Daag net op, jy is reeds ‘n wenner

Kyk, om deeltyds te studeer, heeldag te werk en ook nog jou huis en huwelik aan die gang te hou is glad nie kinderspeletjies nie.

Telkemale wanneer eksamentyd aangebreek het, het ek gewonder of dit enigsens die moeite werd was om op te daag vir my eksamen. Ten spyte van hoe baie (of min) tyd ek ingesit het om myself voor te berei, het ek altyd gewonder hoe ek sou slaag terwyl ek terselfde tyd soveel ander balle in die lug probeer hou het…

Die realiteit is, as jy nie opdaag vir jou eksamen nie, gaan jy definitief nie slaag nie. Indien jy wel opdaag, voorbereid of nie, staan jy wel die kans – al is dit naelskraap.

Dieselfde is van toepassing in verskillende areas van ons lewens. Ons laat toe dat onsekerheid ons doodloop straat is. Ons is so onseker oor onsself en of ons ‘n sukses van ‘n verhouding of besigheidsgeleentheid gaan maak dat ons liewer “nee dankie” se nog voordat ons probeer het. Jy sien, die teleurstelling wanneer ons misluk is so groot dat ons liewer heeltemal dit sal wil vermy. Ons sien net ‘n atleet oor die wenstreep gaan, maar vergeet van elke oggend se vroeg opstaan, harde oefen en beserings wat hy oorkom. Elke keer wanneer sy voet struikel staan hy op en probeer hy weer.

Vandag daag ek jou uit om geleenthede aan te gryp met altwee hande. Sien die teleurstellings van die verlede as ‘n leerskool, probeer weer, gee jou beste. Hy wat binne jou is, is sterkter as hy wat in die wêreld is. Jy het hierdie een lewe, leef dit, geniet dit. Kyk die uitdagings vierkantig in die oë. Jy is hier om te wen!