug aan die tyd toe julle nog uitgegaan het, hoekom julle op mekaar verlief geraak het, en onthou daardie vlinders in jou maag.

2. Prikkel mekaar se jagtersinstink

Verbeel jou jy’s enkellopend en jou maat is die maat wat jy tot elke prys moet hê. Wees net so subtiel soos jy destyds was toe julle nog uitgegaan het. Laat hom of haar wonder en kopkrap. Flankeer as vrou en maak die jagter in hom van voor af wakker. Bedwelm hom of haar met jou teenwoordigheid. Doen soms doelbewus iets onvoorspelbaar, soos om vir ‘n paar minute op sy skoot te sit, of jou arms van agter om haar lyf te sit. Of druk hom styf vas terwyl hy voor die spieël staan en skeer, of gee hom ‘n vinnige vurige soen wanneer hy alleen in die motorhuis of tuin doenig is. Maak hom bewus van jou vroulikheid, en maak haar bewus van jou teenwoordigheid en omgee.

3. Verander jou styl

Radikale veranderings aan jou voorkoms is nie nodig nie – veral die vrou kan soms subtiele veranderings aan haar voorkoms maak. Dit maak dinge net soveel meer opwindend en interessant. Verander soms jou haarkleur en haarstyl en speel met ander kleure as wat jy gewoonlik sal dra. Eksperimenteer en waag met jou voorkoms. Wees soms speels en eet saam pasta met Chinese stokkies! Ontbyt mag ook maar soms kaaskoek en coke in die bed wees!

4. Doen die ondenkbare

Moenie voorspelbaar wees nie. Probeer soms soos die ander geslag doen en dink. Koop vir hom twee rugbykaartjies vir ‘n belangrike toets eerder as die lekker naskeermiddel waarvan jy hou. En gee dalk eerder vir haar ‘n geskenkbewys vir ‘n massering, as ‘n nuwe stel potte vir die kombuis. Deel mekaar se belangstellings, en wys jy gee om deur iets saam met jou maat te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie. Gun mekaar ook alleentyd, en wys julle vertrou mekaar.

5. Wys jy stel belang

Julle beroepe verskil dalk hemelsbreed, en jy verstaan dalk nie alles wat jou maat van agt tot vyf elke dag doen nie, maar wys jy stel belang. Vra mekaar uit oor julle dag, gee mekaar erkenning vir prestasies en ondersteun mekaar.

6. Wees warm in die bed

Geniet seks met jou maat en wys dit. Wees ingestel op mekaar se behoeftes.

7. Werk aan gesamentlike én afsonderlike groei

Al word jy op jou troudag deel van ‘n huweliksvennootskap, bly jy ‘n individu. Geen mens behoort sy of haar individualiteit ter wille van iemand anders prys te gee nie. Jy is geregtig op jou eie belangstellings en stokperdjies, mits dit nie ten koste van julle verhouding is nie. Dit is ook die manier waarop mens nuwe idees en energie in die verhouding inbring. Gesamentlike groei is net so belangrik soos afsonderlike groei, en andersom. Wees deel van mekaar se wêrelde. Sorg dat julle altyd die vrymoedigheid het om met mekaar oor julle probleme te praat. As julle mekaar se beste vriende en vertrouelinge bly, sal dit nie nodig wees om dit op ander plekke te probeer vind nie.

8. Kweek ‘n gesonde selfbeeld

Wees bewus van jou foute en tekortkominge, maar moet jouself nie afkraak nie. ‘n Swak selfbeeld kan tot allerlei verhoudingsprobleme aanleiding gee. Wees lief vir jouself. Skryf jou sonkolle (positiewe punte) en vrot kolle (negatiewe punte) neer. Laat jou maat dieselfde doen en bespreek dit dan. Fokus daarop om mekaar te verstaan, nie om mekaar te verander nie.

9. Identifiseer jou verwagtinge

Wat is julle verwagtinge van die verhouding? Bekyk elkeen van jou behoeftes krities en vra jouself af of dit realisties is. Ons kan soms geneig wees om deur ‘n rooskleurige bril na verhoudings om ons te kyk en ons het dikwels ‘n droombeeld van die “perfekte” verhouding. Daardie soort verhoudings bestaan net in boeke en flieks. ‘n Gelukkige huwelik beteken ook om sonder grimering met deurmekaar hare wakker te word en om soms die asblik te moet uitdra. Laat vaar dus jou onrealistiese verwagtinge.

10. Hou by gesonde roetines

Roetine raak soms vervelig, maar party gewoontes soos huisgodsdiens, saam eet aan tafel, en om byvoorbeeld Vrydagaande ‘n “date”-aand te hê, het baie voordele. Dit skep standvastigheid, voorspelbaarheid en goeie waardes.

Lees ook: 25 “Date” idees vir die wintermaande