Rabarber-en-haselneutkolwyntjies met botterkaramel-mascarpone

0
160
hazelnut.png

Muffinpanne is nie meer net vir muffins bak nie, maar vir pasteitjies, ’n hele ontbyt én selfs aandete.

Genoeg vir 12 kolwyntjies
Tyd: 1 uur 20 minute

BESTANDDELE

Geroosterde rabarber
500 g rabarber, in 5 cm-stukke gekap
100 g strooisuiker
60 ml heuning
1 vanieljepeul
30 ml sagte botter

Kolwyntjies
400 g suiker
3 groot eiers
125 ml melk
190 ml karringmelk
170 ml olie
15 ml vanielje-ekstrak
2,5 ml sout
270 g koekmeel
15 ml bakpoeier
2,5 ml koeksoda
170 ml haselneute

Botterkaramel
110 g botter
200 g melasse-suiker (treacle sugar)
170 ml vars room
250 ml mascarponekaas, by kamertemperatuur

METODE
1. Stel die oond op 180 °C.
2. Meng die rabarber, strooisuiker, heuning, vanieljepeul en botter in ’n oondvaste bak. Bak tot sag en glansend, ongeveer 10-15 minute. Haal uit oond en laat heeltemal afkoel.
3. Vir die kolwyntjies: Klop die suiker en eiers saam tot lig en donserig. Klop die melk, karringmelk, olie en vanielje-ekstrak by.
4. Sif die sout, meel, bakpoeier en koeksoda saam, voeg by die nat bestanddele en meng goed.
5. Kap ongeveer driekwart van die geroosterde rabarber en vou dit in die koekbeslag, saam met die haselneute. Hou die res van die rabarber eenkant.
6. Smeer ’n muffinpan met 12 holtes liggies en skep die beslag daarin. Bak tot ’n toetspen wat in die middel ingesteek word, skoon uitkom, ongeveer 15-20 minute.
7. Vir die botterkaramel: Verhit die botter en melasse-suiker liggies in ’n kastrol tot die suiker opgelos het. Voeg die room by en laat liggies vir ’n paar minute kook tot dik en goudkleurig. Verwyder van die hitte en laat heeltemal afkoel. Vou dit dan liggies by die mascarpone in om ’n rimpeleffek te vorm.
8. Smeer die botterkaramel bo-oor die kolwyntjies en sit voor met die oorblywende geroosterde rabarber.

Deur Illanique van aswegen. Foto: Adel Ferreira